Jesaja 61:1-4, 8-11 – 13 Desember
Derde Sondag van Advent
Op die derde Sondag in Advent word die derde Adventskrans, wat vreugde simboliseer, aangesteek. Vir Familietyd kan jy die metafoor gebruik van ‘n potplant waarvan die blare hang. Wanneer ‘n mens water daaroor gooi, is dit sommer gou weer regop en mooi en lewendig. Op dieselfde manier gee die Gees van die Here vir ons nuwe krag en moed. Vers 3 van Jesaja 61 se simboliek sluit hierby aan. Die Here verander die verslae volk in: “Terebinte van Geregtigheid, geplant deur die Here om Hom te verheerlik.” Baie engelse vertalings vertaal mooi: “a crown of beauty instead of ashes.” ‘n Mens kan lekker daarby aansluit. Dit gee ‘n goeie oorgang na die preek. Goeie nuus in ons tyd is nogal skaars. En dié wat daar is, hou gewoonlik nie lank nie. Dit waai gou oor en al die slegte nuus oorspoel ons weer. Israel het ín die ballingskap na goeie nuus gesmag. Hulle was platgeslaan deur aanhoudende slegte nuus. Maar dan klink hierdie verrassende lied in Jesaja 61 op. Dit is goeie nuus wat van God self af kom. Dit is ‘n woord vir gebrokenes van hart. God sien die gebrokenes raak. Hy verstaan hulle. Hy bring vrylating vir die gevangenes. Hulle ontvang selfs ‘n nuwe naam: bome van redding. Dis ‘n beeld vir stabiliteit, vitaliteit en betroubaarheid. Gelowiges is die Here se dienaars wat bouend, helend en genesend in die samelewing moet werk. God se nuwe wêreld moet in nuwe mense, nuwe verhoudings en nuwe strukture sigbaar word. As ons dié goeie nuus gehoor het – góéd gehoor en ons eie gemaak het – het ons alles wat nodig is om getroos te lewe en te sterwe. Dan het ons ‘n geseënde Kersfees gehad!