Matteus 10:24-39 – 21 Junie
Derde Sondag in Koninkrykstyd
Lees die teks in die taal van kinders. Gesels met die kinders oor wat hulle bang maak. Praat spesifiek ook oor dié kere wat jy bang is omdat jy die Here volg, bv. as jou maats jou spot omdat jy reg optree, kerk toe gaan, ens., of wanneer jou maats iets verkeerd wil doen en jy weier en weet dat hulle vir jou gaan kwaad wees. Verduidelik dan dat Jesus sê ons hoef nie bang te wees om gehoorsaam te wees nie, omdat hy vir ons sorg. Gebruik die storie “Bosbok en Olifant Raak Bang” uit Ewald van Rensburg se “Die Avonture van Bomani Meerkat en ander stories”. Dit vertel van Bosbok se pragtige huis by die rivier. Wanneer Bosbok eendag by die huis kom, ontdek hy daar is iemand met ’n diep stem in sy huisie wat dreig om hom op te eet! Selfs Olifant kan nie help nie. Dit is uiteindelik Leeu wat dapper genoeg is en ontdek dat dit die hele tyd Brulpadda was wat maak of hy gevaarlik is! Die preekriglyn vra die vraag wat dit prakties beteken om Jesus Christus van Nasaret as Here en Verlosser te volg? Verlede week het ons by die “groot sendingpreek” van Jesus stilgestaan. Mens kan sê verlede week se teks is reis-instruksies: Jesus stuur sy dissipels. Vandeesweek se teks is vertroue-instruksies. Jesus leer ons om op Hom te vertrou, want daar gaan ook moeilikheid wees. Sy “moeilikheid-instruksies” pas goed by die “reis- en vertroue” instruksies.