Jeremia 2:4-13 – 28 Augustus
Koninkrykstyd 12
Om die ondenkbare te illustreer dat Israel haar God prysgegee het vir gode wat nie gode is nie, kan die storie van Daantjie met Familietyd dramaties vertel word. Hy was sy lewe lank nog passievol oor rekenaars. Vir sy ouers is dit maklik- as jy Daantjie wil dissiplineer moet jy gewoon sy rekenaar van hom wegneem vir n dag of twee. Maar die grootste ding van die rekenaar wat Daantjie geniet is die speletjies. Hy moes lank spaar om die R400 bymekaar te kry vir die speletjie “Company of Heroes”. Maar uiteindelik kon hy dit koop en nou is daar niks wat hom terughou nie. Ongelukkig was hy met ’n slenter uitgevang. Die nuwe “Company of Heroes 2” program werk nie op sy rekenaar nie. Klink omtrent soos die verhaal van Jeremia se God wat sy hande saamslaan as Hy sê… Het so iets al ooit gebeur? Het ’n volk ooit hulle gode vir ander gode verruil al is hulle nie regtig gode nie? Tog het my mense My verruil vir gode wat niks werd is nie! Met dié inset vir kinders kan ‘n mens dan oorgaan na die prediking wat wegskop met die feit dat die teks gegiet is in die vorm van ‘n antieke amptelike klagstaat of regsgeding; die regsgeding van die Here teenoor sy volk. Hulle word aangekla van die ergste graad van afvalligheid. Die Here waarsku, pleit, dreig, roep getuies in, herinner aan die verlede en verwerp moontlike verontskuldigings. Die punt wat Jeremia 2 dan maak, is dat om God te vergeet erger is as bloot vergeet. Vergeet is om God te verruil. Dit gaan nie oor algemeen-menslike vergeetagtigheid nie. Dit gaan ten diepste oor sonde. Dit is ‘n morele kwessie. Dit gaan oor die hart en wil van die volk wat nie meer by God was nie. Die ergste van vergeet is dat dit so ongemerk gebeur. Die volk vergeet die Here, verruil die Here, vernietig hulleself … en hulle weet dit nie. Die verskriklikste is dat dit ook van ons waar mag wees, maar dat ons dit dalk nie weet nie. Juis omdat dit so ongemerk gebeur, roep die Here profete en priesters om die kerk te herinner. Die Woord van die Here kom tot hulle, spoor hulle aan om te sê: “Hoor die Woord!” Dit is die Here se bedoeling dat ons moet onthou. God spoor ons aan om ons voortdurend te bekeer. Hy bedoel dat ons lewe omdat ons onthou.