Jesaja 61:1-4, 8-11 – 13 Desember

Derde Sondag van Advent

Op die derde Sondag in Advent word die derde Adventskrans, wat vreugde simboliseer, aangesteek.  Vir Familietyd kan jy die metafoor gebruik van ‘n potplant waarvan die blare hang. Wanneer ‘n mens water daaroor gooi, is dit sommer gou weer regop en mooi en lewendig. Op dieselfde manier gee die Gees van die Here vir ons nuwe krag en moed. Vers 3 van Jesaja 61 se simboliek sluit hierby aan. Die Here verander die verslae volk in: “Terebinte van Geregtigheid, geplant deur die Here om Hom te verheerlik.” Baie engelse vertalings vertaal mooi: “a crown of beauty instead of ashes.” ‘n Mens kan lekker daarby aansluit. Dit gee ‘n goeie oorgang na die preek. Goeie nuus in ons tyd is nogal skaars. En dié wat daar is, hou gewoonlik nie lank nie. Dit waai gou oor en al die slegte nuus oorspoel ons weer. Israel het ín die ballingskap na goeie nuus gesmag. Hulle was platgeslaan deur aanhoudende slegte nuus. Maar dan klink hierdie verrassende lied in Jesaja 61 op. Dit is goeie nuus wat van God self af kom. Dit is ‘n woord vir gebrokenes van hart. God sien die gebrokenes raak. Hy verstaan hulle. Hy bring vrylating vir die gevangenes. Hulle ontvang selfs ‘n nuwe naam: bome van redding. Dis ‘n beeld vir stabiliteit, vitaliteit en betroubaarheid. Gelowiges is die Here se dienaars wat bouend, helend en genesend in die samelewing moet werk. God se nuwe wêreld moet in nuwe mense, nuwe verhoudings en nuwe strukture sigbaar word. As ons dié goeie nuus gehoor het – góéd gehoor en ons eie gemaak het – het ons alles wat nodig is om getroos te lewe en te sterwe. Dan het ons ‘n geseënde Kersfees gehad!

Laai af: WordPowerPoint

Jesaja 40:1-11 – 6 Desember

Tweede Sondag van Advent

Op die tweede Sondag in Advent word die tweede Adventskers aangesteek. Dit simboliseer vrede. Hiermee bely ons dat Christus se koms vrede bewerkstellig. Tussen mense hier op aarde, maar ook tussen ons en God. In die eerste vers van Jesaja 40 kom God met ‘n opdrag dat sy volk wat in ballingskap is, getroos moet word (Engelse vertaling: “Comfort, comfort my people”). Hierdie woorde is bedoel vir die volk wat getwyfel het of God hulle nog wil en inderdaad kan red. God kom egter met die goeie nuus dat daar sagkens met sy volk gepraat word. Dat die pad reguit gemaak word. Nie bloot vir die ballinge om by die huis te kom nie, maar ook vir God om terug te keer Jerusalem toe. Hulle hoor dus dat God kan en wil red. Hierdie woord “troos” het egter nie bloot die betekenis van iemand wat jou optel en jou trane afvee nie. Dit beteken eerder om te bemoedig en te versterk. Ons kan dit aflei van die lettergreep “fort” in die Engelse “comfort” (Latyn: comfortare). Dit beskryf die krag om ‘n situasie te kan hanteer. Jesaja se boodskap van troos gaan dus om die bemoediging en sekerheid van God se hulp en krag. Dit word pragtig saamgevat in Jesaja se twee metafore vir God se betrokkenheid by die volk. Hy is die Kryger-Herder. En Hy is die magtig-deernisvolle Koning-Kind. Dit is twee metafore wat amper paradoksaal is. God kom as magtige kryger wie se mag die vertroue en sekerheid inboesem waarna die ballinge verlang het. Hy is sterker as die Babiloniese gode. Maar Hy kom ook as die Herder. Die een wat vertroos en beskerm en sagkens werk. Dit is waarin die boodskap ook vir ons lê in die voortslepende trauma van hierdie jaar. Ons wonder ook soms of God nog kán en wíl red. Ons voel immers oorweldig deur die nood en geweld in ons wêreld. Dit is waarom hierdie boodskap ook vir ons troos en versterk. Kyk, hier is jou God! Hy bring die vrede waarna jy met jou hele wese smag!

