Markus 5:21-43 – 27 Junie
5de Sondag van Koninkrykstyd
Dit is heeltemal voldoende om gewoon die Bybelverhale vir kinders te vertel, sonder om ‘n morele lessie daaruit te probeer haal. Die twee verhale wys hoe geloof prakties werk. Vertel die verhale met die klem op hulle vertroue op Jesus, ten spyte van wat ander mense sou kon sê of doen aan hulle. Die preekriglyn fokus op versterking wat hierdie verhale vir ons bied dat God in Jesus Christus op aarde aangekom en God as ‘n God wat in ons donkerste momente aktief besig is, geopenbaar het. Ons is vandag bevoorreg om egte, lewensgetroue verhale te lees. Dit vertel oor gebeure van intense lyding, wat oor jare strek of wat ‘n mens aan jou hart ruk omdat dit oor die dood van ‘n kindjie gaan. In hierdie gebeure is Jesus teenwoordig en handel Jesus. Die werke van God – die genesing van ‘n vrou en die opwekking van ‘n kind uit die dood – roep egter ook baie ingewikkelde vrae by mens op. Een gewilde vraag is waarom alle mense nie genees word of waarom lyding nie deur God voorkom word nie. Ons kan dit nie ontwyk nie. Maar ons stap eers deur ons teks en vra dan daarna wat dit vir ons geloof in die lewende, teenwoordige, handelende God beteken aan die verhaal van Joni Eareckson Tada, ‘n gelowige wat nie genesing gevind het nie, en tog bly glo. Om God te vertrou selfs al word jy nie genees nie, is haar getuienis.