Romeine 8:12-25 – 19 Julie

Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Gebruik die storie “I love you like crazy cakes” deur Rose A Lewis. Dit is die verhaal van ’n dogtertjie in ’n kinderhuis in China.  Sy het baie maatjies, maar nie ’n mamma nie.  Aan die ander kant van die wêreld was ’n vrou wat ook baie maatjies gehad het, maar nie ’n baba nie.  Daarom het sy vir die regering in China geskryf en gevra oor die dogtertjies in die kinderhuis.  Die regering het vir haar ’n foto gestuur en gesê sy kan die dogtertjie aanneem as sy belowe om baie goed vir haar te sorg.  Die vrou was baie opgewonde toe sy op die vliegtuig reis na China.  Uiteindelik in China aangekom, het sy haar nuwe dogtertjie ontmoet.  Sy het die dogtertjie op die bed in die hotel neergesit en net na haar gestaar.  “Hoe kan jy so perfek wees?” het sy gevra.  “I love you like crazy cakes.” Op die vlug terug huis toe het die dogtertjie op die stoel gestaan en vir die man agter haar geglimlag.  Uiteindelik by die huis aangekom, het al haar (nuwe) familie –  ouma en oupa en ooms en tannies – op die lughawe gewag om haar te verwelkom. Romeine 8:12-25 help ons met woordeskat om te praat oor ons belewenis van die wêreld. Dink net aan die “gesug” waarmee ons elke dag leef. Ons het in 2020 mense geword wat sug. Ons sug, want ons worstel met Covid-19, die klimaat en die politiek, met staatskaping, met werkloosheid en die ekonomie, met geweld en misdaad. Ons worstel ook met ons gesinslewens en huwelike. Ons worstel met die lewe!  Te midde van hierdie geworstel, ervaar ons dat die sekerhede waarmee ons grootgeword het, verdwyn het. Baie van ons het grootgeword in ‘n tyd toe leiers gepraat en ons dit sonder meer aanvaar het. So was dit ook in die kerk. As die dominee sê “So sê die Here, Here”, het ons dit aanvaar en daarvolgens gelewe. Vandag is ons eintlik net besoekers, reisigers op pad na ‘n toekoms wie weet waar. Koos du Plessis verwoord dit goed as hy skryf: “Elke dag is ‘n gedagte, elke kamer net gehuur. Elke aardse droom van rykdom en roem, net ‘n skadu teen die muur.” Ons as gelowiges sug ook. Die uitdagings van die wêreld, is ook gelowiges se uitdagings. Mense se stories, wat ons in die koerante lees, wat ons op die televisie sien, maak ons bang. Dit laat ons in ons dop inkruip, ons geloofsvoete sleep, want ons dink onsself die bangte in. Dit skep spanning. Aan die een kant vertrou ons die Here. Aan die ander kant sukkel ons daarmee en verloor ons geloofsenergie. Gevolglik vra ons maklik: Maar waar is God dan? Wat is die oplossing? Paulus antwoord ons in Romeine 8:12-25. Die wonderlike is God weet van ons gesug. God weet van ons swaarkry. God weet van ons moedeloosheid en hoop-loosheid. God weet waarmee ons elke dag worstel. God draai egter nooit sy rug op ons nie. Inteendeel, God se Gees sug saam met ons. Dit is so asof die Gees die sugte wat ons gee, onderstreep, beaam en sê: “Ja, dit is ongelukkig so!” Dit is egter terselfdertyd die begin van ‘n nuwe sug, ‘n sug van hoop!

