Josua 24:1-3a, 14-25 – 8 November
Drie en twintigste Sondag in Koninkrykstyd
Hierdie teks help kinders om te begin verstaan dat ’n mens keuses maak in die lewe, en dat die keuses gevolge het. Berei vooraf twee blikkies voor deur die etikette van ‘n blikkie boontjies (of iets waarvan kinders nie sal hou nie) en ‘n blikkie ingelegde vrugte (of iets wat kinders sal geniet) om te ruil. Nooi twee kinders vorentoe en laat een van hulle kies watter blikkie hulle wil hê. Wanneer die blikkie oopgemaak word, moet albei eet wat hulle gekry het – hul keuses het gevolge. Vertel dan die verhaal van die teksgedeelte dramaties en wys uit hoe Josua hulle waarsku dat hulle nie maar in die land kan gaan doen wat ander mense doen nie, en dan dink hulle kan steeds God se mense bly nie. In die preekriglyn vertel Annes Nel hoe hy onthou die eerste keer toe hy Namibië binnegekom het. “Na sowat 740 km staan hierdie padteken langs die pad: ‘Windhoek 810 km.’ Dit het my moed gebreek.” Soms bemoedig padtekens mens weer, veral hoe nader jou bestemming kom. Padtekens is baie belangrik. Dit help ons om te weet of ons moet stop of ry, mag verbygaan of nie en hoe ver die volgende bestemming is. Die verhaal van Israel is vol sulke padtekens: Abraham, Isak, Jakob, Josef, Egipte, die uittog, die woestyntyd en die intog. Nou is dit asof die groot bord voor hulle staan: “Bestemming bereik! Julle pad van swerftog het aan ‘n einde gekom.” Dit is egter nie net ‘n bestemming wat bereik is nie. Dit is ‘n uitnodiging om die voetspore van God in hulle reis tot hier, in hul geskiedenis te sien. Dit is om hulle bewus te maak dat hulle ‘n lewende, kragtige en wonderlike God aanbid. Dit het lank geneem — geslagte — maar God het gedoen wat Hy belowe het. Miskien is dit nou ook tyd om te dink oor die voetspore van God in ons lewe. Ons kan die tye onthou toe ons in donker plekke was en God ons opgetel en uitgelig het. Ons kan ‘n siekte onthou en hoe die Here ons genees het. Ons kan sonde onthou wat ons gepleeg het, die pyn wat ons veroorsaak het en hoe die wonderlike boodskap van God se vergifnis ons harte warm gemaak het. Dit is voetstappe van die genadige, liefdevolle God wat omgee.