Esegiël 37:1-14 – 23 Mei
Pinksterfees
Ons hou daarvan om op Pinkstersondag die uitstorting van die Gees met vlamme uit te beeld, soos met hierdie lekker aktiwiteit waar kinders krone met vlamme maak. Vanjaar is egter ‘n goeie geleentheid om op die wind-simboliek te fokus. Kyk by Daniellesplace vir baie oulike idees. Vir vanjaar hou ek veral van die wind en vuur streamers idee. Sny vooraf repe kreukelpapier – rooi en geel vir vlamme en blou en wit vir wind. Laat kinders 4 blou/wit of rooi/geel repe aan ‘n stokkie vasmaak. Terwyl julle sing, kan hulle dan hul stokkies swaai. Of hier is ‘n patroon vir ‘n papier windmeul met prentjies van vlamme en duiwe op. Daar is nog talle ander voorstelle ingesluit. Vir die preekriglyn sluit ons uiteraard by Pinksterdag aan. Ons vier immers die uitstorting van die lewendmakende Heilige Gees. Pinksterdag is eintlik die geboortedatum van die kerk. Dit is immers die Gees, wat reeds met die skepping lewegewend oor die waters gesweef het, wat die kerk skep. Dit is die Gees wat gelowiges bemagtig om God se kerk te wees. Die Gees vul ons met krag. Sonder die Gees – hoor ons in vandag se teks – is daar net droë bene. Dit is presies die toestand waarin ons die Ou Testamentiese volk van God in Esegiël 37 ontmoet: in ballingskap, geestelik gesproke ʼn vallei vol doodsbeendere. Daar is in groot dele van die wêreld en selfs kerke weinig meer oor as net droë bene van wanhoop. Net God kan dié situasie omdraai. ‘n Voëlvlug oor die historiese verloop van die ballingskap en Israel se terugkeer, maak die hand van God daarin sigbaar. God bring nuwe lewe in morsdooie beendere omdat Hy kan en wil. Ongeag die moegheid en doodsheid van die wêreld, stu God se liefdevolle heilswerk voort.