Psalm 34:1-8 (19-22) – 24 Oktober
22ste Sondag van Koninkrykstyd
Gebruik die ingeslote vertaling van die Boodskap met die besprekingsvrae. Daar is ook ‘n inkleurprent. Die preekriglyn begin met die vlug van Dawid vir Saul as konteks vir hierdie Psalm. Alhoewel Dawid in die Filistynse stad veilig van Saul was, was hy weerloos teen koning Akis (Abimelek). Dawid se plan het nie gewerk nie. Hy is in doodsgevaar en roep na die Here. Dan kom die onverwagse uitkoms. In ‘n laaste desperate poging om oorlewing, hou Dawid homself kranksinnig. Hy laat die spoeg teen sy baard afloop en krap teen die deure. Wonder bo wonder oortuig sy toneelspel die koning. Hy kon nie glo dat hierdie kranksinnige man Dawid is nie. Die koning beveel sy wagte om die mal man uit te smyt. God het uitkoms gegee toe dit gelyk het of daar nie meer uitkoms is nie. Dawid kon nie oor hierdie wonder stilbly nie. Die gevolg is hierdie Psalm se lofsang: “Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.” (vers 2) Hy wil vir ander wat swaar kry, moed gee en hulle van hierdie wonder vertel: … “dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees.” (vers 3) Dankbaarheid is dus iets wat gedeel moet word. Sy dankbaarheid ken geen perke nie: “Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys.” (vers 4). Hierdie verhaal van groot nood, groot uitkoms en groot dankbaarheid is egter nie net Dawid se verhaal nie. Dit is ons almal s’n. Ons almal ken hierdie verhale van groot nood, groot uitkoms en groot dankbaarheid. Ons het dit al almal beleef. Miskien beleef jy nou groot nood, groot uitkoms of groot dankbaarheid. Maar, doen ons dit nog vandag? En hoe kyk die wêreld daarna? Die Psalm lei ons dus om te kies om anders te kyk as die wêreld en die wysheid van God aan die werk te sien in ons lewens.