Vertel dalk die breër verhaal van die manna en kwartels. Ons sluit prente in kleur en swart en wit in waarvan kinders hul eie boekie van die verhaal kan maak. Daar is ook skakels na video’s wat jy kan gebruik. Vir die preekriglyn moet jy oorweeg om verse 1 tot 21 as teksgedeelte te hanteer. Ons is tans in koninkrykstyd, dié periode van die kerkjaar waarin ons spesifiek nadink oor:
God se heerskappy en heerlikheid, en
Ons reaksie as dissipels van Jesus op God se onderhoudende teenwoordigheid in die lewe van God se volk.
Hierdie temas deursuur ons teksgedeelte. Kom ons stap deur ons teks en let op alles wat gebeur. Dit is ’n boodskap wat ons nodig het in die tyd van stroping wat ons tans beleef. Mag ons daarin die aanmoediging hoor om die Here in alles te vertrou.
Carolyn Brown stel voor dat jy ‘n sak vol munte/ albasters/ voorwerpe aan die eenkant maak, en slegs 1 objek (van dieselfde soort) aan die ander kant. Vertel nou die gelykenis/storie van Jesus. Die 2 persone in die storie se skuld kan vergelyk word met die 2 hoeveelhede wat jy saamgebring het. Die beginsel is dat Jesus ons leer om mense te vergewe wat ons te na kom. Eindig die gesprek met die Onse Vader waar pertinent na die vergewensgesindheid verwys word. ‘n Bekende prediker, Helmut Thielicke, het gesê die gevaarlike van oppervlakkige prediking en moralistiese praatjies oor die geestelike lewe is dat mense sal dink die evangelie wil van redelik ordentlike mense maar net nog ‘n bietjie méér ordentlik maak. Die goeie nuus van die evangelie is baie dieper as dit. Ons moet eerlik wees as ons daarna luister en die boodskap met ‘n oop gemoed ontvang. Wat sê die gelykenis vir ons? Dat vergewensgesindheid in die aard van God gewortel is. Matteus beskryf verlossing as ‘n daad van genade wat nie op die voorwaarde van goeie werke berus nie. Hierdie verlossing, wanneer dit eg is, produseer medelye en genade. Dit is soos God is: barmhartig. Daarom moet ons ook so wees. Ons moet mekaar van harte vergewe. Die “hart” is daardie plek van waar ons voel en dink en wat ons dade bepaal. Dít is waar diep vergifnis vandaan moet kom, van ‘n plek wat spreek van integriteit, sonder om agter ‘n valse front te skuil en bloot eie belange te dien.
John Stevens by dskidsermons.com sluit aan by Jesus se woorde: “waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Hy praat van die Amerikaanse “smores”. Dit is ‘n tradisionele kampvuur lekkerny. Jy maak ‘n “toebroodjie” van droë beskuitjies, met marshmallows en sjokolade binne-in. Dit word dan warm gemaak, om ‘n “smore” te maak. Stevens sê dat die beskuitjies, marshmallows en sjokolade lekker is, maar wanneer hulle saam is, is hulle beter. Dalk kan ‘n mens aan ‘n plaaslike ekwivalent dink? Stevens stel ook voor dat jy oorpluisies (ear plugs) gebruik – die soort wat klank uit jou ore uithou. As julle persoonlik ontmoet, kan jy vrae vra met pluisies in jou ore. Jy kan hulle nie hoor nie! Liefde is om na mekaar te luister. Carolyn Brown stel voor dat jy Charlotte Zolotow se “The Hating Book” lees. “[It] tells of a little girl whose best friend has suddenly dropped her. The girl is very angry, but finally at her mother’s repeated urging, she goes to talk with the friend and discovers that there has been a big misunderstanding that is easily reconciled.” Jy kan die hele storie in ongeveer 3 minute lees. Preekriglyn: Konflik in die kerk. Dit klink na ‘n teenstrydigheid. Die kerk is tog ‘n plek waar vrede en harmonie is. Tog is (en was) dit nog nooit die geval nie. Die kerk is ‘n gemeenskap van mense. En mense maak mekaar seer. Indien ons dink daar moet te alle tye net vrede en harmonie in die kerk wees, vee ons maklik konflik onder die mat in. Juis dit benadeel verhoudings en maak dat vrede en harmonie moeilik bereik word. Die konflik waaroor dit in Matteus 18:15-20 gaan, ontstaan wanneer iemand ervaar ‘n medegelowige het iets teen hom of haar verkeerd gedoen. Hierdie persoon word opgeroep om die saak nie onder die mat in te vee nie, maar te gaan praat met die skuldige broer of suster. Indien die skuldige nie wil saamwerk nie, moet daar een of twee lede van die gemeenskap saamgeneem word (vgl Deut 19:15; 2 Kor 13:1; 1 Tim 5:19). As dit nie help nie, moet die saak onder die aandag van die hele gemeenskap gebring word en moet almal — nie net die benadeelde persoon nie — die oortreder “soos ‘n buitestander” hanteer. Maar, Calvyn het oor hierdie gedeelte gesê ons moet baie versigtig te werk gaan. Ons moet onthou waaroor dit gaan …