Laai af: WordPowerPoint

Jesaja 64:1-9 – 29 November

Eerste Sondag van Advent

Met die aanvang van Advent word die Adventskrans kers aangesteek wat hoop simboliseer. Uit die OT hoor ons in Jesaja 64:1-9 die Godsvolk se smeekgebed dat God hulle sal verlos. Dat Hy die berge sal skud in sy verskyning! Dat Hy tot ons redding sal verskyn, soos Psalm 80 dit liries beskrywe. Daardie hoop het in Christus ‘n werklikheid geword. Paulus verklaar aan die Korintiërs dat God in Christus Jesus met sy eerste koms ons reeds in alles ryklik geseën het (1 Kor 1:3-9). Markus verkondig daarby die Wederkoms van die Seun van die mens met groot krag en majesteit (Mrk 13:24-37). Ons weet nie wanneer dit sal wees nie, maar ons wag daarop dat Hy ons nie aan die slaap kry nie.

Vir Familietyd kan jy John Stephens se idee gebruik om met die kinders oor wag te gesels. Bring ‘n kaartjie waarop daar staan: “Moenie oopmaak voor Kersfees nie”. Gesels dan oor hoe ons wag op Kersfees. Verduidelik die simboliek van die Adventskrans sowel as die Adventskalender en moedig families aan om dit by die huis te maak, waarmee die weke en dae tot Kersfees afgetel kan word. Moedig die kinders ook aan om geskenke vir minderbevoorregte kinders te gee.

Met dít as inleiding kan jy dan met die preek aansluit by die afwagting en verlange na God se teenwoordigheid wat die eerste Sondag in Advent tipeer. Dit is die verlange waarvan ons in ons sleutelteks Jesaja 64:1-9 lees. Die profeet herinner daar die Here aan sy magtige dade in die verlede. En bid dat die Here weer met krag sal optree. Die berge sal skud en soos ‘n vuurvlam Homself aan die nasies sal bekend maak. En soos ‘n pottebakker die volk sal hervorm om aan Hom alleen te behoort. Sodat die heilige stad en die pragtige tempel weer as getuies van God se teenwoordigheid op aarde kan optree. “U is ons vader, Here!” Jesaja steek dus in ons die hoop aan dat God ook nou weer in ons eie kontekste Homself sal openbaar. Ons weet God se reddingswerk is reeds voltrek. Maar ons is ook maar té bewus daarvan dat dit nog nie voleindig is nie. Ons verwag God se teenwoordigheid, maar rondom ons sien ons die pandemie, ekonomiese verwoesting, en mense wat geweldig swaarkry. Ons vra: “Kom Here, kyk tog nou ‘n slag van die hemel af! Kom verander ons lot!” Hierdie gebed is nie triomfantelik nie. Dit spreek nie van selfvertroue in die “tussentyd” nie, maar van Godsvertroue.  Dit ontken dus nie die noodkreet van ons lewe, ons wêreld en van die kosmos nie. Maar ons onthou wie die Pottebakker is. Ons Vader. Ons teks lei ons dus in 2020 die Adventstyd binne. Dit lei ons uit ‘n jaar van soveel ontnugtering, van Covid-19, van soveel swaarkry en soveel struweling op politieke sowel as kerklike terrein. Na die nuwe hoop wat net ons God kan bring.

Laai af: WordPowerPoint

Psalm 100 – 22 November

Vyf en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Christus die Koning

Hoe roep julle ma of pa julle?  Kan julle hulle stemme herken?  Hoe weet julle?  Kan julle hoor of hulle opgewonde is? Of kwaad? Watter troeteldiere het julle?  Hoor julle honde as julle roep? Kom hulle na julle toe?  En katte? En kanaries? Ons hoor ons ma en pa as ons hulle ken. Hoe beter ons hulle ken, hoe beter luister ons na hulle.  Dieselfde met ons troeteldiere.  Hoe beter hulle ons ken, hoe beter luister hulle na ons. Dit werk so met skape ook.  As jy hulle roep, sal hulle nie na jou toe kom nie.  Maar as die skaapwagter, die herder hulle roep, kom hulle dadelik.  Want die skape ken die skaapwagter se stem. Dit is ook so met die Here Jesus.  Hoe beter ons Hom ken uit sy Woord, hoe beter verstaan ons wat Hy sê. Daarvoor moet ons tyd deurbring met die Bybel.  Moet ons lees en bid. Psalm 100 is seker een van die bekendste lofpsalms wat steeds gesing word in ons kerke.  Die titel van die Psalm is nie verniet nie: “‘n Psalm.  Vir lofprysing.” (2020 vertaling) en “‘n Dankpsalm” (1983 vertaling).  Albei titels is verantwoorde vertalings van die oorspronklike, omdat die woord tôdâ vir baie betekenisse gebruik kan word: lofprysing, danklied, verklaring, en selfs vir belydenis (vgl. bv. Jos. 7:19; Esra 10:11). Dit is ‘n kort Psalm en daarom wil ek gesels ons oor die inhoud van die psalm in terme van drie perspektiewe:

  • Hoe God geteken word,
  • Wie Hom moet loof, en
  • Hoe ons Hom moet prys en dank.

