Filippense 4:4-7 – 12 Desember
Derde Sondag van Advent
Hoe dapper is jy? Hier is ‘n video wat die verskil tussen “happiness” en “joy” verduidelik – of tussen blydskap en vreugde in die Here. Gebruik twee ballonne met gelukkige gesiggies op geteken. Een het bietjie water in. Gesels oor dinge wat ons bly maak. Wanneer slegte dinge gebeur, dan verdwyn die blydskap – hou die ballon oor ‘n kers. Ware vreugde kom van binne af. Dit is omdat ons weet ons is Jesus se kinders. Wanneer slegte dinge gebeur, selfs al is ons hartseer, gaan die vreugde nie weg nie. Hou die ballon met water bo die kers – die ballon bars nie. Soos verlede week reeds vermeld, is Paulus by die skryf hiervan in die tronk, waarskynlik in Rome. Paulus was rondom 61 tot 63 nC in die gevangenis in Rome. Die rede waarom Paulus die brief geskryf het, kon wees dat Epafroditus op die punt was om na sy tuisdorp, Filippi, terug te keer en dus as Paulus se boodskapper kon optree. Hy het vir Paulus nuus van die gemeente in Filippi gebring en was ook vir Paulus ten tyde van sy gevangenskap tot hulp. Paulus wou graag op die nuus reageer en die lidmate van die gemeente bedank vir hulle finansiële ondersteuning aan hom. As pastor wou hy hulle bemoedig om hulle Christelike eenheid en liefde te behou en daardeur die voorbeeld van nederigheid, wat Christus geopenbaar het, te volg. Dit was verder noodsaaklik om hulle te waarsku teen die moontlike bedreiging wat vals leraars inhou. Maar, die belangrikste ding wat hy wou oordra, is dat hulle blydskap moet hê. En vir Paulus is die doeltreffendste manier om vrede en blydskap te kan hê deur gebed (4:6). Terwyl hy die ontvangers van sy brief oproep om bly te wees (4:4), inskiklik te wees (4:5) en nie besorg te wees nie (4:6), dring hy daarop aan dat hulle ook deur gebed ‘n band met die Here vorm. Deur hulle besorgdheid in die Here se hande te plaas, bring die soort vrede wat net van die Here af kan kom (Fil 4:7).