Openbaring 21:10, 22-22:5 – 22 Mei
Sesde Sondag van Paastyd
As julle hierdie hele reeks lank Openbaring se “kodes” ontsyfer het (kyk 8 Mei se Preekriglyne), dan kom daar vandag nuwe kodes by, wat volgens Carolyn Brown nogal moeilik is om uit te pak, soos die boom wat vrugte dra en die rivier met kristalhelder water. Brown stel voor dat jy gewoon vra of dit na ‘n goeie of slegte plek klink om te woon. Wat laat dit goed of sleg klink? Wie is in beheer? Hoe help dit Christene wat nou swaarkry? ‘n Ander lekker opsie, wat die volwasssenes ook sal geniet, is dat jy prente van al die stene wat in die teks genoem word, wys. Hierdie prente kom ook van Carolyn Brown af. John Stevens praat oor die lig wat van die sentrum van die stad, van die Lam af kom, dat daar nie meer lig van die son af nodig is nie. Hy praat oor mense wat lyk asof hulle “gloei” (wat ‘n “glow” het) en hoe Jesus ons lig is, asook hoe ons Jesus se lig kan laat skyn. Die simbool van die glowsticks wat hy gebruik, sal die kinders baie geniet. Grootmense sal die gedagte dat glowsticks eers gloei wanneer dit gebreek word, waardeer. Vind meer by Stevens se blog. Die preekriglyn sluit aan by die waarneming dat dit lyk of vloed en droogte deel van ‘n nuwe weerpatroon in ons land is. Ons leef in ‘n waterskaars land met uiterste temperature en wisselvallige reënval. Afrika suid van die Sahara is in gevaar. Droogtes is algemeen. Ons sien die nuusopskrifte: “Diere kry swaar op die plase”; “Boere spuit bloeisels af om bome te red”; “Werksgeleenthede is verlore”. Opeenvolgende droë jare breek mense se moed. In die droë seisoen ontstaan veldbrande wanneer weerlig slaan of rotse val. Ons ekosisteem is goed aangepas by vuur, maar vanweë mense se onverskilligheid en soms ook moedswilligheid, brand dit te veel en lei mens en natuur groot verliese. Dan sien ons weer die skade wat vloedwater kan aanrig. In KwaZulu-Natal en voormalige Transkei het water enorme lewensverlies en beskadigde infrastruktuur veroorsaak. Terwyl alles op een kol wegspoel, is daar steeds dele van ons land waar daar nie drinkwater is nie. Damme is leeg, terwyl ander verdrink. Teenoor die beelde van ‘n oorspoelde of verskroeide aarde, ontvang Johannes die Ou-Testamentiese beelde van Esegiël 47 op ‘n nuwe, wonderlike manier. Hy sien hoe die nuwe Jerusalem van God af kom uit die hemel (Op 21:10). ‘n Rivier met water so helder soos kristal stroom uit die troon van God. Tussen die hoofstraat van die stad en die waterstroom staan die boom van die lewe, ‘n boom wat elke maand vrugte dra. Die boom se blare bring genesing. Dit is ‘n geneesmiddel nie net vir Israel nie, maar vir ál die nasies. Niks wat vervloek was, is nou meer vervloek nie. Die troon van God en die Lam is gevestig in die stad. Die mense dien God. Hulle sien God. Sou die mooi prentjie van die kristalhelder water en die rustige boom met sy genesende blare ons dan passief maak? Nee, want ons weet die Christelike geloof is nie ‘n “eendag”-geloof nie. Dit is nie ‘n eensydige “hemel”-geloof nie. Ons verwagting en hoop op Christus vir eendag, stuur ons terug na vandag. Dit stuur ons moedig terug na vandag. Christus het immers reeds gekom. Die “Lam” se liggaam is reeds gebreek. Terwyl ons nou in die laaste dae leef, wag ons aktief op die nuwe stad en die helder rivier. Deur die Gees neem ons reeds deel aan wat Christus kom doen het. Die Naam van God is reeds op ons voorkoppe geskryf. Ons deel reeds in die oorwinning oor die sonde en die dood. Daarom kan ons stry, onsself verset teen dit wat verkeerd en swaar en sleg is, en ons bes doen om saam tekens op te rig van die nuwe skepping met vrugbare grond, wonderlike lig, helder water, en harmonie tussen mense en tussen mens en natuur.