Laai af: Word – PowerPoint

Romeine 8:1-11 – 12 Julie

Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Lees die teks uit ‘n kinder-vriendelike vertaling. Hoor by kinders wie van hulle weet wat “time out” is en hoe dit by hulle huise werk. Dit is wanneer jy stout is en iets verkeerd gedoen het, en jy moet vir ‘n rukkie lank in die hoek gaan staan of op ‘n spesifieke stoel gaan sit. Dit is glad nie lekker nie. Terwyl jy daar sit, moet jy dink aan jou verkeerde keuses en die gevolge daarvan. Vandag se teksgedeelte sê dat die Gees van Jesus ons vrygemaak het van sonde en straf. Dit is soos om vrygelaat te word van “time out”. Omdat ons vrygemaak is, maak ons beter keuses en probeer ons om minder sonde te doen. Die bekende teoloog en outeur van The Message, Eugene Peterson, het gesê: “The Christian life begins as a community that is gathered at the place of impossibility, the tomb.” Dit is ‘n goeie sleutel om oor die betekenis van ons teks na te dink. Kom ons maak dit prakties en dink oor onsself. Wat van jou? Was jy al ooit op ‘n plek van onmoontlikheid? Het jy al ooit in ‘n waas van hartseer by ‘n graf gestaan en gehoop dit is net ‘n nare droom? Het jy al ooit die stukkies van ‘n flenterhuwelik probeer aanmekaar las? Het jy al probeer om die horlosie terug te draai na ‘n tyd vóór daardie slegte keuses wat jou rebelse kind gemaak het? Dit is juis by so plek van onmoontlikheid, sê Peterson, waar die Christelike lewe begin, dáár waar mense op ‘n plek van onmoontlikheid versamel is — by die graf. Peterson praat natuurlik van die óóp graf van Christus. Daar het die onmoontlike inderdaad gebeur met Jesus se opwekking uit die dood. Dit is die einste plek waar Paulus wil hê ons by moet uitkom in Romeine 8:11. Dit is hiér waar God se herskeppingswerk deur Christus en die Heilige Gees begin.

Laai af: Word – PowerPoint

Matteus 11:16-19, 25-30 – 5 Julie

Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sermons4kids gebruik die beeld van ’n gewigopteller en ’n “spotter”.  Wanneer iemand gewigte optel, is daar altyd iemand by die gewigopteller se kop wat help om die gewig vas te hou en te lig.  Dit is hoe Jesus met ons maak. As jy ’n juk in die hande kan kry, kan jy die simboliek daarvan verduidelik. Ons teksgedeelte handel oor die reaksie van die mense van Jesus se tyd op Jesus se leer en werke. Tot nou het die Evangelie volgens Matteus vertel hoe Jesus die mense geleer het en hoe Jesus wonderwerke verrig het. Jesus het die mense op die berg geleer. Pas in die vorige hoofstukke lees ons die groot preek waarin Jesus sy dissipels uitstuur. Daarby het Jesus groot hoeveelhede wonderwerke in verskeie dorpe en plekke gedoen. In die hoofstukke wat op ons teks volg, blyk die weerstand en teenstand van die mense in Jesus se tyd teen sy bediening al hoe groter. Van nou af sal twyfel, kritiek en openlike kritiek teen Jesus en sy dissipels sterker groei. Ons word meegedeel dat wyse en verstandige mense, slim en geleerd (11:25) aanstoot neem aan Jesus en sy dissipels, hulle nie bekeer nie en daarmee toon dat hulle nie ore het om te hoor nie. In die mini-gelykenis speel kindertjies op die markplein. Die een klompie speel op die fluit en nooi die ander kinders om saam te dans. Hulle wil nie. Dan word ‘n treurliedjie gesing, maar die ander kinders wil nie huil nie. Wat presies in die spel gebeur word aan ons verbeelding oorgelaat. Dalk gaan dit oor twee groepe kinders. Die een groep wil speel, die ander glad nie. Of dalk is daar twee groepe kinders wat mekaar oor en weer uitnooi. Wie ook al nooi, die ander wil nie speel nie. Hierdie gelykenis verduidelik die reaksie van mense op die werke van God se boodskappers. Johannes die Doper het God se werk kom doen, maar mense verwerp hom. Hy het nie geëet en gedrink nie, en mense sê hy is van die duiwel besete.  Dan kom Jesus as gestuurde van God. Hy eet en drink, veral saam met tollenaars en sondaars, siekes wat die Here se genade nodig het. Van Hom sê mense Hy is ‘n vraat en wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.  Hoe God ook al mense uitnooi om deel te raak van God se werke, die mense is soos kinders op die markplein wat nie wil saamspeel nie. Hy bly eenkant sit, en voer allerhande redes aan waarom hulle nie kan deelneem nie. Hierdie gelykenis gaan dus oor die onboetvaardige reaksie op die boodskappers van God, Johannes, Jesus, en Jesus se dissipels.

Laai af: Word – PowerPoint