2 Konings 2:1-2, 6-14 – 26 Junie
Koninkrykstyd 3
Gaan kyk gerus na vorige preekriglyne vir hierdie teks se voorstelle vir familie-oomblik – daar is heelwat praktiese en bruikbare idees. In aansluiting by die preek kan jy ‘n oorsig gee van Elisa se bediening. Hier is ‘n oulike video-oorsig. Jy kan die klank afsit en die vertelling in Afrikaans doen – jy sal net vooraf die tydsberekening moet oefen. Hier is ‘n voorbeeld van iemand wat Elisa se verhaal in onder 4 minute vertel. Die preekriglyn fokus oorsigtelik op die bediening van Elisa. Dit toon aan waartoe die oordrag van Elia se mantel op Elisa alles gelei het. Daar is ‘n paar dinge wat uitstaan in hierdie verhaal van Elia en Elisa wat ons leer hoe die bediening werk, en ek lig ‘n paar daarvan uit. 1. Die Here is in beheer van sy profete. Die mantel van Elia wat oorgaan op Elisa wys na die Here se gesag wat deur sy werk aan die orde kom. 2. Elisa se bediening was aan gewone mense sowel as aan vernames. Mag dit van ons ook waar wees. Dat ons bediening gewone mense sowel as magtiges sal aanspreek. Dat ons onbevreesd, maar ook met deernis met mense sal werk in opdrag van die Here. 3. God kan met alles vertrou word. Hy is nie net besorgd oor die groot dinge wat almal se lewens raak nie. Hy is ook besorgd oor die kleiner dinge wat in die alledaagse lewe verkeerd loop. Soos die bylkop wat wegraak. Maar, dan is God ook in die groot dinge betrokke, hoewel ons dit soms moeilik raak sien, omdat dit slegs vir die geloofsoog sigbaar is. Elisa ontvang egter die vermoë van God om die onsigbare nie net raak te kan sien nie, maar dit ook vir ander sigbaar te maak. Soos die keer wat Elisa vir Gehasi help om God raak te sien in die konflik met die Arameërs. Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” En die Here het geantwoord en Gehasi se oë oopgemaak vir die berg rondom Elisa wat vol perde was, en strydwaens van vuur! Dit is ook ons rol. Om mense se oë oop te maak dat hulle kan sien. 4. God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie, al het Elisa ook sy kwota moeilike opdragte gehad. Mag dit ook ons nalatenskap wees. Omdat ons gehoorsaam was, en ons die oë van mense oopgemaak het om God te sien.