Openbaring 5:11-14 – 1 Mei
Derde Sondag in Paastyd
Hoewel kinders die fyner nuanses van hierdie gedeelte nie maklik sal begryp nie, stel Carolyn Brown (Forbid Them Not) voor dat gepoog word om te verduidelik dat “Lam” ‘n kodewoord is vir Jesus en “die een wat op die troon sit” ‘n kodewoord vir God is. Só kan ons die Paasboodskap ontsyfer. Daar is ‘n blokkiesraaisel ingesluit met die sleutelwoord “Lam van God”. Ons is tans besig met ‘n reeks preke uit die Openbaringsboek. Verlede week het ons stilgestaan by die groet uit Openbaring 1 en die lig wat die boek laat val op wie God in Christus vir ons is en wat God alles aan ons gee. Ons het Christus ook leer ken as die Een wat oor alles heers en ons toekoms in sy hande hou. In hoofstukke 2 en 3 kom die sewe briewe aan die sewe gemeentes aan die orde. Nadat hy Jesus se instruksies rakende die briewe aan die sewe gemeentes (Op 2–3) ontvang het, is Johannes “in die Gees” (4:2) na die hemelse troonkamer geroep (Op 4). In hoofstuk 4 begin ‘n hemelse erediens wat sy hoogtepunt in ons teksgedeelte in hoofstuk 5 bereik. Daar, in hoofstuk 4, het Johannes God op sy troon gesien, met vier-en-twintig ouderlinge wat op vier-en-twintig trone rondom God se troon sit, asook vier lewende wesens (vreemde wesens met baie oë voor en agter) wat dag en nag God se lof besing. Hoofstuk 5 begin dan met die visioen van ‘n boekrol in die regterhand van Hom wat op die troon sit (5:1). Johannes begin huil, want niemand is waardig om die seëls te breek nie. Maar een van die ouderlinge het gesê: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak” (5:5). Vanuit die erediens in die hemel neem God beheer van alles wat is en was en wat kom. Hy bepaal die agenda en die verloop van die ontplooiing van die gebeure in die heelal. Die hemelse erediens het dus ‘n beslissende invloed op die aarde. Die heerlike boodskap van hierdie gedeelte is dat God se verlossingsplan met die skepping onstuitbaar uitgevoer word. Dit gebeur deur die beslissende werk van die Leeu van Juda, wat God se plan as die dienende, geslagte Lam uitvoer. Die hele skepping en die hemelkore, saam met die verlostes, bring ewig lof en eer aan God. Ons word geroep om vandag, en elke dag, ook elke Sondag in die erediens, hieraan deel te neem. Lof is eintlik al wat ons – wat niks is en niks het nie – kan bring na Hom wat alles het en oor alles beskik. Kom ons loof Hom met die lewe wat ons leef! Ons lewe is die lied voor sy troon. Amen.