Eksodus 19:1-8 – 18 Junie

Derde Sondag in Koninkrykstyd

Hoor met Familietyd by die kinders wie al die ou fliek “Toy Story” gesien het. (As hulle dit nog nie gesien het nie, vertel inleidend die storie van Toy Story en stel die karakters bekend.) Wys hierdie uittreksel, waar die speelgoed sien dat hulle aan Andy behoort, omdat Andy sy naam onder hul voete geskryf het – met permanente ink, nogal! Laat almal vir mekaar vertel wie s’n hulle is. Herinner hulle dat ons mekaar s’n is, maar dat ons ook God s’n is. (Dit sluit aan by die verbond-gedagte in die teks.) Verwys weer na die doop. Soos Andy se naam onder Woody en Buzz se voete geskryf is, het God sy Naam op ons elkeen geskryf. Met die doop sê hy van ons elkeen:  “Myne!”.

Die preekriglyn hak aan by die situasie van die volk drie maande na die Uittog uit Egipte. Die Israeliete het uiteindelik by die berg van God kom kamp opslaan, die plek waar hulle die volgende jaar sou deurbring om die wil van God vir die lewe uit sy hand te ontvang. Om die volk gereed te maak vir hierdie lewensveranderende ervaring by die berg Sinai bly Moses in konstante en direkte gesprek met die Here, soos hoofstuk 19 vir ons vertel. Let op hoe die doel van God se verlossing uit Egipte en voorsiening in die woestyn, self sy verdelging van die Amalekiete, in die uitnodiging tot ‘n intieme en gehoorsame verhouding met God bereik word: “As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’”

Petrus skryf eeue later oor die wyse waarop hierdie doel van God in die geslag gelowiges van die Nuwe Testament op ‘n uitnemende manier verwesenlik word:

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys. (1 Pet. 2:9-10).

Trouens, ons roeping is om seker te maak ons word as lewende stene in dié geestelike huis van God ingemessel, sê Petrus, sodat ons: “‘n heilige priesterdom kan wees wat geestelike offers bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” (1 Pet. 2:5).

Die beginpunt van hierdie Nuwe Testamentiese droom lê dus diep veranker in die verhaal van Sinai waar die Godsvolk die eerste genade van God se roeping ervaar het. Ons teks in Eksodus 19 help ons om weer die essensiële aspekte van ons bestaan as geloofsgemeenskap onder oë te neem.  Behandel daarom die teks in konteks met die klem op wat God gedoen het om ons sy volk te maak. Met ander woorde, wat ons is, wat ons in God se oë is en wat die implikasies is vir ons lewe as enkelinge en as geloofsgemeenskap: Om gestalte te gee aan dit wat God ons gemaak het.

Laai af: Word – PowerPoint

Hosea 5:15-6:6 – 11 Junie

Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Sluit met Familietyd by die kritiek teen die volk aan wat daarop neerkom dat hulle die verbond verbreek. Die ooreenkoms tussen God en Sy volk het 2 kante wat onder meer behels dat hulle Hom sal dien met oorgawe. Gebruik die ingeslote woordspeletjie uit onderstaande teks wat die waarheid onderstreep. Gebruik ook die ingeslote fokusteks in die “Bybel vir almal” wat dalk meer ontvanklik is vir kinders. Die preekriglyn sluit by die feit aan dat God se verhouding met sy uitverkore volk van die begin af toegevou is in bruidstaal. God sien sy volk as sy bruid en dat hulle ontrou aan Hom geword het. Die profete kom herinner telkemale die Here se volk aan hierdie ooreenkoms, met die boodskap dat daar oordeel is vir afvalligheid, maar dat sy hart genadig en oorvloedig van liefde is vir hulle. Hosea is een van hierdie profete. Uit sy profesie blyk God se diepe liefde vir God se volk, maar ook God se afgryse en straf oor hulle sonde.

Laai af: Word – PowerPoint

2 Korintiërs 13:11-13 – 4 Junie

Eerste Sondag in Koninkrykstyd – Drie-eenheidsondag – feesdiens

DinkJeug het in 2021 oulike idees gehad om met families met kinders te gesels oor die Drie-Eenheid. Daar is ook ‘n oulike aktiwiteitsblad. Of sluit aan by die Skriflesing. The Log Cabin Church deur Ellen Howard vra wat die punt is van kerk. In hierdie powerpoint is die prente op die skyfies, maar die prente is breër, met die teks aan die kant, nie op die skerm nie.

Dit is vandag Drie-eenheidsondag, die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Vandag word ons opnuut vervul met verwondering oor wat die Bybel van God getuig. Meer nog, ons word met verwondering vervul om te ontdek wie hierdie God vir ons is, d.w.s hoe God by ons betrokke is. Die voorreg om uit genade in ‘n verhouding met God te staan, oorweldig mens. En ons word opgeroep om te leef op ‘n manier wat pas by mense wat met God in ‘n verhouding staan.

Paulus sluit hierdie brief, gerig aan die gemeente in Korinte, af met ‘n groet in die Naam van die Drie-enige God (13:13): Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal.

Hierdie groet, wat deur die eeue Sondag vir Sondag in Christelike gemeenskappe weerklink, openbaar God en God se gawes aan ons: genade, liefde en gemeenskap met God deur die Heilige Gees. Dit is gróót gawes. Veral as mens in gedagte hou wie die mense is – die eerste hoorders, die Korintiërs, en ook ons, God se gemeente vandag.

Paulus maak daarmee nie alleen ‘n sterk oproep op eensgesindheid en harmonie onder Christene nie, maar maak veral ook die basis vir die oproep baie duidelik: die drie-enige God. Paulus  maak dit baie duidelik dat God van Christene verwag om met mekaar in gemeenskaplike vrede saam te lewe. Paulus spreek dit nie uit as ‘n moralistiese wens of behoefte nie, maar as ‘n oortuiging wat juis berus op die trinitariese God, Vader en Seun en Heilige Gees. Soos die drie persone van die Drie-eenheid vreugde, vervolmaking, aanmoediging, eensgesindheid en vrede verteenwoordig, so moet gelowiges ook met mekaar omgaan.

Laai af: Word – PowerPoint