Laai af: WordPowerPoint

Rigters 4:1-7 – 15 November

Vier en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Soos met alle narratiewe tekste, kan jy gewoon die Bybelverhaal op ‘n kindervriendelike manier vertel. Jy kan dit uit ‘n gunsteling Kinderbybel vertel. Daar is ook video’s en ‘n mooi inkleurprent. Die preekriglyn begin met die verhaal van ‘n natuurlike diamantveld in ‘n nasionale park in Arkansas. As jy ‘n diamant sou optel, kan jy dit vir jouself hou. Ongelukkig is daar nie meer veel diamante oor nie. Om een te vind, moet jy vroegoggend voor sonsopkoms daar wees sodat die strale van die son dalk op ‘n weggesteekte diamant in die veld kan skyn en dit blink. Soms moet jy wag tot laatmiddag as die son sak om iets te sien blink. Dit is dus ‘n wag-en-sien besigheid. Die onderdrukking van die Here se mense was erg. Hulle het iets spesiaals nodig gehad – iets wat soos ‘n diamant blink. Die magte rondom hulle was sterk en onverbiddelik. Hulle het dit oor hulleself gebring. Gewoontemisdadigers. Só beskryf Rigters die mense wat die beloofde land binnegetrek het. In hierdie donker tyd skitter daar ‘n diamant. Op die pad tussen Jerusalem en Efraim, het ‘n profetes onder ‘n boom gesit. Dag na dag het mense na haar toe gekom. Sy het hulle gehelp om geskille uit te sorteer. Sy was ‘n wyse persoon. Haar reputasie was goed. Sy het gesag gehad. Sy het na mense geluister. Sy het baie verhale van swaarkry gehoor. Soos die mense in Arkansas soms ‘n diamant ontdek as die son se lig daarop skyn, het sy baie mense versterk. Sy het egter nie net na mense geluister nie. Sy was ‘n profetes. Oor die jare het sy geleer om op God se golflengte te wees. Hoe sy God se stem gehoor het, weet ons nie. Sy het egter dag in en dag uit, van vroegoggend tot laataand gewag dat die son van God se openbaring op die woorde sal skyn wat sy moes meedeel. Toe kom die dag. God praat met haar.

Laai af: WordPowerPoint

Josua 24:1-3a, 14-25 – 8 November

Drie en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Hierdie teks help kinders om te begin verstaan dat ’n mens keuses maak in die lewe, en dat die keuses gevolge het.  Berei vooraf twee blikkies voor deur die etikette van ‘n blikkie boontjies (of iets waarvan kinders nie sal hou nie) en ‘n blikkie ingelegde vrugte (of iets wat kinders sal geniet) om te ruil.  Nooi twee kinders vorentoe en laat een van hulle kies watter blikkie hulle wil hê.  Wanneer die blikkie oopgemaak word, moet albei eet wat hulle gekry het – hul keuses het gevolge. Vertel dan die verhaal van die teksgedeelte dramaties en wys uit hoe Josua hulle waarsku dat hulle nie maar in die land kan gaan doen wat ander mense doen nie, en dan dink hulle kan steeds God se mense bly nie. In die preekriglyn vertel Annes Nel hoe hy onthou die eerste keer toe hy Namibië binnegekom het. “Na sowat 740 km staan hierdie padteken langs die pad: ‘Windhoek 810 km.’ Dit het my moed gebreek.” Soms bemoedig padtekens mens weer, veral hoe nader jou bestemming kom. Padtekens is baie belangrik. Dit help ons om te weet of ons moet stop of ry, mag verbygaan of nie en hoe ver die volgende bestemming is. Die verhaal van Israel is vol sulke padtekens: Abraham, Isak, Jakob, Josef, Egipte, die uittog, die woestyntyd en die intog. Nou is dit asof die groot bord voor hulle staan: “Bestemming bereik! Julle pad van swerftog het aan ‘n einde gekom.” Dit is egter nie net ‘n bestemming wat bereik is nie. Dit is ‘n uitnodiging om die voetspore van God in hulle reis tot hier, in hul geskiedenis te sien. Dit is om hulle bewus te maak dat hulle ‘n lewende, kragtige en wonderlike God aanbid. Dit het lank geneem — geslagte — maar God het gedoen wat Hy belowe het. Miskien is dit nou ook tyd om te dink oor die voetspore van God in ons lewe. Ons kan die tye onthou toe ons in donker plekke was en God ons opgetel en uitgelig het. Ons kan ‘n siekte onthou en hoe die Here ons genees het. Ons kan sonde onthou wat ons gepleeg het, die pyn wat ons veroorsaak het en hoe die wonderlike boodskap van God se vergifnis ons harte warm gemaak het. Dit is voetstappe van die genadige, liefdevolle God wat omgee.

