Matteus 16:21-28 – 30 Augustus

Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Lees die fokusteks in die Nuwe Testament vir kinders. Voltooi die sleutelwoorde om die groot geheim van die fokusteks te ontdek wanneer jy glo (vers 25). In ons teks kondig Jesus aan wat vir Hom voorlê in Jerusalem. Daar wag groot lyding, dood en opwekking op die derde dag. Jesus se onthulling dui op die vervulling van die eeue-oue profesie van ‘n Messias wat as ‘n dienskneg kom en wat sou ly (Jesaja 53); asook van die gryse Simeon dat die Christuskind wat hy in sy arms hou bestem is tot die val en opstanding van baie in Israel en ‘n teken wat weerstaan sou word (Lukas 2:34-35). In die lig van hierdie teks is geloof nie maar net om te erken dat God bestaan nie. Geloof is ‘n verbintenis aan Jesus die gekruisigde en opgestane Here. Dit is om af te sien van enige poging om die kruis uit sy sentrale plek te skuif en met iets anders te vervang. Positief is geloof om die gedagtes van Jesus te dink, om aan God se kant van diens en selfprysgawe te wees, om aan Christus se dienswerk deel te neem met elke gedagte en elke daad. Om onder die kruis wat jy opgeneem het te leef, beteken om te groei in Christus se volledige JA aan God se wil en Christus se volledige NEE vir die sonde. Dit is om daagliks op Christus se manier te lewe, deur die lewe te vind deur dit te verloor. Niks, nie eers ons pogings om die wêreld vir God te wen, kan Christus se volgelinge wegtrek van ons verbintenis aan Christus deur die kruis nie. Dit is deur die kruis op te neem, jou lewe te verloor, weg te gee in diens van God en ander, dat mens geskik raak om Christus te dien en in Christus se Naam te bedien. Dit is hoe aktiewe dissipelskap lyk.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 124 – 23 Augustus

Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Vir Familietyd sluit aan by kinders wat graag voëls in wippe probeer vang. Illustreer so ‘n wip. Verduidelik dan dat vandag se Psalm sê dat God ons bevry soos ‘n voël wat uit ‘n wip kom. Dat ‘n mens soms bang is, maar dat God ons betyds red. Die preekriglyn begin met die besondere geleentheid wat hierdie Psalm gesing is toe ‘n Skots-Presbiteriaanse predikant, John Durie, uitgesproke in sy kritiek op die koning en op prominente kerkleiers, na gevangeneming vrygelaat is. Durie, ‘n aanhanger van die Skotse Kerkhervormer, John Knox, is deur 200 vriende ontmoet en terug in Edinburgh in begelei. Die groep het aangegroei tot ‘n skare van ‘n paar duisend, wat begin het om Psalm 124 te sing: “As die Here ons nie gehelp het nie, dit moet Israel bely, as die Here ons nie gehelp het nie ….” Die vierstemmige sang van die groep was iets besonders. Die groep is self diep ontroer, met toeskouers wat ook meegevoer is. Van een van Durie se hoofvervolgers is gesê dat hy die sang van Psalm 124 by hierdie geleentheid meer gevrees het as enigiets anders wat hy ooit in Skotland aanskou het. Dit is een van die vreugdes van die lees van die Psalms om jou te probeer indink in die omstandighede waarin dit die eerste keer gesing is.  Want dit gee jou ‘n beter idee van hoe dit ook op jou eie lewe van toepassing is. Dit is wat Psalm 124 wil doen: ons in ‘n moeilike tyd opbeur, ons leer om die taal van lof en dank weer te gebruik.

Laai af: Word – PowerPoint

Genesis 45:1-15 – 16 Augustus

Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Dit gebeur maklik in enige huishouding dat een van die kinders dink dat van die ander voorgetrek word. Gesels met die kinders hieroor en probeer hulle spontane reaksie ontlok. Gebruik hierdie bekende situasie kreatief  om die gemeente deur die kinders se reaksie in die teks in te lei. Mens sou dink Josef was nog kwaad vir sy broers… hulle het hom dan destyds verkoop as ‘n slaaf. En nooit het hulle geweet Josef sou uiteindelik in Egipte by die koning tot groot hoogtes uitstyg nie. In vandag se fokusteks doen Josef die ongelooflike… hy verwyt nie sy broers nie maar omhels hulle. Hy neem nie wraak nie. Mag ek en jy dit ook regkry om so te kan vergewe wanneer ander ons te na kom. Mag ek en jy dit ook regkry om God se werk in ons lewens raak te sien. Die preekriglyn sluit aan by die feit dat die Bybel mense se verhale gebruik om ons oor die lewe te leer en hoe om ‘n pad saam met God te loop. Josef se verhaal in Genesis is een so ‘n verhaal. Om die waarheid te sê, dit is ‘n verhaal met soveel lewenswysheid dat party geleerdes dink dat dit eintlik deel van die Wysheidsliteratuur moet wees. Dit is bedoel om mense oor die lewe te onderrig en te help verstaan wat die sin is van alles wat met hulle gebeur. Josef se lewe het diep donker tye gehad. In ‘n put, versaak deur sy broers. As ‘n slaaf, wat onregverdig in die tronk gegooi word. Wat ‘n pad saam met God stap, maar twee jaar lank vergeet die skinker wat hy met God se hulp gehelp het hom. In Egipte, ná die vet jare, kom die droogte. En tog, wanneer Josef sy verhaal aan sy broers vertel, vertel hy dit as ‘n verhaal van oorwinning en vergifnis. Al die ellendes wat hy in sy lewe ondervind het, sien hy as die verskillende paaie wat hy saam met God gestap het op pad iewers heen, op pad na sy lewensdoel om lewens te red. God het ‘n pad en ‘n plan met Josef. Deur God se pad te onderskei en daarby aan te sluit, herskryf Josef telkens sy lewe – op die manier waarna hy op sy lewe terugkyk en die sin daarin raaksien. Dit is ‘n belangrike les om by Josef te leer … om terug te kyk op ons lewe en nie die slegte raak te sien nie. Om te besef dat die ellendes wat ons oorgekom het, deel was van ‘n pad waarop ons kon groei. Deur ellendes en swaarkry, is ons saam met God op pad. Eintlik sou ‘n mens dit só kon stel: Ons mag nie terugkyk op ons lewe en net die mislukkings en terugslae raaksien nie. As ons met God op pad is, is ons nie vasgevang in ons swaarkry nie. Ons is op pad. Nooit bly ons vasgevang nie. Want God is dáár, en God stap saam. Ons kan selfs die pyn wat ander mense ons aangedoen het oorkom en dit deel van ons en God se suksesverhaal maak. God beoordeel ons nie op die swakplekke van ons lewe nie. Daarom mag ons dit ook nie doen nie.

Laai af: Word – PowerPoint