Openbaring 7:9-17 – 8 Mei

Vierde Sondag van Paastyd

Carolyn Brown het ‘n paar baie goeie idees vir hoe die gemeente hierdie teks saam met jonger lidmate kan lees. Eerstens praat sy oor hoe die teks gelees word. Verder praat sy oor die “kodes” van Openbaring. Dit kan nogal lekker wees om te gesels oor geheime kodes. Soms skryf kinders briefies in ‘n geheime kode. Vra of kinders dit nog doen en noem voorbeelde uit jou kinderdae. Jy kan selfs ‘n voorbeeld gee van ‘n briefie wat jy in ‘n kode geskryf het, asook die kode. Jy kan hierdie “kode” ook uitpak deur te praat oor mense wat bv Springboktruie of keppies dra, om met hul span te identifiseer. ‘n Laaste opsie n.a.v. Brown: gesels met kinders oor ‘n scary (kinder-)fliek wat hulle gesien het. Soms wil mens in die scary dele jou oë toemaak of in jou kamer gaan wegkruip. Maar as jy die fliek ‘n tweede keer kyk, is die scary dele nie so erg nie, want jy weet hoe die storie eindig. Johannes was besig om vir mense te sê dat daar scary tye in die lewe is, maar dat daar ‘n goeie einde op pad is. [Nota: Ons teksgedeelte moet in die samehang van hoofstuk 6 en 7 verstaan word. Daarom word daar inleidend op hierdie verbande gefokus. Die prediker moet ‘n seleksie uit die beskikbare stof maak.] Hoofstuk 6-7 is vir baie mense ‘n ontnugtering wanneer hulle agterkom dat die wonderlike werklikheid van hoofstuk 4-5 – die hemelse erediens en die Lam van God wat waardig is om die agenda van God uit te voer met die lofliedere wat God prys en aanbid – in ‘n wrede werklikheid van oorloë, konflik, hongersnood, vervolging en ellende oorgaan. Die sewe seëls wat in hoofstuk 6 begin, breek verskillende aspekte van God se oordeel oop vir hierdie wêreld. Die sewe trompette wat boonop daarna in hoofstuk 9 volg, is nie net waarskuwings van God se oordeel nie, maar wrede werklikhede wat ‘n mens verstom. Dieselfde geld die sewe bakke van hoofstuk 15-16 wat God se oordeel soos gloeiende lawa op die wêreld uitgiet. Gelukkig is daar tussen-in ‘n beskrywing van God se beskerming en sorg vir gelowiges op aarde en in die hemel in hoofstuk 7 (en weer in hoofstuk 14). Dit sê vir ons dat God se oordeel ‘n “verlossende oordeel” is. En daaroor kan jy jou verbly. Maar, dit bly ‘n skok vir ‘n mens se sisteem! Tussen die sesde en sewende seël van die boekrol verskuif die fokus na twee groepe mense: 144 000 van die diensknegte van God op aarde wat met ‘n merk op hulle voorkoppe geseël word – vers 1-8 – en, ‘n Ontelbare groot skare uit elke nasie, stam, volk en taal uit die groot verdrukking wat God aanbid in die hemel en deur die Lam versorg word – vers 9-17. Die doel van dié toneel tussen die oordele van die twee seëls is om gelowiges te bemoedig dat die oordeelsvoltrekking nie op hulle gemik is nie, dat hulle op aarde as God se eiendom gemerk is en dat hulle uiteindelike verlossing vas en seker is. Uiteraard ly hulle ook onder die oordele, maar dit kan nooit hulle ewige verkiesing om in God se teenwoordigheid te floreer, bedreig nie. Die eerste groep word beskerm tydens die oordeel op aarde. Die tweede groep word versorg in die hemel ná die groot verdrukking. Die vier engele op die vier hoeke van die aarde word eers teruggehou om die oordeelsvoltrekking op aarde verder uit te voer, sodat die diensknegte van God eers geïdentifiseer en met ‘n seël beskerm kan word. Ons moet aan die 144 000 te dink as ‘n simboliese getal van die hele volk van God, die ware Israel, wat steeds op aarde as God se volk, sy koninkryk van priesters optree. Die teenwoordigheid van God as Herder wat sy skape versorg, is ‘n sterk beeld wat aandui waarom die Lam geslag is. Dit is sodat ‘n volk vir God losgekoop kan word en deur die Herder na ‘n heerlike toekoms gelei kan word. Dit is nie net iets van die toekoms nie, want in Christus het die Ou-Testamentiese beloftes al in vervulling gegaan en gaan dit steeds daagliks in vervulling. Hoop is nie net om vooruit te kyk na die wederkoms nie, maar is ook ‘n belewing van God se teenwoordigheid in die hede.

