Psalm 62:6-13 – 24 Januarie
Derde Sondag ná Epifanie
Vra die kinders wat die belangrikste dinge is wat ’n mens nodig het as jy ’n veilige fort in die speletjie Minecraft wil bou. Watter dinge laat hulle veilig voel? Vat jou kussing, ’n kombers en monstergif (’n spuitbottel met water en ’n prentjie van ’n monster waaroor ’n kruis getrek is daarop) saam. Vra vir die kinders wat ’n mens nodig het om lekker te slaap. Vra hulle verder uit totdat julle by die feit kom dat jy net lekker kan slaap as jy nie bang is nie. Psalm 62 sluit aan by die tyd ná Epifanie waarin die kerk besin oor ons wandel met God in die lig van Jesus Christus se koms en daaglikse teenwoordigheid by ons. In die psalms gaan dit juis oor die uitreik na God om in ‘n lewende verhouding met Hom te leef en oor die versekering dat God ons vashou sodat ons aan Hom kan vashou. God se teenwoordigheid in die psalms vind sy vervulling en hoogtepunt in Jesus se koms na ons toe. Psalm 62 raak ‘n sentrale tema van die menslike lewe aan, naamlik geborgenheid te midde van ‘n wêreld vol lyding. Te midde van die afwaartse spiraal van geweld, onreg en rusteloosheid, is God ‘n veilige staanplek. Dit sluit aan by Jesus se uitnodiging in Matteus 11:28-29: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”