Johannes 20:1-18 – 12 April
Paassondag

Hoewel kinders nie ‘n goeie idee van die dood het nie, en daarom die opstanding net met moeite as konsep sal verstaan, sal hulle kan identifiseer met die feit dat God nie toegelaat het dat die bose mense wen nie. Jy kan ook met hulle gesels oor geloof. Kry ’n klein beeldjie van ’n olifant en hou dit in jou hand – so dat die kinders dit nie kan sien nie. Vra dan of hulle sal glo dat jy ’n papie in jou hand hou. ’n Skoenlapper? ’n Eier? ’n Blom? En wat as jy sê jy hou ’n olifant? Laat kinders een-een kom loer wat jy in jou hand het en sê wat dit is. Vra dan of die kinders jou nou glo – en wys vir die grootmense wat jy in jou hand het. Verduidelik dat ons soms goed glo, al het ons dit nie gesien nie. Ons teks begin waar Maria Magdalena, Petrus en die ander dissipel (Johannes) by die graf aankom. Hulle sien die klip is van die graf weggerol. Vir Maria beteken dit net een ding: Hulle het die Here Jesus uit die graf weggevat, en sy weet nie waar Hy nou begrawe is nie. Petrus en Johannes bekyk die leë graf, maar dit maak nie vir hulle sin nie. Duidelik het die dissipels nie rekening gehou met die moontlikheid dat God Jesus uit die dood sou opwek nie. Vir hulle is die graf, nou die leë graf, nog onverstaanbaar. Daarom huil Maria. Eers was daar darem nog die liggaam van die Here, wat sy volgens Joodse gebruik sou kon versorg. Maar nou is daar niks. Ook die stoflike oorskot van Jesus is weggeneem en iewers anders begrawe. Die dissipels, Petrus en Johannes, sien die leë graf. Dan draai hulle om en gaan huis toe. “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.” Hulle verslaentheid voor die dood is so groot, dat dit nie ruimte laat vir God se ingrepe nie. Stil Saterdag, die dag na Jesus se dood, die dag waarop graf en dood die botoon voer, spoel nog oor na die Sondagmôre vroeg. Johannes die evangelis vertel op meesterlike wyse hoe Maria se nagmerrie in ‘n oogwink verander wanneer Jesus Homself aan haar openbaar. Jesus noem haar op haar naam: “Maria!” Oombliklik herken sy vir Jesus. Sy roep uit: “Rabboeni! Leermeester!” Op hierdie oomblik, in die ontmoeting met die lewende opgestane Jesus, ontdek sy Jesus se ware identiteit. Soos sy dan vir die ander dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!”