Laai af: Word – PowerPoint

Openbaring 5:11-14 – 1 Mei

Derde Sondag in Paastyd

Hoewel kinders die fyner nuanses van hierdie gedeelte nie maklik sal begryp nie, stel Carolyn Brown (Forbid Them Not) voor dat gepoog word om te verduidelik dat “Lam” ‘n kodewoord is vir Jesus en “die een wat op die troon sit” ‘n kodewoord vir God is.  Só kan ons die Paasboodskap ontsyfer. Daar is ‘n blokkiesraaisel ingesluit met die sleutelwoord “Lam van God”. Ons is tans besig met ‘n reeks preke uit die Openbaringsboek. Verlede week het ons stilgestaan by die groet uit Openbaring 1 en die lig wat die boek laat val op wie God in Christus vir ons is en wat God alles aan ons gee. Ons het Christus ook leer ken as die Een wat oor alles heers en ons toekoms in sy hande hou. In hoofstukke 2 en 3 kom die sewe briewe aan die sewe gemeentes aan die orde. Nadat hy Jesus se instruksies rakende die briewe aan die sewe gemeentes (Op 2–3) ontvang het, is Johannes “in die Gees” (4:2) na die hemelse troonkamer geroep (Op 4).  In  hoofstuk 4 begin ‘n hemelse erediens wat sy hoogtepunt in ons teksgedeelte in hoofstuk 5 bereik. Daar, in hoofstuk 4, het Johannes God op sy troon gesien, met vier-en-twintig ouderlinge wat op vier-en-twintig trone rondom God se troon sit, asook vier lewende wesens (vreemde wesens met baie oë voor en agter) wat dag en nag God se lof besing. Hoofstuk 5 begin dan met die visioen van ‘n boekrol in die regterhand van Hom wat op die troon sit (5:1). Johannes begin huil, want niemand is waardig om die seëls te breek nie. Maar een van die ouderlinge het gesê: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak” (5:5). Vanuit die erediens in die hemel neem God beheer van alles wat is en was en wat kom. Hy bepaal die agenda en die verloop van die ontplooiing van die gebeure in die heelal. Die hemelse erediens het dus ‘n beslissende invloed op die aarde. Die heerlike boodskap van hierdie gedeelte is dat God se verlossingsplan met die skepping onstuitbaar uitgevoer word. Dit gebeur deur die beslissende werk van die Leeu van Juda, wat God se plan as die dienende, geslagte Lam uitvoer. Die hele skepping en die hemelkore, saam met die verlostes, bring ewig lof en eer aan God. Ons word geroep om vandag, en elke dag, ook elke Sondag in die erediens, hieraan deel te neem. Lof is eintlik al wat ons – wat niks is en niks het nie – kan bring na Hom wat alles het en oor alles beskik. Kom ons loof Hom met die lewe wat ons leef! Ons lewe is die lied voor sy troon. Amen.

Laai af: Word – PowerPoint

Openbaring 1:4-8 – 24 April

Tweede Sondag in Paastyd

Bring ‘n (lekker groot en dik) woordeboek vir Familietyd saam. Maak oop by die eerste letter – A – en lees die eerste woord. Blaai dan al die pad tot by die laaste woord. Verduidelik die konsep van die begin tot die einde, met alles tussenin. Dis hoe Openbaring sê God van die begin tot einde by ons is. Jy kan voorbeelde noem. Begin by die skepping en hoe God daar was. Verlede week toe julle kerk gehou het. Maandag toe julle ‘n verrassingstoets geskryf het. Donderdag toe julle geweier het om skottelgoed te was. Saterdag toe julle netbal gespeel het. En Jesus gaan daar wees eendag as julle groot is, klaarmaak met skool, oud is… Jesus gaan daar wees wanneer die wêreld eindig. EN nog daarna. Idee uitgebrei van ‘n idee van John Stevens. Daar is ook ‘n Alfabet-speletjie uit ‘n vorige preekriglyn. Ons gaan vir die volgende paar weke by Skrifgedeeltes uit die Openbaringboek stilstaan. Daarom begin ons in hierdie preekriglyn eers deur ‘n oorsig oor hierdie merkwaardige troosboek én aansporingsboek vir gelowiges te gee. Ons sluit af met ‘n boodskap van troos en bemoediging. God gee met hierdie boodskap van Openbaring hoop. Hy maak die toekoms oop. Hy is in beheer. Die toekoms is in sy hande. Rome moet dit hoor; so ook enige mag of gesag in vandag se wêreld. Dit is natuurlik nie altyd maklik om te glo nie. Daar is baie magte werksaam en daar is baie twyfel by gelowiges wat swaar kry. God kom raak ons egter aan. Sy boodskap laat ons onthou dat ons nie alleen is nie. In ons deurmekaar tyd moet ons dit ontvang wat ons toegesê word: genade en vrede. God, die Ewige, sê so. Loof die Here, die ewige God.

Laai af: Word – PowerPoint