Numeri 11:24-30 – 28 Mei

Pinkster Feesdiens

Met Familietyd maak gebruik van ’n Pinksterritueel. Gee byvoorbeeld aan die kinders die kans om kerse by die Christuskers aan te steek en voor in die kerk te plaas as teken dat die Pinkstervlam ook op elkeen van ons rus. Kerse kan ook by die Christuskers aangesteek en in die liturgiese ruimte geplaas word om die tonge van vuur te simboliseer. Die Taize gemeenskap het ’n skouspel-agtige ritueel waar elkeen ’n kersie ontvang en die vlammetjies vir mekaar “aangegee” word totdat almal se kersies brand. Vir die herbevestiging van die doop kan gedooptes hulle hande in die doopbak plaas en ’n kruisteken op die voorkop maak. ‘n Besige en interessante opsie is die voorstel wat by www.textweek.com gevind kan word. Die Engelse teks word net so weergegee, en die spesifieke web adres is http://www.sundayschoollessons.com/pent16kart.htm

Die preekriglyn oor die hoofstuk in die boek Numeri fokus op die veelbewoë reis van Israel deur die woestyn. Dit is die verhaal van twee generasies se reis met God. Die eerste generasie verspeel hulle kanse om die beloofde land in te neem weens hulle arrogante opstand teen en ongeduldige wantroue van die Here. Die Here gee egter nie moed op om sy doel met sy volk te bereik nie. Hy bring die tweede generasie ná veertig jaar na Kanaän in vervulling van sy verbondsbeloftes in Genesis aan Abraham, Isak en Jakob. Sy verbond met die aartsvaders is dus die dryfkrag agter die Uittog uit Egipte én die uiteindelike Intog in Kanaän. God is daarom nie net die God van beloftes en bevele soos in Genesis, Eksodus en Levitikus nie. Hy is ook die God wat bevel neem en sy mense begelei deur sy Gees en sy Woord, soos in Numeri en Deuteronomium hierna. In hierdie verhouding met God speel vertroue en gehoorsaamheid steeds die primêre rol, ook vir ons. Al hierdie verhale leer ons hoe om Jesus as die Leidsman en Voleinder van die geloof te volg, soos die Hebreërskrywer later sou skryf.

Laai af: Word – PowerPoint

Handelinge 1:6-14 – 21 Mei

Sewende Sondag van Pase

Sluit in Familietyd aan by John Stevens wat ‘n gloeiende unicorn kroon dra en gesels oor die konsep van getuies wees. As jy nie ‘n gloeiende unicorn kroon wil dra nie, sit iets wonderlik in ‘n skoendoos of ander kleinerige boks – verkieslik iets wat gloei in die donker. Nooi kinders om te kom loer wat dit is. Laat hulle dan vir die grootmense vertel wat hulle gesien het. Verduidelik wat dit beteken om ‘n getuie te wees: wanneer jy iets wonderlik sien en vir ander vertel wat jy gesien het. Afhangende van die kinders se ouderdomme en die gemeente se spraaksamigheid, kan julle dan gesels oor die dinge van Jesus waarvan julle kan getuig.

Die preekriglyn sluit aan by die intense betekenis van die eerste verse van Handelinge. Dit boek open immers met indringende gesprek oor “tye en spesifieke geleenthede”. In hierdie gesprekke val die klem op:

  • God wat in die “tye en spesifieke geleenthede” aktief aan die werk is – onder andere deur Jesus liggaamlik in ‘n nuwe lewe op te wek.
  • Die verantwoordelikheid van Jesus se dissipels in die tyd tot hulle beskikking, met die Gawe wat God hulle gee, en
  • Jesus wat opvaar na die hemel, met die belofte: Hy “… sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het”.