Laai af: WordPowerPoint

Sleuteltekste 2020-21

Hier is die Sleuteltekste vir die kerkjaar 2020-21. Dit vorm die basis vir die 24ste uitgawe van Woord en Fees (voorheen bekend as Preekstudies met liturgiese riglyne). Dit kom ook vanjaar in ’n nuwe formaat. Bybel-Media stel dit elektronies beskikbaar. Jy sal dit vind by Missio.org.za.

Op plekke is die Revised Common Lectionary opsy geskuif om plek te maak vir wat die opstellers meen toepaslike temas en tekste vir hierdie tyd van Covid-19 is. Die uitgangspunt is steeds om sover moontlik aan die hand van die tekste van die Revised Common Lectionary en die ritme van die seisoene van die kerklike jaar kreatiewe voorstelle vir prediking én liturgie aan te bied.

Laai af: WordExcel

Josua 3:7-17 – 1 November

Twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Hervormingsondag

Daar is ‘n oulike Kinderbybel-video van vandag se Skriflesing ingesluit. Jy kan die Skrifgedeelte ook opvoer met 12 mans wat groot klippe in die paadjie af dra en voor in die liturgiese ruimte neersit. Dan kan jy gesels oor die dinge wat ons help om te onthou – ons eie stories, ons families se stories, God se stories met ons. Of gesels oor die Ark, miskien met ‘n model om dit visueel uit te beeld. Ingesluit is ‘n eenvoudige patroon wat ook vir die kinders as afdrukke gegee kan word om elk self so ‘n model te maak. Die preekriglyn skop af met hierdie jaar van onsekerheid, 2020. Mens het die aanvoeling dat dinge nie sommer weer gaan wees soos dit was nie. Iets groots het verander. Maar hoe dinge vorentoe gaan lyk, dit weet ons nie verseker nie. In sulke tye is mens meer sensitief en oop vir mense wat voorheen in groot oomblikke van oorgang was. Ons teks is ‘n voorbeeld hiervan. Die Israeliet was slawe in Egipte. Die Here het hulle onder Moses bevry en hulle in die woestyn tot sy volk gevorm. Nou is Moses weg en moet hulle die beloofde land, ‘n nuwe toekoms , onder nuwe, onbekende leierskap binnegaan. In Josua 3 moet God se volk die grens oorsteek na ‘n nuwe toekoms. Die ou sekerhede val weg, want daar is ‘n nuwe, onsekere leierskap. Daar is egter ‘n nuwe sekerheid, die brose, onmagtige teken van die Here se magtige leiding.

