Romeine 8:26-39 – 26 Julie

Agste Sondag in Koninkrykstyd

Bybel-Media se Woord en Fees stel voor dat jy ‘n duif vou om die kinders te herinner aan die Heilige Gees. Voorbeeld ingesluit. Of gesels oor die gedagte dat niks ons van die liefde van God kan skei nie.  Kinders kan voorbeelde noem van dinge wat hulle bang maak, en die liturg kan almal aanmekaar herinner dat niks ons van God kan skei nie.  Maak julle eie lys:  “Geen virus, of lockdown, of hartseer, of….. kan ons skei….” Kyk hoe lank julle die lys kan maak – en of almal elke keer al die dinge kan sê! Of vertel die storie of wys die video van die pragtige “Kissing hand” – ‘n klein wasbeer is bang, maar mamma wasbeer verduidelik hoe ‘n soen op ‘n hand is soos haar teenwoordigheid wat altyd by hom is.  Dit is ook ‘n oulike storie vir ‘n doopherinnering. Of die heerlike “Mama, do you love me?”, waarin ‘n kind vertel van allerhande dinge wat sy kan verkeerd doen (“What if I put salmon in your pockets?”) en vra of haar ma steeds vir haar sal lief wees.  ‘n Pragtige kort storie wat illustreer hoe niks ons van liefde kan skei nie. Die preekriglyn begin met die verhaal van die Noordwes Lugdiens se Vlug 225 wat neergestort het kort na dit op 16 Augustus 1987 in Detroit opgestyg het. Die dodetal was 155. Net een persoon, Cecilia, ouderdom 4, van Arizona het die ramp oorleef. Cecilia het oorleef omdat haar ma, Paula Chican, haar eie gordel losgemaak het toe die vliegtuig begin val, voor Cecilia gekniel en Cecilia omhels het. Niks kon Cecilia van haar ma se liefde skei nie, ook nie die oomblik van impak toe die straler in vlamme uitgebars het nie. Dit is hierdie soort liefde waarvan ons teks in die oortreffende trap vra: “Wie kan ons van die liefde van Christus skei?” Ons teks wil troos en ons gerusstel. Dit is nie ‘n wet of ‘n opdrag nie. Ons teks wil nie sê: “As julle …, dan sal God nie ….” Ons teks wil nie sê:  “Julle moet …, dan sal God …” nie. Nee, hierdie is nie ‘n oproep vir Christene tot getrouheid nie. Dit is wel ‘n troosvolle bevestiging van God se getrouheid, ongeag omstandighede of tekens van die teenoorgestelde. Ons lees hierdie teks in die baie moeilike tyd van Covid-19. Die eerste provinsies van ons land nader die pieke van infektering, en die lang skadu van Covid-19 val oor die ander. Ons word gekonfronteer met swak bestuur van die ekonomie en grootskaalse korrupsie in die privaat en publieke sektore. Dit is in hierdie omstandighede dat ons die woorde oor die triomfantelike liefde van Christus hoor. Paulus rig hierdie woorde aan ‘n gemeente wat dit nie altyd maklik gehad het nie. Hy verduidelik dat die klanke van God se verlossing en liefde vir sy gemeente ver buite die grense van die gemeente uitkring. Ja, God se werke is trouens vir die hele kosmos betekenisvol. God se troos aan gelowiges is: As God vir ons is, wie kan teen ons wees?

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui