Lukas 18:9-14 – 27 Oktober

Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Oorweeg gerus in Familietyd om die heerlike storie van die kluisenaar en die muis te vertel: ‘n kluisenaar red ‘n muis wat amper deur ‘n voël geëet is. Soos wat meer en meer diere die muis wil vang, verander die kluisenaar die muis in al groter diere. Uiteindelik is die muis ‘n tier, wat vergeet dat hy eintlik ‘n muis is wat van die kluisenaar se gesekenke afhanklik is om hom veilig en beskerm te hou. Sy trots veroorsaak dat hy vergeet wie hom help. Daar is ‘n skakel na ‘n video van die oulike storie. Daar is nog vier voorstelle wat jy kan gebruik, een wat spesifiek goed op Hervormingsondag gebruik kan word. Die preekriglyn sluit aan by Jesus se vorige lering aan die dissipels om volhardend te bid vir die koms van die koninkryk, die gelykenis van die onregverdige. In hierdie gelykenis van die Fariseër en die tollenaar stel Hy die vereistes vir toegang tot die koninkryk van God aan die orde. Daardeur illustreer Jesus op uitnemende manier God se vrye genade vir sondaarmense. Die ontvangs van God se genade bestaan daarin dat die sondaar besef hy/sy staan soos ʼn bedelaar (tollenaar) bakhand voor God. Die enigste moontlike handeling van die mens se kant is om jou skuld te erken en dit voor God te bely.

Laai af: WordPowerPoint

Lukas 18:1-8 – 20 Oktober

Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

In Familietyd hou ’n Geel Bladsye op en vra die kinders waarvoor ’n mens dit gebruik. Vra dan vir hulle of hulle weet wie om te bel as jou huis se ligte nie werk nie óf waar om plante te koop. Herinner hulle dat die Geel Bladsye jou baie help, maar dat jy verseker moet weet waarvoor jy soek. Jy kan tog nie ’n dokter bel om jou huis se ligte reg te maak of ’n loodgieter as jy wil gaan uiteet nie. Die weduwee in Jesus se storie het presies geweet na wie toe sy moes gaan vir hulp: ’n regter – alhoewel hy nie baie gaaf was nie, was hy die regte persoon. Daarom het sy met hom aanhou praat. Vra die kinders tot Wie ons moet bid as ons bang, alleen of hartseer is. Natuurlik God! Benadruk dat ons oor en oor en oor met God moet praat (dis gebed) omdat God ons kan help en Hy word nooit moeg om van ons te hoor nie. Met die prediking kan jy begin met die grappie van die man wat ‘n grassnyer nodig gehad het. Maar, terwyl hy loop om sy buurman se grassnyer te gaan leen, werk hy hom so op daaroor dat die buurman moontlik gaan nee sê, dat toe die deur oopgaan, hy sommer sê: “Man, hou jou grassnyer!” ‘n Mens kan jou só opwerk oor ‘n moontlike nee-antwoord dat jy nooit eers by vra uitkom nie. Jy besluit sommer self wat die antwoord gaan wees, en kom nie eers sover om te vra nie. Die gevaar is natuurlik dat só ‘n ervaring ons sommer negatief kan maak in ander situasies. Later skop jy die hond, by wyse van spreke, omdat jy moedeloos is dat jy nie jou sin in die werk of in jou huwelik gaan kry nie. Jesus het geweet dat ons die werklikheid só kan ervaar, en dat veral die negatiewe ervarings van die lewe ons negatief kan maak oor God, en dat ons kan dink dat Hy soos jou buurman is wat jy dink nie sy grassnyer vir jou sal leen nie. Die gevaar is dat sulke ervarings ons Godsbeeld kan affekteer. Dat ons later kan dink, maar God is soos ons buurman. En dan óf moedeloos raak om te bid, óf nog erger, ophou om te bid. Daarom vertel Hy vir ons ‘n gelykenis om ons te bemoedig. En Hy gebruik ‘n voorbeeld uit die regstelsel, ‘n regter wat goddeloos en liefdeloos was, wat nie volgens God se wette optree nie, en ook nie volgens die samelewing se wette nie.

Laai af: WordPowerPoint

Lukas 17:11-19 – 13 Oktober

Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Soos met enige narratiewe teks, kan jy gewoon die verhaal vertel. Gebruik die illustrasies van jou gunsteling Kinderbybel. Of kry 10 diverse vrywilligers – minstens een kind. Hulle kan deelneem aan die skriflesing deur dit op te voer terwyl jy lees. As jy hulle regtig wil betrek, kan jy hulle met verbande toedraai – ‘n arm, ‘n hand, ‘n kop – en dan die verbande afhaal. Daar is ook ‘n video skakel en ‘n inkleurprent. Anne Lamott sê die drie belangrikste gebede vir ons geloofslewe, is “help, wow en dankie”. Die dankbaarheid in vandag se teks gaan natuurlik nie bloot oor goeie maniere nie – soos Carolyn Brown in die video hierbo bevestig. Dit gaan oor dankbaarheid in reaksie op God se geskenk van genade. Ons teksgedeelte vertel die aangrypende gebeure hoe Jesus tien melaatse mense genees het. Hierdie gebeure vind plaas terwyl Jesus op reis was, al met die grens van Galilea en Samaria langs, om in Jerusalem te gaan ly en sterf. Dit lyk byna na ‘n toevallige ontmoeting. Vers 14 vertel egter dat Jesus hulle gesien en op grond daarvan aan hulle ‘n opdrag gegee om na die priesters toe te gaan om hulleself aan die priesters te gaan toon. Lukas lê klem op Jesus wat hulle “gesien” het. Hy meld nie iets daarvan dat Jesus hulle roep “gehoor” het nie. Wat Jesus sien, bring Hom in beweging. Volgens Lukas was die ontmoeting tussen Jesus en tien melaatse mans van korte duur, oënskynlik oppervlakkig en sonder diepsinnige kommunikasie of intieme kontak. Die tien mans reageer klaarblyklik direk en gehoorsaam Jesus se opdrag. Soos Jesus is ons ook op reis deur die lewe. Terwyl die lewe gebeur, vind ontmoetings plaas op plekke en punte wat ons nie vooraf beplan nie. Ons kan almal getuig van “tegemoetkomings” wat vir ons toevallig lyk, maar uiteindelik lewensveranderende ontmoetings is. Op hierdie reis moet ons ons oë oophou om te kan “sien” soos Jesus.

Laai af: WordPowerPoint