Nehemia 8:1-3, 5-6, 8-10 – 23 Januarie
Derde Sondag na Epifanie
Die nagmaal kan gerus in die tyd ná Epifanie gevier word. Gebruik ‘n kindervriendelike Nagmaalsformulier (voorbeeld ingesluit – jy kan ook hierdie een wat die NGK in 2002 goedgekeur het aflaai) en oorweeg dit om kinders wat vir die eerste keer die nagmaal gaan vier aan die tafel of rondom die tafel op die mat of grond te laat sit. Die ideaal is om vooraf met die ouers te praat en die datum vir hulle te gee sodat hulle ook by die huis met hulle kinders oor die nagmaal kan gesels. Die preekriglyn sluit met die inleiding aan by Epifanie as die tydperk waarin die verskyning van God aan die mensdom gevier word. Dit is ‘n tyd waarin nagedink word oor hoe God by ons teenwoordig is. Christene beantwoord hierdie vraag deur na Jesus van Nasaret, die Seun van God, se menswording en na die werking van die Heilige Gees te verwys. Jesus is die Woord van God. Hierdie gedagtes, wat die Christendom se oortuigings tot vandag toe skep en hulle viering van Epifanie bepaal, het egter nie uit die lug geval nie. Dit is gebou op die oortuigings wat reeds in die vroeë (en latere) Jodedom bestaan het, naamlik dat God nie aan tempels of rituele gebonde is vir sy openbaring aan sy volk nie, maar dat Hy sy wil deur die Woord bekend maak. Ons teks van vandag help ons om presies hierdie punt te verstaan. Die fokusteks uit Nehemia wil daarom juis die lig laat val op hoe die Here deur die Woord by mense, die kerk en die wêreld teenwoordig is. Dit wil ons aanmoedig om meer moeite met die lees en die nadink oor die Woord van God te doen. Ons is nie met teorie besig nie. Die Woord raak ons houdings, gesindhede, gewoontes en skerp ons geloofsvaardighede op. Dit leer ons lees, bid, ons bekeer, ons harte oopstel, ons lewens inrig volgens die Woord. Dit spreek ons aan: ons hou op om sekere dinge te doen omdat ons die Woord uitleef, en ons hou op om ander dinge te doen omdat ons die Woord uitleef. Ons doen die woord, want ons hoor die stem van die lewende God in die Woord.
Johan Engelbrecht
Waar kan ek die kindervriendelike Nagmaalsformulier (voorbeeld ingesluit?) bekom. ?
Webmeester
In die Word dokument is die verwysing na Cas Wepener in Ontdekkings in die erediens, bl. 226. Jy kan ook hierdie een gebruik wat die Algemene Sinode in 2002 goedgekeur het: https://preekriglyne.co.za/wp-content/uploads/2022/01/Kindvriendelike-formulier-vir-die-bediening-van-die-nagmaal.doc