Filippense 4:4-7 – 12 Desember

Derde Sondag van Advent

Hoe dapper is jy? Hier is ‘n video wat die verskil tussen “happiness” en “joy” verduidelik – of tussen blydskap en vreugde in die Here. Gebruik twee ballonne met gelukkige gesiggies op geteken. Een het bietjie water in. Gesels oor dinge wat ons bly maak. Wanneer slegte dinge gebeur, dan verdwyn die blydskap – hou die ballon oor ‘n kers. Ware vreugde kom van binne af. Dit is omdat ons weet ons is Jesus se kinders. Wanneer slegte dinge gebeur, selfs al is ons hartseer, gaan die vreugde nie weg nie. Hou die ballon met water bo die kers – die ballon bars nie. Soos verlede week reeds vermeld, is Paulus by die skryf hiervan in die tronk, waarskynlik in Rome. Paulus was rondom 61 tot 63 nC in die gevangenis in Rome. Die rede waarom Paulus die brief geskryf het, kon wees dat Epafroditus op die punt was om na sy tuisdorp, Filippi, terug te keer en dus as Paulus se boodskapper kon optree. Hy het vir Paulus nuus van die gemeente in Filippi gebring en was ook vir Paulus ten tyde van sy gevangenskap tot hulp. Paulus wou graag op die nuus reageer en die lidmate van die gemeente bedank vir hulle finansiële ondersteuning aan hom. As pastor wou hy hulle bemoedig om hulle Christelike eenheid en liefde te behou en daardeur die voorbeeld van nederigheid, wat Christus geopenbaar het, te volg. Dit was verder noodsaaklik om hulle te waarsku teen die moontlike bedreiging wat vals leraars inhou. Maar, die belangrikste ding wat hy wou oordra, is dat hulle blydskap moet hê.  En vir Paulus is die doeltreffendste manier om vrede en blydskap te kan hê deur gebed (4:6). Terwyl hy die ontvangers van sy brief oproep om bly te wees (4:4), inskiklik te wees (4:5) en nie besorg te wees nie (4:6), dring hy daarop aan dat hulle ook deur gebed ‘n band met die Here vorm. Deur hulle besorgdheid in die Here se hande te plaas, bring die soort vrede wat net van die Here af kan kom (Fil 4:7).

Laai af: Word – PowerPoint

Filippense 1:3-11 – 5 Desember

Tweede Sondag van Advent

Daar is ‘n aantal suggestie vir Familietyd beskikbaar van Under Construction Children’s Sermon | Sermons4Kids. Paulus skryf hierdie tronkbrief in samewerking met Timoteus. Die brief is gerig aan die eerste geloofsgemeenskap wat hy rondom 49-50 nC op Europese bodem in die stad Filippi gestig het (Hand 16:12-40). Vir ‘n brief uit die tronk is hier is ‘n merkwaardige klem op dankbaarheid, spesifiek wanneer Paulus aan die gemeente in Filippi dink. Paulus deel met die gemeente wat met hom gebeur wanneer hy aan hulle dink. Hy beklemtoon dat dit “elke keer” gebeur. Paulus dank God vir hulle. In vers 4 gaan hy voort met beklemtoning wanneer hy op sy gebedsreaksie uitbrei. Elke gebed vir hulle het altyd spesifieke eienskappe. Eerstens bid hy met blydskap oor wat hierdie gelowiges vir sy bediening in God se diens beteken het. In vers 6 skryf Paulus hy is oortuig, hy is verseker, dat God die Bron is waaruit hulle goeie werk in die evangelie-vennootskap voortspruit. God sal die goeie werk voltooi tot op die dag van Jesus Christus (2020-vertaling), of soos die 1983-vertaling sê: “die dag wanneer Christus Jesus kom.” In vers 9 gaan Paulus voort met die beskrywing van die inhoud van sy gebed vir die Filippense wanneer hy die gebed en die tema van die liefde verbind. Sy gebed is dat hulle liefde nie sal stagneer nie, maar in karakter sal groei. Hulle liefde moet voortdurend (aanhoudend of voortgaande) toeneem in kennis en insig, of soos die 1983-vertaling sê: “begrip en fyn aanvoeling.” In vers 10 motiveer Paulus waarom hy spesifiek bid dat hulle liefde in kennis en insig sal toeneem. Dit sal hulle toerus om die dinge te kan onderskei wat regtig belangrik is,”wat saak maak” (2020-vertaling); “waarop dit werklik aankom” (1983-vertaling); “things that are excellent” (KJV); “what is best” (NIV). Paulus betrek dan die toekomsperspektief van hierdie onderskeidende liefde op die dag van Christus. Die groeiende kennis en insig van die onderskeidende liefde sal bepaalde gevolge vir hulle inhou op die dag van Christus. Hulle sal innerlik suiwer en onberispelik wees (2020-vertaling); die 1983-vertaling praat van “onberispelik en sonder blaam”, en die KJV van “sincere and without offence”. Hulle sal met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus gevul wees (v 11, 2020-vertaling) en “geheel en al in die regte verhouding met God wees” (1983-vertaling). Daardeur sal God verheerlik en geloof word.

Laai af: Word – PowerPoint

Jeremia 33:14-16 – 28 November

Eerste Sondag van Advent

Verduidelik met Familietyd die konsep van Advent. Gesels oor al die afwagting-gebruike, soos die Adventkrans, adventkalender, ens. Gesels dan hoe ons voorberei op Jesus se koms. Dit gee ‘n goeie oorgang na die preekriglyn. Dit is die eerste Sondag van Advent, ‘n wonderlike tyd in die kerkjaar. In Advent vier ons die koms van die Messias op aarde. Die Seun van God word mens om ons lewens en ons wêreld te verander. In Advent sien ons verlangend uit na die finale koms van die Messias om alles nuut te maak. Advent is ‘n tyd van hoopvolle verwagting. Die eerste Sondag van Advent, vandag, staan trouens bekend as die Sondag van Hoop. Daar is min dinge wat ons in ‘n wêreld geteister deur Covid-19 en talle ander ellende so nodig het soos hoop. Ons het spesifiek hoop wat op vaste fondamente staan nodig. Dit is hoop wat net die Here kan bied. Soos Jeremia dit eenmaal tevore vir die volk in ballingskap gegee het. Juda se krisis was dat die verwoesting en ballingskap hulle verstaan van hul verhouding met God bedreig het. In hulle krisis help Jeremia hulle om weer hulle God nuut te ontdek en die Here se beloftes te omarm. ‘n Boodskap wat tot vandag toe weerklink en selfs vir ons hoop kan gee in ons eie krisisse.

Laai af: Word – PowerPoint