Romeine 4:1-5, 13-17 – 5 Maart

Tweede Sondag van Lydenstyd

Sing met Familietyd die liedjie “Vader Abraham het baie seuns” – of die Engelse weergawe, met bewegings en al. Carolyn Brown het ‘n pragtige voorstel. Sy suggereer dat jy almal herinner dat God Abraham nie liefhet omdat hy gehoorsaam was nie. God het hom lief gehad nog lank voordat hy gehoorsaam was. Dan stel jy voor dat jy hartjie-plakkers op almal se hande plak om hulle te herinner dat God hulle liefhet. Net soos Abraham gehoorsaam ons nie vir God sodat God ons sal liefhê nie. Ons gehoorsaam vir God omdat ons vir God lief is. Lees gerus haar gedagtes! Met die prediking self kan steeds aangesluit word by die Familietyd liedjie. Die meeste van ons ken hierdie liedjie baie goed. Dit is die waarheid en oproep wat Paulus by die eerste lesers van sy Romeinebrief wil tuisbring. Onthou, dit was nie vir die gelowiges aan wie Paulus skryf maklik om gehoor te gee aan die oproep om (sáám) die Heer te loof nie, want die waarheid dat hulle álmal kinders van Abraham is, het nog nie behoorlik by hulle tuisgekom nie. In Paulus se tyd (soos vandag) was eenheid tussen gelowiges ‘n groot uitdaging. Daarom het Paulus nodig om in hoofstukke 12–16 die gelowiges te vermaan om:

  • dié te vermy wat tweedrag en aanstoot veroorsaak (16:17), mekaar te aanvaar, soos Christus hulle ook aanvaar het, tot eer van God (15:7), sonder om met mekaar te stry (14:1) of mekaar te veroordeel oor verskillende opvattings (14:13);
  • hulle eerder te beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (14:19);
  • aan die naaste te dink; aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou (15:2), en veral hoe almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus (15:6) as ‘n geloofsgemeenskap wat eensgesind onder mekaar is soos Christus Jesus dit wil hê (15:5).

Hierdie dinge gebeur wanneer mens jou lewe volledig aan God oorgee en vanuit Christus te leer dink.

Die oorgawe van 12:1 (om ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer te wees) en die transformasie van 12:2 (om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te wees nie, maar te verander en vernuwe te word ooreenkomstig die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God) realiseer sodoende in die lesers se lewe. Dan slaag Paulus in die doel van sy skrywe (15:15) sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees (15:16).

Daarvoor het God vir Abraham “… die vader van baie nasies gemaak. Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord” (Rom. 4:17, 1983/1992-vertaling).

Laai af: Word – PowerPoint

 

Romeine 5:12-19 – 26 Februarie

Eerste Sondag van Lydenstyd

Vir Familietyd is daar ’n oulike illustrasie van God se vrye genade in Christus. Gebruik ‘n toegedraaide geskenk as voorbeeld van ontvangste sonder verdienste. Meer inligting in die skakel wat ons verskaf. Vir die preekriglyn is ons keuse om hoofstuk 5 ver 12 tot 21 te gebruik met die tema: Wie of wat beheer die wêreld? Al te dikwels voel dit of chaosmagte en verwoesting in beheer is. Die derde dekade van die 21ste eeu voel maar afdraand vir baie mense. Covid-19, werksverliese, ekonomiese ellende, oorlog, stygende pryse en die elektrisiteitskrisis spel swaarkry. Maar, is dit ons diepste krisis? Vir die Bybel, en spesifiek die Romeinebrief, is ons vervreemding van God ons eintlike krisis. Die sonde het ‘n kloof geslaan tussen ons en God. Sonde moenie vlak gekyk word nie. Sonde is nie net ‘n klad op ons naam nie, maar ‘n mag wat ons oorheers. ‘n Mag wat ‘n greep op die wêreld het en die wêreld in die rigting van verwoesting en verbrokkeling sleep. Ons teks (verse 12-21) volg op Romeine 5:1-11 wat fokus op die verandering in die gelowige se status deur die kruisdood van Jesus Christus. Die verandering in status is van sondaar tot geregverdigde mens wat met God versoen is op grond van die geloof. Die betekenis van hierdie verandering word nou in verse 12-21 uitgespel. Die goeie nuus is dat die regering van die genadegawe wat deur Christus gebring word baie ver uitstaan bo die regering van sonde en die gepaardgaande dood.

Laai af: Word – PowerPoint

 

Matteus 17:1-9 – 19 Februarie

Sewende Sondag na Epifanie (Sondag van Verheerliking)

Carolyn Brown stel voor dat verskillende skilderye van Jesus se verheerliking gewys word en dat daar op die dissipels se gesigsuitdrukking van verbasing en verwondering gefokus word. Jon Stevens het ‘n paar voorstelle vir voorwerplesse: Gebruik ‘n sonkrag gedrewe tuinlig – die tipe wat jy in die grond in druk. Stevens verbind die sonkrag aan die krag/lig wat van bo kom. Sy ander voorstel sluit aan by die berg waarop vandag se verhaal afspeel. Hy gebruik bergklim-toerusting en die gedagte dat ons dink ons kan God net op die berge sien. Maar Jesus was die hele tyd by hulle. In dieselfde video gebruik hy die voorbeeld van Transformers. Die beste opsie is steeds om gewoon die verhaal van die Skrifgedeelte op ‘n kinder-vriendelike manier te vertel, hetsy uit ‘n kinderbybel of met ‘n poppekas of mbv ‘n video. Jy kan hierdie een vanaf 37 sekondes gebruik. ‘n Goeie opsie is om die video te wys terwyl jy die Skriflesing doen – oefen vooraf om seker te maak jy kry die tydberekening reg.

‘n Bekende teoloog skryf: Die Matteus-evangelie is ‘n kerk-evangelie. Meer as enige van die ander Evangelies handel dit oor die kerk en vir die kerk. ‘n Evangelie oor die aard en roeping en alledaagse lewe en ervarings van die kerk. Inderdaad. Matteus is die enigste van die vier Evangelies wat die Griekse woord wat ons as “kerk” ken, ekklesia (16:18 en 18:17), gebruik om die wyse waarop Jesus die kerk vorm te beskryf. Daarom val die kollig van ons teks

  • allereers op Jesus die Verheerlikte, die Hoof van die kerk, maar
  • tweedens ook op die kerk, op die verdwaasde dissipels saam met Jesus, op hulle wat die opdrag van die kerk op hul skouers sal dra.

Laai af: Word – PowerPoint