Jakobus 3:1-12 – 12 September

16de Sondag van Koninkrykstyd

Dirkie Smit vertel in sy boek Wat sien ons in die spieël? die volgende storie: ‘n Vrou het by ‘n wyse man om raad gaan aanklop. Sy wou graag iets wat sy gesê het, ongedaan maak. Eers, het hy geantwoord, sal sy moet teruggaan, ‘n sak vol hoendervere neem, dit in die wind uitstrooi, en dan na hom terugkom. So gesê, so gedaan. Met haar terugkeer sê hy sy moet wéér teruggaan, elke veer gaan soek en dit in die sak terugsit, en dan weer na hom kom. Toe sy sê dit is tog onmoontlik omdat die wind dit teen daardie tyd al die wêreld vol gewaai het, was sy antwoord: “Net so onmoontlik is dit jou – vir enigeen – om die gevolge van wat jy gesê het, ongedaan te maak.” Dalk kan die liturg so ‘n verhaal lewendig maak deur dit vir kinders te illustreer met vere en ‘n sak. Die preekriglyn fokus op hoe belangrik dit is dat gelowiges hulle tong onder beheer moet kry. Wat ‘n gelowige menses sê, is van die grootste belang. Wat ons sê, die woorde wat ons uiter, is deel van die werke van ons geloof, dit is deel van die dade waarsonder geloof waardeloos is. Praat is dus vir Jakobus nie neutraal nie. Hy is diep besorg oor woorde wat selfsug en jaloesie uitdruk, die ander skade aandoen en selfs gewelddadig is.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui