2 Samuel 23:1-7 – 21 November

26ste Sondag van Koninkrykstyd Christus die Koning-feesdiens

Op hierdie Sondag van Christus die Koning (wat regeer) suggereer Carolyn Brown dat die Apostoliese Geloofsbelydenis se gedeelte wat spesifiek oor Jesus handel vir die kinders vereenvoudig aangebied word. Meer inligting ingesluit. Die fokusteks gee die laaste woorde van Dawid weer, net soos dit met Moses die geval was (Deut. 32-33). Hierdie laaste woorde is veral gemik op die vestiging van sy koningskap vir altyd. Sy laaste woorde het hier minder met die verlede te doen en eerder met die toekoms. Let op hoe Dawid klem lê op die status wat God aan hom verleen het, dat hy die gesalfde van God is, en daarom die geliefde van die liedere van Israel. Sy status onder die volk het van God self af gekom. Dawid erken ook die deurlopende begeleiding van die Gees van die Here. Die dinge wat hy gesê en geskryf het, het van God self af gekom. Dit was die Gees se woorde op sy tong. Die inhoud van daardie spreke wentel hier om God se regverdigheid wat Hy deur Dawid in Israel wou vestig. Waar die koning God se regverdigheid gehandhaaf het, was hy soos die môrelig teen sonop op ‘n wolklose oggend; of soos die helderheid wat die reën bring, en groen gras uit die aarde laat spruit. Dit bring Dawid by die wonder van die ewige verbond wat God met hom gevestig het en waarvoor die Here hom ook beskerm het. Hy het die skurke almal soos dorings uitmekaar gewaai heeltemal verbrand. Maar, hierdie gedeelte fokus uiteindelik meer op die openbaring wat Dawid van God ontvang het as op Dawid se laaste woorde self. Dawid is merendeel aan die woord, maar in die tweede deel van vers 3 word God se direkte woorde aangehaal. Dit help ons besef dat ons nie mismoedig en uitgebrand te voel oor ‘n groot taak wat voorlê nie, beangs te wees oor ons eie foute nie of ‘n grootkop te kry oor hoe spesiaal ons elkeen is nie. Al wat ons moet en kan doen, is om tot die beste van ons vermoë met ons gebroke spieëls – soos ‘n Dawid – die heerlikheid van God se koninkryk te weerkaats. Ons kan hierdie taak met nederigheid en vrymoedigheid aanpak in die wete dat ons dit nie alleen doen nie. Die Gees is altyd met ons – nie net om ons in ons taak by te staan nie, maar om ons te herinner aan God se ewige verbintenis met elkeen van ons.

Laai af: Word – PowerPoint

365 beloftes

Ek nooi jou uit om die volgende jaar te fokus op God se beloftes in die Bybel. Ek het 365 beloftes gekies vir elke dag van die week. Dit sluit aan by die kerkjaar (RCL) sowel as by ‘n wye reeks behoeftes, algemeen en persoonlik. Ek stuur elke dag vanaf 22 November 2021 die teks van die belofte met ‘n kort oordenking en ‘n skakel na verdere leeswerk via bybelskool.com sowel as Whatsapp. Jy kan vir een of beide inteken. Dit is gratis.

Laat Jesaja jou motiveer om die Here elke dag te herinner aan sy beloftes: “Gun julleself geen rus nie! Gun Hom ook geen rus nie!” Totdat Hy antwoord en sy beloftes in jou en ander se lewens vervul (Jes 62:6-7).

Gebruik hierdie skakel om deel van die WhatsApp groep te word.

Daarmee gee jy my verlof om boodskappe aan jou per WhatsApp te stuur. Dit sal net ek wees wat op hierdie groep bydraes lewer. Jy kan egter direk boodskappe aan my stuur met opmerkings of vrae. Ek sal ook direk reageer na jou toe.

Vorige boodskappe kan hier gelees word.

OPDATERING

Die eerste WhatsApp groep is reeds vol. Jy kan egter nou by Whatsapp groep 2 aansluit met hierdie skakel:

https://chat.whatsapp.com/GEhS1bGuJ0LHylbHxKTJ5z

Chris van Wyk

1 Samuel 1:4-20 – 14 November

25ste Sondag van Koninkrykstyd

Lees bietjie oor die verskillende kommapunt-projekte. Die kommapunt is ‘n simbool wat sê die storie is nog nie verby nie. Ons elkeen se storie is nog nie verby nie. Wat ook al die dinge is wat ons moedeloos maak, daar is nie ‘n punt aan die einde van die storie nie; die kommapunt sê daar is hoop. Jy kan ‘n paar bladsye uit ‘n ou flenters storieboek om die punt te onderstreep dat ons nie die hele storie ken sonder al die bladsye nie. Die hooftema uit 1 Samuel 1 in die preekriglyn is God se sorg en ingryping. Ons lees in hierdie boek van ‘n volk wat hulpeloos en desperaat op uitkoms wag en op God om op te tree. In hierdie verhaal is die tema weer duidelik: God tree in ‘n hopelose situasie in. Hy gee uitkoms deur gehoor te gee aan ‘n onvrugbare vrou – en ‘n leier word vir Israel gebore. Die Here het dus nie net aan Hanna gedink nie, maar ook aan sy volk en wat Hy vir hulle beplan! Ons kleiner verhale – van kinderloosheid – is deel van God se groter verhale – van grootskaalse verandering. Daarom kan ons bid vir ons behoeftes. God sal dit antwoord binne die groter konteks van wat Hy met hierdie wêreld beoog. Mag ons mekaar herinner aan die hoop wat in elkeen van ons leef!

Laai af: Word – PowerPoint