Johannes 1:1-14 – 25 Desember
Kersfees
Betrek die kinders by die verwelkoming en/of gebruik hulle met die aansteek van die kerse en die voorlesings. Sally Lloyd Jones se “Song of the Stars” is perfek by vandag se diens. Daar is ‘n skakel na ‘n video daarvan ingesluit. Met Kerstyd lees ons gewoonlik die verhale oor die baba Jesus, die engele, skaapwagters en wyse manne uit die Ooste. Dit is wonderlike, betowerende verhale. Tydloos. Die Johannesevangelie trek in sy inleiding egter as’t ware die gordyn weg en wys vir ons die geweldige betekenis van hierdie verhale. God is aan die werk. Die Lig kom na die wêreld. Die Skepper bring verlossing, die Herskepper besoek sy skepping. Johannes gaan dus terug agter die “begin” van die skeppingsverhaal. Genesis begin “by”, “met” of “in” die “begin”. Johannes gaan terug na die begin waar slegs God bestaan het. In hierdie begin was die Woord by God, en deur die Woord het alles wat geskep is, ontstaan of begin. Dit is die ware boodskap van Kersfees. In die baba Jesus, die Een wat sou opgroei en ons van God leer, die Een wat vir ons verlossing gebring het en namens ons uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel, is niemand anders as God wat in ons woonbuurt aangekom het nie. Dit is ‘n misterie en ‘n wonder. Niks kan ons van hierdie liefde skei nie. Met Kersfees verander alles. Daar is hoop. Hierin kan ons ons in die Kerstyd verlustig.