1 Tessalonisense 2:1-8 – 25 Oktober
Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd
Lees uit Matteus 22 die opsomming van die Wet uit Die Nuwe Testament vir Kinders. Om te wys hoe slim Jesus geantwoord het toe die wetskenner Hom probeer uitvang het, maak gebruik van die Tien Gebooie. Druk elke gebod op ’n A4-bladsy uit en gebruik twee groot skerms/blaaiborde/mure met die opskrifte: “Liefde vir God” op die een en “Liefde vir mense” op die ander. Vra die kinders om jou te help om die Tien Gebooie te sorteer volgens hierdie twee opskrifte sodat hulle (en die gemeente) kan sien dat Jesus se Groot Gebod nie ’n nuwe idee in die Nuwe Testament was nie, maar van die begin af God se plan vir die mensdom en ons verhouding met God was. Paulus skryf 1 Tessalonisense na aanleiding van ‘n verslag wat hy oor die gemeente in Tessalonika ontvang het. Daar is rede om te glo dat dit die heel oudste Christengeskrif is waaroor ons vandag beskik. Met die skryf van die brief teen die einde van 50 nC, vestig Paulus ‘n patroon vir die uitdra van die evangelie wat vir hom algemeen word. Hy besoek ‘n strategies geleë dorp of stad met sy metgeselle, en vestig daar ‘n geloofsgemeenskap met wie hy dan deur gesante en briewe kontak hou. Die verslag wat hy wat Timoteus na sy besoek aan Tessalonika ontvang het, het daarop gedui dat die gelowiges in Tessalonika uiters swaar gekry het. Een van die redes hiervoor was dat Paulus as hulle stigter deur hulle teenstanders daarvan beskuldig is dat wat hy hulle geleer het, vals was, dat hy onbetroubaar was en dat hy bloot vanweë sy eie gierigheid opgetree het. Die feit dat hy en Silas so vinnig uit Tessalonika moes vlug, het hulle uiters kwesbaar gemaak vir die beskuldiging dat hulle iets gehad het om weg te steek. Daarom beklemtoon Paulus sowel hulle eie persoonlike integriteit as die betroubaarheid van hulle boodskap in 2:1-12. In die antieke wêreld was daar allerlei rondreisende filosowe en predikers wat vir suiwer geldelike gewin nuwe godsdienste of idees verkondig het. Paulus wil dit duidelik maak dat sy bediening nie soos hulle s’n was nie. In 1:5 het Paulus reeds na “ons evangelie” verwys, om daardeur dit duidelik te maak dat die evangelie nie iets was wat vir hulle net van teoretiese belang was nie. Dit het hulle persoonlik geraak. Daarom probeer hulle nie die guns van mense bekom nie, maar eerder in gehoorsaamheid aan God optree (2:4). Ons moet dus oor onsself vra of ons self gevorm is deur die boodskap wat ons verkondig, en of ons leef vanuit die wete dat God ons harte deurgaans deursoek.