Jeremia 1:4-10 – 21 Augustus
Koninkrykstyd 11
As jy dit nog nie gedoen het nie, skaf beslis die lieflike “Jeremia en die Amandelboom” deur Wendy Maartens aan vir Familietyd. “Gebaseer op die Bybelse verhaal van Jeremia se roeping, vertel hierdie pragtige prenteboek die storie van ’n jong Jeremia wat met spraak gesukkel het totdat die Here hom aangeraak en ’n amandeltak as belofte gewys het. Nie net is hierdie storie pragtig en toeganklik geskryf soos net Wendy Maartens kan nie, maar die boek bevat ook inligting en hulpbronne vir ouers en onderwysers om te help met spraakontwikkeling in kleuters. Hierdie bemoedigende verhaal sal alle kinders wys dat hulle spesiaal is vir die Here en dat Hy hulle sal help en gebruik.” Dit is vir R102 beskikbaar by Lapa of kry die kindle weergawe vir $6.97. Ons gaan vir die volgende 4 weke uit Jeremia lees – jy kan hierdie verhaal Sondag na Sondag stuk-stuk soos ‘n vervolgverhaal lees, wat ook vir almal iets gee om na uit te sien. Die profeet Jeremia worstel in sy boek met sy roeping om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig. Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Hulle is so nutteloos in die verhouding met God soos ‘n verslete gordel om sy lyf. Daarom is die Here hulle nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie. En al breek dit Jeremia se hart, verkondig hy dat soos ‘n kleipot gebreek word, sal die Here hierdie volk en hierdie stad breek. Die ballingskap in Babel is hulle straf. Die Here gaan hulle nie spaar nie en hulle deur hulle vyande laat wegvoer. Ironies genoeg is die ballingskap egter ook hulle redding. As deel van Jeremia se roeping om ook op te bou en te vestig, beskryf hy daarom die weggevoerde ballinge as ‘n mandjie goeie vye en in ‘n brief verkondig hy die Here se goeie guns aan hulle: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting. Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.” (Jer. 29:11-12). Dié hoop kry nog groter betekenis in ‘n grondkooptransaksie wat Jeremia aangaan in Anatot waarmee die Here ‘n belofte aan die volk maak dat ná sewentig jaar van ballingskap daar weer huise, grond en wingerde in Juda gekoop sal word. Die Here belowe om ‘n nuwe verbond met hulle te sluit waarin sy woord op hulle harte geskryf en in hulle gedagtes vasgelê sal wees. Almal sal Hom ken, klein en groot. En dit is presies wat uiteindelik gebeur. Ná sewentig jaar bid Daniël dat die Here die belofte aan die volk sal vervul. En die volk word die geleentheid gegun om terug te gaan na hulle eie land. Waar het dit alles begin? Dit is ons teks vir vandag: Jeremia 1:4-10:
Laai af: Word – PowerPoint
James Walters
Die klompie Sondae oor Jeremia trek my aandag as ‘n moontlike reeks. Sou dit moontlik wees om nou reeds toegang tot al die preekriglyne te kry?
Baie dankie vir hierdie hulpmiddels.
Webmeester
Jy is reg, dit kan goed as reeks dien. Ek plaas so vinnig as wat ek kan. Jy kan wel vooruit die Bybel-Media produksie by https://missio.org.za/category/woord-en-fees/woord-en-fees-2021-2022/ bekom teen ‘n prys.
James Walters
Baie dankie vir die vinnige respons