Genesis 32:22-31 – 2 Augustus

Negende Sondag in Koninkrykstyd

Gebruik die verhaal uit Philip de Vos se boek “Wolfgang Amadeus Muis” om te illustreer hoe God in die doop vir ons ’n nuwe naam gee. Kortweg gaan dit oor die Mamma Muis wat nie kon besluit wat sy haar jongste muisbaba moes noem nie, sy het ’n spesiale naam vir hom gesoek, want sy het geweet hy is bestem vir groot dinge en toe hoor sy oor die radio die naam Wolfgang Amadeus en besluit daar en dan om hom so te noem. En dit is wat God met ons doen – Hy gee ons ’n spesiale naam, want vir Hom is ons spesiaal. As oupa se tande dan eendag daar tussen die muise beland en Wolfgang Amadeus met ’n spyker daarteen slaan en dit maak musiek raak hy bekend as die musikaalste muis ooit en doen sy naam gestand. In vandag se fokusteks het God Jakob se naam verander omdat Hy nuwe planne met Jakob gehad het. Die boodskap van dié verhaal op verskeie vlakke: In die eerste plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief dat ons nie hoef staat te maak op ons eie vermoëns nie. God se teenwoordigheid met alles wat Hy tot sy beskikking het, is ook aan ons belowe. In die tweede plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief dat in ons worstelstryd met God se wil vir ons lewe, ons op sy uiteindelike seën kan staatmaak. Dit is so dat die verhaal ‘n mens diep laat nadink oor jou persoonlike ambisie en die drang tot selfverwesenliking en waar die grense lê tussen mens en mens en tussen mens en God. Maar die evangelie van Jakob se transformasie van bedrieër na begenadigde is dat God ons nie kies vir wie en wat ons is nie, maar vir wie en wat Hý van ons kan maak. Op ‘n derde vlak kan ons kennis neem van die parallelle wat daar tussen ons ervaring en Jakob s’n is. Calvyn het in sy kommentaar op Genesis ons versoekings met die worsteling van Jakob verbind. Versoekings, sê Calvyn, is nie net ‘n worsteling met jou eie begeertes en behoeftes en die verleiding van die wêreld nie, maar baie keer ‘n worsteling met God self en sy wil vir jou lewe. In ‘n sekere sin, sê Calvyn, veg God téén ons en vír ons. Hy maak ons sterker in dié ervarings wat voel asof God téén ons is, deurdat dit juis Hy is wat ons die krag gee om te kan oorwin: “For we do not fight against him, except by his own power, and with his own weapons; for he, having challenged us to this contest, at the same time furnishes us with means of resistance, so that he both fights against us and for us … in as much as he supplies us with more strength to resist than he employs in opposing us, we may truly and properly say, that he fights against us with his left hand, and for us with his right hand. For while he lightly opposes us, he supplies invincible strength whereby we overcome.” (John Calvin’s Commentaries on Genesis 24-50).

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui