Sagaria 9:9-12 – 9 Julie

Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Die fokusteks van Sagaria is ’n profesie van ’n koning wat sal kom en op ’n donkie sal ry. In die Nuwe Testament is dit presies wat Jesus gedoen het met Sy intog in Jerusalem. Gebruik ’n paar interessanthede oor donkies om oor die Bybel se aantal verwysings daarna te gesels. Daar is ’n woordspeletjie ingesluit. Die preekriglyn sluit by die aanhaling uit Sagaria in die Nuwe Testament aan. Om die teks reg te verstaan, moet ons egter eers vra: wat was die betekenis van hierdie skrifgedeelte vir die eerste hoorders? Wat was hulle omstandighede en wat het hierdie boodskap vir hulle gesê? In kort was hulle platgeslaan en op soek na hoop. Eintlik omstandighede wat baie ooreenkomste toon met ons vandag in Suid-Afrika beleef. Sagaria se antwoord kan dus ook vir ons relevant wees, omdat sy antwoord met ‘n Koning te make het wat God se goedkeuring wegdra. Die punt is dat ons só ‘n Koning in Jesus het. Ons hoef ook nie nog vir Jesus Koning op aarde te maak nie. Ons moet Hom net erken as Koning. Dan word ons opgeroep om Jesus se voorbeeld van regverdigheid, nederigheid en vrede te volg. In ‘n wêreld vol ongeregtigheid, magslus en onvrede word ons as koningskinders opgeroep om ‘n verskil te maak. ‘n Koningskind is iemand wat met hoop leef te midde van ‘n deurmekaar wêreld.

Laai af: Word – PowerPoint

Jeremia 28:5-9 – 2 Julie

Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

John Stevens werk met die evangelie-teks en gesels oor hoe ons mense laat welkom voel – en hulle in Jesus se naam verwelkom. Gebruik ‘n “welkom”-matjie, of ‘n banier waarop “welkom” staan. Laat almal gesels oor dinge wat hulle laat welkom voel wanneer hulle op ‘n vreemde plek is. Verbind dit aan die evangelie-teks. In ons teks, Jeremia 28 (ons werk met die hele hoofstuk), is daar spanning tussen twee profete: Gananja en Jeremia. Die een verkondig ‘n positiewe boodskap wat die volk wil hoor, die ander een – Jeremia –  ‘n moeilike boodskap van oordeel en lang swaarkry. Twee absoluut teenoorgestelde boodskappe wat vir ons wys dat die stryd tussen die twee profete ten diepste ‘n stryd tussen waarheid en valsheid is. En ons weet met die voordeel van tydsverloop dat Jeremia die waarheid gepraat het. Dit is egter maklik om vandag terug te kyk en te identifiseer wie ware en wie vals profete was. Ons het nie hierdie luukse om te onderskei wanneer ons na profete van ons tyd luister nie. Ons moet elke woord beoordeel en weeg. Uiteindelik gaan dit oor een belangrike beginsel: Roep hierdie boodskap mense op tot die nodige lewensverandering wat in hierdie situasie vereis word of nie? Ons moet in gedagte hou dat die oordeel en genade van God twee kante van dieselfde saak is. Oordeel is genade en genade kom tot uitdrukking in die oordeel: dit roep ons betyds op om te verander. Ons teks is dus ‘n oproep om aan die Here getrou te wees en nie die guns van mense te soek nie. Die uitkoms sal die waarheid van ons oortuiging bewys, al vat dit hoe lank.

Laai af: Word – PowerPoint

Jeremia 20:7-13 – 25 Junie

Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Lees Jeremia 20:7-13 in die Bybel vir almal in Familietyd en vertel die verhaal deur uiteindelik Jeremia se hart op ’n prentjie van ’n menslike skelet (ingesluit) te teken. Brei dan uit oor die betekenis daarvan vir ons. Die preekriglyn fokus op die geweldige uitdagende roeping wat God vir Jeremia gehad het. Jeremia se hele mens-wees was ter sprake. Hy het, soos ‘n vriend altyd sê, “skin in the game” gehad. Ons teks spel teen die einde ook uit waarom Jeremia met sy roeping kon voortgaan. Hy het ‘n Godsgeloof en ‘n Godsbewussyn gehad wat alles moontlik gemaak het. Daarby was hy net ‘n feilbare mens. Die skrifgedeelte is ‘n uitnodiging aan elkeen wat al die bodem, oftewel rock bottom, getref het om ‘n spesiale lament of klaaglied in digvorm te skryf oor dit wat hulle beleef.  Ons kry die elemente van ‘n lament in die ons Skrifgedeelte. Dit bestaan uit die volgende: roep tot die Here, klag, smeekgebed en element van lofprysing.  Hoe kan so ‘n lament lyk uit eietydse gebeure? Byvoorbeeld: Iemand wie se kinders emigreer het, iemand wat hul werk verloor het, iemand wat voel dat hul lewe nie genoegsame betekenis het nie. Die skryf van so ‘n lament moedig gelowiges aan om hul seer en dit wat hulle nie kan verstaan nie na God te neem. Dit bied die geleentheid om dit wat swaar neerdruk uit hul sisteem te bid.  Net iemand wat in ‘n intieme verhouding met die Here leef, kan so rou eerlik met die Here wees soos Jeremia was. Jeremia het uiteindelik hierin gevind dat sy geloof versterk word en hy kon die Here selfs prys. Dit is ook die troos vir die gelowige vandag. In hierdie klaaglied voor die Here lê daar uiteindelik heling wat die gelowige met bewende hande kan neem om struikelend vorentoe te beur na die nuwe Jerusalem.

Laai af: Word – PowerPoint