Met Jesus se hemelvaart, sê ons teks, is Jesus se dissipels se gesigte gedraai na die toekoms toe. Jesus sal weer kom. Dit is ons verwagting. Hierdie tyd van afwagting is egter nie leë tyd nie. Dis nie tyd om op jou hande te sit, jou bene te swaai, jou oë toe te druk en te sug nie. Die tyd van afwagting is gevul met aksie en betekenis. Die ” tye en spesifieke geleenthede” wat die Vader aan Jesus se dissipels gee, is ‘n tyd om die goeie nuus van Jesus se koningskap deur getuienis te deel. Hierdie aksie geskied in vennootskap met God self, wat die dissipels krag gee deur die Heilige Gees oor hulle uit te giet. Dit beteken Jesus se dissipels werk aktief in alle tye en op alle plekke in diens van God se koningskap, in afwagting op Jesus op die koningskap van God by sy terugkeer ‘n volle werklikheid te maak. Die angel is uit die toekoms gehaal. Die toekoms is nie iets wat ons moet vrees nie. Ons oë is na die toekoms gedraai. Ons verwag Jesus. Jesus sal weer terugkom net soos Hy gegaan het. Die toekoms is in Jesus se hande, en ons ontvang dit uit sy hand. Diegene wat hulle oë op hierdie Jesus hou, en met hulle gesigte na die toekoms leef terwyl hulle God dien en van Jesus getuig, is die mense met ‘n betekenisvolle, gevulde lewe en toekomsverwagting.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 93 – 18 Mei

Hemelvaart Feesdiens

Lees die beskrywing van die hemelvaart soos in die NT vir kinders. Gebruik die onderstaande metafoor van bekendstelling…

Aan die begin van die jaar, wat saamval met die begin van die skoolkwartaal, het ‘n nuwe onderwyser by ’n skool aangesluit. Die skoolhoof het ruim tyd afgestaan om die nuwe personeellid te verwelkom. Hoe meer die skoolhoof oor die personeellid se goeie opleiding uitgewei het, sy besondere leierseienskappe, die vorige prestasies wat hy behaal het en ook oor sy drome vir die nuwe skool, hoe méér opgewondenheid was daar by die ander personeellede, die ouers en veral die kinders. Die personeel was dankbaar vir so ’n talentvolle kollega wat by hulle aangesluit het. Die ouers het ’n gerusstelling beleef dat hulle kinders deur ’n goeie onderwyser onderrig gaan word. Hulle kon nie wag om by die nuwe onderwyser in die klas te kom nie. Ander het uitgesien na sy sportafrigting, want hulle wou graag op sportveld presteer. Toe een van die leerlinge geleentheid kry om ’n welkomswoord namens die kinders oor te dra, het sy afgesluit met: “… ons skool is bevoorreg om een van die ‘coolste’ onderwysers te hê”. Die opgewondenheid het nog verder oorgespoel in die sing van ’n pragtige welkomslied vir die nuwe onderwyser. Hierdie onderwyser is besonder goed voorgestel aan almal met wie hy moes saamwerk. Ons skriflesing vandag kom uit Psalm 93. Dié skrifgedeelte stel die Koning van alle konings aan ons bekend. Die Here is Koning! Dié soort bekendstelling van die Here as die Koning gebeur ook in verskeie ander tekste in die Ou Testament. Die Nuwe Testament stel Jesus aan ons voor as Verlosser en lewende, opgestane Here, as die Een wat ook Koning van ons lewe wil wees. Jesus gee vóór sy hemelvaart verskeie opdragte aan sy dissipels. Hy verseker hulle dat Hy in die toekoms op ‘n spesiale manier by hulle teenwoordig sal wees. Dié boodskap gee aan hulle rede om baie opgewonde fees te vier. Die dissipels – en ons – moet sáám met Jesus die belangrike werk wat Hy hier op aarde begin het voortsit.

Vir die preekriglyn sluit ons uiteraard ook aan by Hemelvaart. Die Nuwe Testament beskryf Hemelvaart as die geleentheid waar die Here Jesus Christus aan die regterhand van die Vader gaan sit het om te heers oor hemel en aarde, hoog verhewe bo al die magte en kragte. Binne die Gereformeerde geloofstradisie, waarvan ons deel is, word Christus se hele bediening as’t ware terugskouend vanuit sy Hemelvaart verstaan. Die Seun van God, wat mens geword het, geleer, gelei en gesterwe het, en uit die dood opgewek is, het deur alles gegaan ter wille van ons, en sit hierdie bediening voort aan die regterhand van die Vader, vanwaar Hy sal kom om alles deur sy oordeel reg te stel. Hemelvaart lê aan die hart van ons geloof en in die sentrum van ons toekomsverwagting. Deur die leë hande van geloof en deur navolging kry ons deel aan die heil wat die Koning, Jesus Christus bring. Christus op die troon hou ons toekoms in sy hande. Dit is gepas om op ‘n dag soos vandag Psalm 93 te lees en te oordink.

Laai af: Word – PowerPoint