Efesiërs 2:11-22 – 18 Julie
8ste Sondag van Koninkrykstyd
Die simbool vir hierdie week is ‘n groot hart. Maak seker dat jy ‘n groot hart iewers in die liturgiese ruimte neersit of op die skerm vertoon. Fokus die kinders se aandag daarop. Die kinders kan elkeen ‘n hartjie ontvang om hulle aan die boodskap te herinner. ‘n Armband van rek met ‘n kraletjiehart aan is iets wat hulle kan dra, maar ‘n papierhartjie sal ook goed werk. Die preekriglyn begin met die teks wat die gordyne oor die eeue, die ewigheid, van God se werk ooptrek. Wat vroeër bedek was, word nou sigbaar en kenbaar in twee kernmomente: die genade wat vir ons bewerk is (verse 1-10) , en ons insluiting in die kerk, die gemeenskap van verlostes (verse 11-22, ons teks). Hierdie boodskap van genade is dat Christus een nuwe mensheid geskep, een nuwe liggaam tot stand gebring het deur sy versoening aan die kruis. Só het Hy die onderlinge vyandskap vernietig. Hy het vrede tussen voormalige vyande gebring – deur Hom het ons almal toegang tot die Vader deur die een Gees. Hierdie boodskap is vandag só belangrik. Dikwels het ons ander sieninge van die kerk se identiteit en roeping. Die kerk is vir ons meer ‘n gevestigde kulturele instelling wat aan ons voorkeure moet voldoen. Ons begin dan vanuit ons voorkeure en ons begrensde begrip oor die kerk te dink. Nee, die Nuwe Testamentiese kerk van Christus is ‘n radikale verskynsel. Hier is voormalige vyande en vreemdelinge saamgevoeg tot een gesin en geestelike gebou. Wanneer ons dit uitleef, beleef ons én ander die krag en verlossing van God.