Jeremia 8:18-9:2 – 18 September
Koninkrykstyd 15
Vandag se teks verwoord swaar emosies van rou – emosies waarmee kinders ook bekend is. As jy dit nog nie het nie, is dit nóú die tyd om Die Klip in Lisa se Borskas deur Siegfried Louw aan te skaf – R99 by Bybel-Media. Hierdie briljante storie praat op ‘n kinder-vriendelike manier oor verlies en rou (en die hantering daarvan), sonder om dit te probeer minimaliseer of wegpraat. Daar is ook gratis inkleurprente en patrone om poppe van die karakters te maak. Jy kan ook die pragtige storie Whimsy’s Heavy Things deur Julie Kraulis vertel. (Anders as Lisa se verhaal, minimaliseer hierdie storie wel kinders se swaar emosies.) Hier is ‘n video daarvan – die storie is vanaf 1:30 tot 4:30. Dit is ook beskikbaar op Google Play en Kobo. Die profesieë van Jeremia, ook in ons teks, getuig van die diepe ellende waarin die volk van God verkeer. Oor hierdie diepe ellende hang hoofstuk 9:1 en 2 se “Ag!” Aan die een kant is die ellende weens die politieke en militêre situasie. Maar, aan die ander kant sit Jeremia ‘n dieper oorsaak op die tafel, die volk se sonde. Israel het gesondig en God straf haar deur die hand van die Babiloniërs. Israel se lojaliteit aan God het in die gedrang gekom as gevolg van haar sonde. Die godverlatenheid wat Israel ervaar, is juis die gevolg van haar sonde – so ook die verwoesting van Jerusalem. Dit is belangrik om egter daarop te let dat God, wat hier in gesprek met Israel is, sélf deur en saam met die profeet die “ag” uiter wat Israel nie in staat is om te uiter nie. Hierin roep God vir Israel tot empatie juis omdat Hy Homself in sy vryheid in Israel se lyding inleef. Die woord van die Here kom tot Israel in die sug. Die “ag” is vertroosting én vermaning. Dit bring ons by Jesus Christus. In Christus word die menslikheid van God juis in volheid geopenbaar. In Christus word ons bewus van God se verwondheid en lyding – namens ons en in ons midde. In die aanhoor en aanskouing van God as lydende God, word die mense van God geroep tot ‘n lewe waarin die sug van “ag” weerklink en ons dring tot ernstige verdieping in ons verhouding met God en met mekaar.
Laai af: Word – PowerPoint