Genesis 1:1-2:4a – 7 Junie

Eerste Sondag in Koninkrykstyd – Drie-eenheidsondag

Jy kan die baie oulike video oor die skeppingsverhaal is gebruik – skakel ingesluit – of gewoon die skeppingsverhaal in kindervriendelike taal oorvertel. ‘n Taak om ‘n plant op die aarde te plant met ‘n doolhof kan ook gebruik word. Voorbeeld ingesluit. Vandag vier ons Drie-eenheidsondag. Reeds vanaf die eerste eeue het die kerk die Drie-eenheid as die groot werklikheid, die “landskap” waarbinne ons leef, bely. Die werk van God die Vader, Seun en Heilige Gees is die “ruimte” waarbinne alles ontstaan het, leef en waarin die werklikheid na sy eindbestemming gelei word. Die skeppingsverhaal van Genesis 1 speel ‘n belangrike rol in hierdie geloofsoortuiging. Niks het ontstaan buite God om nie, alles wat is, het die oorsprong daarvan in God. Die teks het twee oogmerke 1) Dit bring lof, eer en erkenning aan God as die Oorsprong van alles. Dit is ‘n loflied wat God prys vir die groot en wonderlike wyse waarop God alles geskep het. 2) Dit oriënteer ons. Genesis 1 is soos ‘n kaart wat verduidelik wat die aard van alles is, hoe die wêreld inmekaar steek en met watter doel alles gemaak is. Genesis 1 weet dat daar ook buite God se volk ander skeppingsverhale is wat die werklikheid probeer verklaar. Baie van die mededelings in Genesis 1 is kritiek of getuienis teenoor ander skeppingsmites. Dat God lig onafhanklik van die ligdraers (soos die son en maan) gemaak het, is skerp kritiek op die aanbidding van son en maan as gode of goddelik. Dat man en vrou gelykes is, is kritiek teen ander skeppingsverhale wat manlike dominasie wil bevestig. Dit is ons vertrekpunt om vandag na te dink oor die werklikheid.

Laai af: WordPowerPoint

Comments (2)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui