1 Korintiërs 3:1-9 – 16 Februarie
Sesde Sondag na Epifanie
Daar is twee familie-oomblikke om uit te kies. Die een werk met ‘n string helder wol wat mense in die kerk vir mekaar gooi. Elkeen wat die bol vang, moet spontaan ‘n manier noem waarop hulle by die kerk betrokke is of hoe God deur hulle werk. Die ander op die tuinmaakmetafoor om met die kinders te gesels oor hoe ‘n mens saad plant en wat dit nodig het om te kan groei. Ons kan alles doen om die saad te help groei, maar ons self kan nie die saad laat groei nie. Dit is God wat laat groei. Die tema van ons teks is medewerkers van God wat floreer op vaste kos. Dit sluit aan by die aanmoediging van hoofstuk een dat daar nie verdeeldheid sal heers nie. Maar Paulus besef dat hy die punt van hoofstuk 1 nog deegliker sal moet onderstreep, want hulle verdeeldheid, hulle afguns en onenigheid, illustreer hulle geestelike onvolwassenheid. Daarom skryf hy in hoofstuk 3 as volg teen die groepvorming rondom leiers. In effek sou dit ‘n verwerping van medegelowiges en medewerkers in die geloofsgemeenskap wees, praat nie eers daarvan dat dit die roeping wat die Here gegee het vir dié leiers in twyfel sou trek. En hoekom mag ‘n mens nie só ‘n onderskeid maak nie? Paulus sê, ‘n onderskeid tussen leiers getuig van ‘n wêreldse en vleeslike gesindheid. Dit getuig nie van ‘n geestelike gesindheid nie. Dit is die dinge waaroor babatjies in die geloof praat. Dit is dinge waaroor suigelinge praat. Nie volwassenes in die geloof nie. En dít bring ons by die eintlike probleem wat daar in Korinte geheers het. Die gelowiges het self nie die pad met die Here Jesus Christus geloop nie. Hulle het self nie die volle sekerheid gehad van hulle geloof en van die roeping wat die Here vir hulle gehad het nie. Daarom het hulle gefokus op die leiers en hulle eie gebreke vir ander en vir hulleself weggesteek. Meer nog. Hulle het geweet dat die “vaste kos” meer van hulle sal verg. Hulle sou moes kou en herkou en dit sou van hulle meer toewyding vra. En dan sou hulle hulle lewenstyl moes aanpas om in lyn te kom met wat die Woord vra. Hulle sou mekaar moes aanspreek – waarvan daar ‘n hele paar voorbeelde in die brief was – en daarvoor het hulle nie kans gesien nie.