Jakobus 3:13-4:3, 7-8a – 19 September
17de Sondag van Koninkrykstyd
As jy hou van “object lessons”, oorweeg gerus om ‘n borrel-blaas stelletjie te bring en borrels te blaas. Gesels oor hoe mens soms groot borrels blaas en soms klein borrels. Die truuk is – jy moet saggies blaas! Jakobus praat van “sagmoedige wysheid”. Laat kinders borrels stukkend slaan terwyl hulle gesels oor wat die teenoorgestelde van “sagmoedig” is. (Jakobus praat van afguns, selfsug, leuens, wanorde, gemene dade.) Verduidelik dan dat “sagmoedige wysheid” saggies is – dit baklei nie en soek nie skoor met mense nie (vredeliewend), is bedagsaam (laat kinders voorbeelde noem van wat bedagsaam is), moet nie altyd hul eie sin kry nie (inskiklik), gee om vir ander mense (vol deernis). In die preekriglyn word Jakobus se klem op die verband tussen geloof en dade as uitgangspunt geneem. Geloof wat nie deur dade bevestig word nie is dood. Hy reflekteer nou verder oor die feit dat ons dade ons geloofsuitsprake bevestig. Hy gooi dit oor die boeg van die praktiese uitlewing van wysheid wat van Bo kom. Eers skryf hy oor die wysheid self (3:13-18). Daarna roep hy die gelowiges op om die hemelse wysheid ten opsigte van die volgende sake prakties uit te leef: hulle houding teenoor besittings (4:1-3), onderwerping aan God (4:4-10), verhouding met medegelowiges (4:11-12), afhanklikheid van God (4:13-17), rykdom (5:1-6), die volhardende gewag op die Here se koms (5:7-11), integriteit (5:12), swaarkry en vreugde (5:13) en siekte en sonde (5:14-20).