1 Samuel 8:4-11, (12-15) 16-20 (11:14-15) – 6 Junie

2de Sondag van Koninkrykstyd

Bybel-Media se Woord en Fees gee ‘n voorbeeld van ‘n dramatiese teksvoorlesing wat jy kan gebruik. Daar is ook oulike voorstelle om kinders te help om die konsep van ‘n koning te verstaan. Twee stories kan jou daarmee help. “No” deur Claudia Reuda gaan oor ‘n beertjie wat nie “nee” vir ‘n antwoord wou aanvaar nie en opsluit in die winter wou uitgaan. Enige storie oor iemand wat “nee” sê – en die gevolge van nie na die “nee” luister nie – kan goed werk.  The Mixed Up Chameleon gaan oor ‘n verkleurmannetjie wat soos al die ander diere wil wees – en op die ou end nie ‘n vlieg kan vang nie. Carolyn Brown verbind dit aan die Israeliete wat soos al die ander volke rondom hulle wil wees. Sy stel ook voor dat jy die geleentheid gebruik om vir verskillende soorte leiers te bid. Die preekriglyn sluit aan by die feit dat publieke leierskap dikwels ‘n ramp is. Jy kan maar enige Suid-Afrikaner daaroor uitvra. Dis nie net van ons land waar nie. Selfs in Europa word staatshoofde by ongerymdhede betrek en beland in diep moeilikheid. Dieselfde geld die VSA en ander sg. ontwikkelde lande. Ons teks is ‘n eerlike blik op leierskap. Dit praat met elkeen van ons, want ons is ook leiers: by ons werkplekke, in ons families, vriendekringe, sportklubs, of selfs in ons woonbuurte. Ons gedrag het gevolge vir ander. Daarom is ons leiers, nie in die minste nie van onsself en ons eie optrede. Opvallend is die Bybel baie realisties oor leierskap en ook genuanseerd. Die Bybel – en hierdie teks – is eerlik en allesbehalwe naïef oor leierskap. In ons teks ontmoet ons die groot eksperiment in die vroeë lewe van Israel as ‘n volk. Ons staan hier by die begin van die era van konings in Israel. Ons teks is nie tevrede om ‘n eendimensionele storie van sukses of mislukking te vertel nie. Die oorgang van gesag van een bedeling na ‘n ander is kompleks en loop net so maklik beide op mislukking en sukses uit. Niks is ooit eenvoudig nie. Uiteindelik sou Jesus vir ons kom demonstreer hoe ware leierskap lyk.

Laai af: WordPowerPoint

Comments (3)

  • Goeie more, Ek het nou die preekstudie gelees, maar ek het n vraag:
    Hier word baie klem gelê op Samuel se onwilligheid, en sy weerstand, en aan die ander kant die volk se versoek om n koning, om stabiliteit, ens.
    Maar wat van vers 7 en 8? Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. 8 Dit stem ooreen met al die dade wat hulle gedoen het, van die dag dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe: Hulle het My verlaat en ander gode gedien. Presies so maak hulle nou ook met jou.

    Hoekom word daar geen aandag gegee aan die verkeerde gesindheid van die volk nie?
    Gaan dit regtig net oor stabiliteit?
    Was die volk regtig so reg en Samuel so verkeerd?

  • Hallo Hennie, ek dink mens kan beslis ook aandag gee aan die volk wat “soos die nasies” wil wees en ‘n koning hê. Dit is inderdaad ‘n verwerping van die Here self, soos wat in verse 7-8 staan. Die tema “soos die nasies” speel verder uit in die boek, en speel bv ook ‘n rol wanneer die konfrontasie rondom Goliat (‘n volgende Sondag se tekskeuse) op die tafel kom. Een van die temas is beslis wat Israel se identiteit stempel – om “soos die nasies” te wees of om God as Koning te hê, om hul mag en voortbestaan te soek in die dien van die Here, of om na konvensionele, militêre mag van ‘n koning “soos die nasies” s’n as bron van sekuriteit te sien. Hierdie preekvoorstel wil in nie sê die volk was “net” reg nie. Elke preekvoorstel kies ‘n bepaalde eksegetiese lyn – mens kan nie alles sê nie, en so ‘n lyn kan net so ‘n konstruktiewe ontginning van die teks wees. Kyk ook na die volgende preekvoorstel wat oor Saul, Dawid en Goliat gaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui