Jesaja 63:7-9 – 29 Desember
Sondag ná Kersfees
Gesels oor lysies. Kinders is dalk nog te jonk om lysies te maak, maar dalk maak hulle ouers lysies: inkopielysies, lyste van wat gedoen moet word. Dalk het hulle vir Kersvader ‘n lys gemaak van geskenke wat hulle wil hê. Baie mense maak aan die begin van die jaar ook ‘n lys van goed wat hulle in die nuwe jaar wil doen – ons noem dit “nuwejaarsvoornemens”. Dalk kan julle jul eie lys van nuwejaarsvoornemens maak, met ‘n paar goed wat lidmate (of net die kinders) voorneem vir die jaar. Vandag se teks is ook ‘n lys, maar mooi geskryf soos ‘n gedig. Jesaja maak ‘n lys van al die wonderlike goed wat God gedoen het: Hy het gesê Israel is sy kinders; God het hulle gered; God het hulle verlos, hulle opgetel en hulle gedra. Hierdie goed, sê Jesaja, is goed waarvan hy vir ander wil vertel (“verkondig”). Maak saam ‘n lys van die dinge wat God vir ons gedoen het. Dit gee ‘n goeie inleiding vir ‘n gesprek oor die effek van die ballingskap op die volk van God. Verskeie profete het hulle vooraf gewaarsku dat God se geduld opraak oor hulle sonde en onreg teenoor die medemens. Nou het dit ingesink. Die ballingskap was God se oordeel oor hulle sonde. Hulle het ekonomiese onreg gepleeg, hulself verryk en godsdiens gebruik as ‘n manier om God se guns te koop. Daarvoor het hulle aan die pen gery. God se straf het egter ook ‘n positiewe doel gehad. In hierdie ellende was God besig om hulle nuut te vorm en hulle nuut op te voed as sy kinders.