Laai af: WordPowerpoint

1 Tessalonisense 2:1-8 – 25 Oktober

Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Lees uit Matteus 22 die opsomming van die Wet uit Die Nuwe Testament vir Kinders. Om te wys hoe slim Jesus geantwoord het toe die wetskenner Hom probeer uitvang het, maak gebruik van die Tien Gebooie. Druk elke gebod op ’n A4-bladsy uit en gebruik twee groot skerms/blaaiborde/mure met die opskrifte: “Liefde vir God” op die een en “Liefde vir mense” op die ander. Vra die kinders om jou te help om die Tien Gebooie te sorteer volgens hierdie twee opskrifte sodat hulle (en die gemeente) kan sien dat Jesus se Groot Gebod nie ’n nuwe idee in die Nuwe Testament was nie, maar van die begin af God se plan vir die mensdom en ons verhouding met God was. Paulus skryf 1 Tessalonisense na aanleiding van ‘n verslag wat hy oor die gemeente in Tessalonika ontvang het. Daar is rede om te glo dat dit die heel oudste Christengeskrif is waaroor ons vandag beskik. Met die skryf van die brief teen die einde van 50 nC, vestig Paulus ‘n patroon vir die uitdra van die evangelie wat vir hom algemeen word. Hy besoek ‘n strategies geleë dorp of stad met sy metgeselle, en vestig daar ‘n geloofsgemeenskap met wie hy dan deur gesante en briewe kontak hou. Die verslag wat hy wat Timoteus na sy besoek aan Tessalonika ontvang het, het daarop gedui dat die gelowiges in Tessalonika uiters swaar gekry het. Een van die redes hiervoor was dat Paulus as hulle stigter deur hulle teenstanders daarvan beskuldig is dat wat hy hulle geleer het, vals was, dat hy onbetroubaar was en dat hy bloot vanweë sy eie gierigheid opgetree het. Die feit dat hy en Silas so vinnig uit Tessalonika moes vlug, het hulle uiters kwesbaar gemaak vir die beskuldiging dat hulle iets gehad het om weg te steek. Daarom beklemtoon Paulus sowel hulle eie persoonlike integriteit as die betroubaarheid van hulle boodskap in 2:1-12. In die antieke wêreld was daar allerlei rondreisende filosowe en predikers wat vir suiwer geldelike gewin nuwe godsdienste of idees verkondig het. Paulus wil dit duidelik maak dat sy bediening nie soos hulle s’n was nie.  In 1:5 het Paulus reeds na “ons evangelie” verwys, om daardeur dit duidelik te maak dat die evangelie nie iets was wat vir hulle net van teoretiese belang was nie. Dit het hulle persoonlik geraak. Daarom probeer hulle nie die guns van mense bekom nie, maar eerder in gehoorsaamheid aan God optree (2:4). Ons moet dus oor onsself vra of ons self gevorm is deur die boodskap wat ons verkondig, en of ons leef vanuit die wete dat God ons harte deurgaans deursoek.

Laai af: WordPowerPoint

1 Tessalonisense 1:1-10 – 18 Oktober

Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Die familie-oomblik kan baie lekker by die inleiding van die preek aansluit. Laat kinders vertel wie hulle bewonder, wat hulle in daardie persoon bewonder en wat hulle wil “namaak” – op watter maniere hulle soos daardie mens wil wees. Iewers tussendeur – of dalk die hele tyd terwyl julle gesels – kan julle jul eie weergawe van “Simon Says” speel.  Simon Says werk so:  die voorganger sê “Simon Says” en sê ‘n aksie en voer dit terselfdertyd uit.  Al die ander moet dit dan ook doen.  Iewers langs die pad sê die voorganger nie “Simon Says” nie, maar gee bloot ‘n opdrag van ‘n aksie en voer dit uit, bv:  “vat aan jou kop”.  Die truuk is dat jy net die opdrag moet volg as daar eers gesê is “Simon says”. As daar nie “Simon says” gesê is nie, en jy voer steeds die opdrag uit, is jy uitgevang! Verbind dit aan die gedagte van voorbeelde en wie se voorbeelde ons volg – dikwels sonder om te dink. Die preekriglyn sluit by die verandering wat Sosiale media aan ons wêreld gebring het. Aangesien hierdie platforms mense aan mekaar verbind, is dit ook maklik om te sien wie het die meeste volgelinge. Veral ‘n platform soos Twitter, wat onbeperkte direkte toegang tot profiele gee, het megasterre geskep. Die krag van hierdie persoonlikhede en profiele lê daarin dat mense met hulle identifisieer en die lewe waarskynlik soos hulle sien. Mense is wesens wat naboots. Mens sien op sosiale media hoe groot die krag van nabootsing is. Die invloed wat voorbeelde op persone kan hê, speel vandag steeds ‘n belangrike rol, ook in die vorming van gelowiges se denke. Die tekens van hierdie sosiale druk en onderdrukking is verrassend genoeg ook duidelik in 1 Tessalonisense te bespeur wanneer Paulus skryf: “In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom” (1:6). Ons lees in Handelinge 17 hoe Paulus die evangelie die eerste keer in Tessalonika verkondig het. ‘n Betoging het ontstaan en die hele stad het in verset teen Paulus en Silas in beroering gekom. Dit lei daartoe dat die gelowiges Paulus en Silas in die nagdonker liewer uit Tessalonika wegstuur. So, waarom het die Tessalonisense weggedraai van vals afgode en begin om die ware God te dien (9)? Dit is waaroor hierdie teks dan gaan om ons op te roep om sterk te staan vir die evangelie en ‘n voorbeeld vir ander te word.

Laai af: WordPowerPoint