Lukas 24:36b-48 – 18 April

Derde Sondag in Paastyd

Gesels met die kinders oor hulle vrese in die nag. Dit gee jou ‘n goeie aanknopingspunt om oor Jesus se verskynings en die gawe van die Heilige Gees te gesels en die vrede wat dit vir ons bring. Jesus is altyd by ons, daarom hoef ons nie bang te wees nie. Ons teks vertel van die laaste van Jesus se drie opstandingsverskynings in Lukas. Al drie episodes, soos vroeër in Lukas, stel die noodsaaklikheid van Jesus se lyding en sterwe duidelik. Jesus se lyding en sterwe word telkens met “dit moet” verduidelik. Dit is ‘n Goddelike “moet”. Die opstanding volg op Jesus se lyding en sterwe. Dít is God se reddingsplan, nie iets anders nie. Jesus red ons omdat Jesus moes ly, sterf en opstaan uit die dood – ter wille van ons. “Onthou my wonde,” sê Jesus, “en raak daaraan …” Uit hierdie wonde kom daar vir ons genesing. Die afgelope jaar het ons met Covid-19 soveel wonde gesien. Mense het hulle lewens verloor. Ander het hulle werk verloor. Baie het ernstig siek geword en swaar gely. Talle het ernstige mediese nagevolge en sukkel om van die effekte van Covid-19 ontslae te raak. Jesus se wonde bring genesing. As ons ons identifiseer met Jesus se wonde en oor sy offer ter wille van die wêreld getuig, kom daar genesing. Hierdie getuienis kom deur woord en dade. Dink aan die pragtige getuienis oor ‘n bejaarde Italiaanse priester wat sy respirator afgestaan het aan ‘n jong Covid-19-pasiënt en later self gesterf het – moderne voorbeelde van die lyding van gelowiges wat saad vir die evangelie geword het.

Laai af: WordPowerPoint

Opmerking

  • Baie dankie vir hierdie waardevolle weeklikse riglyne.

    Ek vind veral die Explicatio baie goed. Die Applicatio sal om verstaanbare redes dikwels verskil binne die konteks van ‘n gemeente.

    Nogmaals baie dankie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui