Jakobus 5:7-10 – 15 Desember
Derde Sondag in Advent

Vir Familietyd kan jy aansluit by die feit dat dit vir die meeste mense sleg is om net te wag. Om in die kerk stil te sit tot die diens begin. Om by ‘n “stop en ry” te wag. Om by die skool in ‘n ry te staan. Eintlik, die meeste mense raak ongeduldig as hulle moet wag. Ons fokusteks vandag gaan oor wag. Kom ons lees dit in Die Nuwe Testament vir Kinders. Brei dan uit oor hoe moeilik dit is vir boere om te wag dat die reën kom. Duisende boere wag dat God dit laat reën. Maar daar is twee maniere van wag. Jy wag sonder dat jy verstaan hoekom. Of jy wag omdat jy weet daar gaan iets goeds gebeur. Wanneer mamma kolwyntjies maak en nog net die versiersuiker kort, dan vra sy jou om te wag totdat dit klaar is. Dán gee jy nie om om te wag nie. Want na die wag kom daar ’n beloning! Dit is wat ons teks ook sê. Jakobus sê dit is hoe ons moet wag op Jesus se wederkoms. Nie soos mense wat nie weet waarvoor ons wag nie, maar soos mense wat weet dat hulle vir iets spesiaals wag. Die Here sal ons kom haal, daarvan kan ons seker wees. Die preekskets begin met ‘n soortgelyke verhaal van die versoek van ‘n graad 1-seuntjie vir Kersvader. Hy skryf dat Kersvader hom moet help met ‘n boelie in die klas. Om dan die teks verder uit te lê vir almal van ons wat met boelies sukkel. Want daar is boelies van alle ouderdomme, aktief besig op alle lewensterreine. Om ons te bemoedig, gee Jakobus vir ons drie voorbeelde, drie soorte geduldige mense: landbouers, die profete van ouds en Job. Waarin lê ons diepste motivering om geduldig te wag en te volhard? Dáárin dat ons die Here se verskyning, teenwoordigheid, wederkoms, binnekort verwag. Ons weet die Here kom dan as Regter. Daarom neem ons die oordeel ook nie in ons eie hande nie.
Bazil Leonardo
Pragtige werk dit word grootliks waardeer, dankie.
Bazil Leonardo
Dit is deeglike voorbereiding. Baie dankie. Bazil Johnson