2 Tessalonisense 3:6-13 – 17 November

Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Die fokus van vandag se teks is nie net om ’n goeie werketiek te hê nie nie, maar eerder oor wat dit beteken om saam in gemeenskap met mekaar te leef.  Ons word genooi om mekaar in ag te neem – ook in die kerk.  Ons sou  kon vra of ons ’n gemeenskap is waar ’n paar al die werk doen, of streef ons na ’n balans waar almal hul gawes en tyd gee om saam te werk? Farmer Duck deur Martin Wadell is ’n storie wat ons help om te sien wat met ’n gemeenskap gebeur waar die werklading nie gedeel word nie.  Die boer is baie lui en die arme eend moet al die werk doen.  In die proses word die eend fisies en emosioneel uitgeput!  Uiteindelik gryp die ander diere in, jaag die lui boer weg en begin almal help om die plaas te versorg.  Hierdie storie help ons om te sien hoe ons almal geroep is om te deel in die werk – by die kerk en by die huis.  Die preekriglyn begin met die verhaal van ‘n dertigjarige New Yorker, wie se ouers hom deur ‘n hofbevel gedwing het om hulle huis te verlaat. Millennials. Dit is die generasie, waarvan millenial sanger Micah Tyler sing dat hulle in ‘n koffiewinkel sit, sonder ‘n vaste betrekking, en vas glo hulle gaan miljoenêrs op 30 wees. Hulle gaan die wêreld verander – met hul kennis van essensiële olies. Kyk gerus na hierdie video in die erediens. Ons teks het alles hiermee te make, maar luiheid is natuurlik nie ‘n nuwe fenomeen, ‘n “millenial”-verskynsel nie! Dit sien ons soms in gesinne, só ook dikwels in die huisgesin van God. Dit was reeds so in Paulus se tyd!

Laai af: WordPowerPoint

2 Tessalonisense 2:1-17 – 10 November

Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Carolyn Brown sê dat kinders vandag moet hoor dat hulle nie bekommerd moet wees oor wat met hulle gaan gebeur wanneer hulle doodgaan nie.  Of oor wat met hulle gaan gebeur wanneer hulle groot is of tieners word nie.  Of… of….  Hulle moet eerder dink aan vandag.  Hulle moet vandag as God se kind leef.  Sy wys ook daarop dat dit nie vir kinders moeilik is nie, aangesien hulle geneig is om juis eerder in die hede te leef. Sluit daarom by maniere aan waarop kinders versoek word om nie in die hede te leef nie.  Die preekriglyn sluit by die werklikheid aan dat die gemeente in Tessalonika Paulus verkeerd verstaan het.  Sy boodskap in sy eerste brief dat Jesus onverwags sou kom, is deur hulle geïnterpreteer dat Jesus moontlik reeds gekom het óf binnekort sou kom.  Paulus versoek hulle egter om nie so gou van stryk gebring te word deur misleidende interpretasies oor die wederkoms nie, maak nie saak of dit in ‘n profetiese uitspraak gedoen word of deur ‘n brief nie.  Die wettelose mens (Antichris?) waarvan Paulus praat wat eers moet verskyn, kan óf met ‘n demoniese mag óf ‘n despotiese leier verbind word. Oor die presiese betekenis is ons egter onseker. Hoe dit ook al sy, die Tessalonisense het die lering verstaan, want hy het dit blykbaar die vorige keer met hulle deurgepraat. Wat wel ook vir ons seker is, is dat dit die Satan is wat agter die wettelose en die wetteloosheid sit.  Let egter op dat hy dit net regkry om dié te mislei wat reeds nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.  Die veroordeling kom dus nadat hulle reeds hulle keuse teen God se boodskap in Jesus Christus gemaak en Hom verwerp het. Die preekriglyn brei dan uit oor die Satan se werk: versoeking (Matt 4), misleiding (1 Kon 22:21-22; Ef 6), teenspoed (Open 2:10) en aanklag (Job 1; Open 12:10).  En oor die feit dat sy werk daarom ook nie uitgewis word deur “duiwel-uitdrywing” in die eerste plek nie, maar deur die waarheid te soek en uit te leef, sowel as om te bid en te getuig. Dit is hoe God ons standvastig maak en gebruik in hierdie wêreld.

Laai af: WordPowerPoint

2 Tessalonisense 1:1-12 – 3 November

Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

In die brief wat ons vandag lees, word daar gepraat van die mense in Tessalonika se goeie voorbeeld.  Daar word vertel van hulle geloof, liefde en volharding, wat vir ander mense ’n voorbeeld is. Vertel die storie van Mean Jean, the Recess Queen deur Alexis O’Neill (skakel ingesluit). Mean Jean  het oor die speelgrond regeer – niemand kon swaai voor sy geswaai het nie, niemand kon op die glyplank gly voor haar nie.  Sy het almal geboelie.  En dan, een dag, kom daar ’n nuwe dogtertjie – Katie Sue.  Katie Sue stel ’n nuwe voorbeeld.  Sy vra Mean Jean om saam met haar te speel!  En so word die speelgrond weer ’n wonderlike plek vir almal om te speel.  Katie Sue stel ’n goeie voorbeeld vir almal om te volg.  Net soos wat die mense van Tessalonika se optrede oral vir mense ’n voorbeeld was, word Katie Sue se optrede die voorbeeld vir almal – en word die skool ’n beter, lekkerder plek! Die preekriglyn sluit aan by Tessalonika as ‘n metropolitaanse, multikulturele stad wat ook as die hoofstad van die provinsie Macedonië (noorde van Griekeland) gedien het. 2 Tessalonisense 1 getuig van God se krag en God se werk in die gemeente. Die gemeente het nie uit menslike vindingrykheid of menslike vaardigheid ontstaan nie. Dit was die krag van God. Wanneer ons vandag oor hierdie teks nadink, moet ons ook fokus op en getuig van God se krag en werk. Ons teks is nie ‘n morele lessie oor hierdie gemeente nie. Ons moenie die gemeente van Tessalonisense voorhou as voorbeeld van geloof en volharding wat ons gemeente behoort te na-aap nie. Nee, ons moet praat oor en onsself oopstel vir die kragtige werk van God se gende en vrede in ons. Daarom fokus ons vandag op vers 2: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!”

Laai af: WordPowerPoint