Matteus 18:21-35 – 13 September
Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd
Carolyn Brown stel voor dat jy ‘n sak vol munte/ albasters/ voorwerpe aan die eenkant maak, en slegs 1 objek (van dieselfde soort) aan die ander kant. Vertel nou die gelykenis/storie van Jesus. Die 2 persone in die storie se skuld kan vergelyk word met die 2 hoeveelhede wat jy saamgebring het. Die beginsel is dat Jesus ons leer om mense te vergewe wat ons te na kom. Eindig die gesprek met die Onse Vader waar pertinent na die vergewensgesindheid verwys word. ‘n Bekende prediker, Helmut Thielicke, het gesê die gevaarlike van oppervlakkige prediking en moralistiese praatjies oor die geestelike lewe is dat mense sal dink die evangelie wil van redelik ordentlike mense maar net nog ‘n bietjie méér ordentlik maak. Die goeie nuus van die evangelie is baie dieper as dit. Ons moet eerlik wees as ons daarna luister en die boodskap met ‘n oop gemoed ontvang. Wat sê die gelykenis vir ons? Dat vergewensgesindheid in die aard van God gewortel is. Matteus beskryf verlossing as ‘n daad van genade wat nie op die voorwaarde van goeie werke berus nie. Hierdie verlossing, wanneer dit eg is, produseer medelye en genade. Dit is soos God is: barmhartig. Daarom moet ons ook so wees. Ons moet mekaar van harte vergewe. Die “hart” is daardie plek van waar ons voel en dink en wat ons dade bepaal. Dít is waar diep vergifnis vandaan moet kom, van ‘n plek wat spreek van integriteit, sonder om agter ‘n valse front te skuil en bloot eie belange te dien.