Markus 1:29-39 – 7 Februarie
Vyfde Sondag ná Epifanie
Hier is twee voorstelle vir Familietyd. Gesels oor superheros. Wat maak iemand ‘n superhero? Net sy of haar spesiale krag? Het die supervillains ook spesiale vermoëns? Wys prente van superheroes en hulle teenstanders, die villains. Lei die gesprek tot by superheroes wat omgee vir mense en hulle wil help, teenoor die villains wat net alles vir hulleself wil hê. Jesus is sterker as enige hero of villain, maar wat Jesus nog meer besonders maak, is dat Hy innig lief is vir mense. Hy sien mense raak. Hy weet wanneer hulle hulp nodig het, en Jesus gebruik sy mag om mense gesond te maak. Of, vertel die verhaaltjie van die twee houtkappers wat twee heeltemal verskillende werkswyses gehad het. Die eerste houtkapper was bekend as ‘n baie effektiewe werker en het uitgegaan met die beste tegnieke, implemente en werkskedules. Die tweede houtkapper was nie baie groot of sterk nie, maar hy het ‘n leuse gehad waarvolgens hy geleef en gewerk het: Begin met die einde in gedagte. Met ‘n kompetisie het die eerste houtkapper wel meer bome afgekap as die tweede. Maar, die wenner was die tweede houtkapper. Hoekom? Die eerste houtkapper het inderdaad die meeste bome afgekap, maar uit die verkeerde plantasie! Die tweede houtkapper het eers in die hoogste boom geklim en besef: “Verkeerde plantasie! Ek moet daar anderkant gaan kap!
In ons teks doen Jesus wonders op die Sabbat. Hy genees ook Petrus se skoonma. Só demonstreer Jesus dat Hy gesag het, nie net oor die bose soos in die vorige verhaal nie, maar ook oor siekte. Hierna bedien Petrus se skoonma die gaste met haar gasvryheid. Genesing is daarom ‘n teken dat God se koninkryk ‘n werklikheid geword het. ‘n Mens sien hier hoe Jesus aan die een kant amper voor die voet genees en bevry. Dit getuig van sy gesag oor die lewe en die dood. Aan die ander kant sien ‘n mens dat Jesus probeer keer dat Hy net as ‘n wonderwerker bekend staan. Daarom beperk Hy die sensasie wat amper onvermydelik die nuus oor sy wonderwerke sou vergesel. Hy wil hê dat sy wonders sy woorde sal onderstreep, want dit is uiteindelik sy woorde wat ons harte en lewens verander. En ‘n heel hart is belangriker as ‘n heel liggaam. Ons leer meer daaroor in die ontstellende verhaal van die man wat by die poel van Betsata genees is. Hoor net Jesus se waarskuwing aan hom toe hulle later in die tempel ontmoet: “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat iets slegters nie met jou gebeur nie.” (Joh 5:14; vgl ook Joh 8). Ten spyte van hierdie waarskuwing verklap die man egter Jesus aan die Jode wat aanleiding gee daartoe dat hulle Jesus oor die genesing vervolg het, omdat dit op ‘n Sabbatdag gebeur het (Joh 5:15-16). Dit wil dus lyk asof die man sy Geneser verraai. Dat sy liggaam genees is, maar dat sy hart onaangeraak gebly het deur Jesus.
Ons moet dus genuanseerd kyk na genesing. God genees. Vandag nog. En Hy doen dit baie keer onmiddellik en sonder verwyt. Soos in die evangelies. Maar, die genesing van die hart is steeds die eintlike ding wat moet gebeur. En soms in sy wysheid sluit dit genesing van die liggaam uit. Jy kan die kosbare verhaal van Joni Eareckson Tada (A Place of healing: wrestling with the mysteries of suffering) as moderne voorbeeld gebruik. Sy is ‘n kwadrupleeg ná ‘n duikongeluk. Sy het ‘n wêreldwye bediening, maar steeds vanuit ‘n rolstoel. Joni glo in genesing, maar bely dat die Here dit in haar geval nog nie gedoen het nie. Trouens, sy sukkel die afgelope tyd met toenemende pyn in haar verlamde ledemate en is onlangs weens kanker gehospitaliseer. Sy soek egter: God’s redemption in her pain. Hierdie teks is van besondere belang in die Covid-tyd. Baie gelowiges getuig dat God hulle in die koors aangeraak en genees het. Ander vertel met die diepste hartseer van geliefdes wat aan die dood afgestaan is. Waarom Jesus hulle nie – soos Petrus se skoonmoeder – opgewek het uit ‘n siekbed nie, is nie aan ons bekend nie. Wat ons wel weet, is dat gelowiges leef onder die belofte van opwekking uit die dood, indien nie hierdie kant van die graf nie, wel verseker aan die ander kant daarvan. Jesus se opwekking is die bewys en belofte daarvan. Daarmee kan ons mekaar troos.