Handelinge 17:22-31 – 14 Mei

Sesde Sondag van Pase

Met Familietyd vertel die storie “MIETJIE SOEK HAAR MA” deur PD Eastman. Wanneer die voëltjie Mietjie uit haar eier kom, is sy alleen. Sy begin ‘n reis op soek na haar ma – en vra vir alles en almal of hulle haar ma is. Paulus vertel vir die mense in Atene van Jesus. Hy sê God het ons so gemaak, dat ons soos Mietjie wat haar ma soek, altyd vir God soek.  Of, gebruik Carolyn Brown se voorstel, met die prentjie van blinde mense wat almal ‘n olifant verskillend beskryf, vanuit hul beperkte perspektief.

Die preekriglyn begin met Paulus wat in Atene is waar hy wag vir Silas en Timoteus om van Berea af te kom, na die opstand rondom Paulus en sy boodskap. Atene was destyds ‘n soort wêreld op sy eie. Amper soos Londen of New York. ‘n Soort kultuursentrum van tempels, teaters, markpleine – waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is. Amper ‘n soort geestelike middelpunt vir die denkendes van daardie tyd.  Dit was die soort plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur. Soos Lukas dit hier stel: “Al die Atheners en ook die vreemdelinge wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.” Paulus raak verontwaardig (sy gees roer in hom) weens die baie afgodsbeelde in die stad. En hy begin in die sinagoge met die Jode en ander godvresendes te praat en later ook met die verbygangers op die stadsplein, by die pottebakkersmark, die kerameikos, wat weens die baie afgodsbeelde ook die godemark genoem is, te praat. Nog later ook by die Stoa Poikile, ‘n pilaargang op die Areopagus wat met bont kleure geverf was, waar die wysgere en redenaars, die manne wat kan praat, bymekaargekom het. En die hart van sy boodskap is dit. God: “roep alle mense oral op om hulle te bekeer.” Dit is in ‘n neutedop die boodskap wat die Here ook vandag vir ons het.

Laai af: Word – PowerPoint

Handelinge 7:55-60 – 7 Mei

Vyfde Sondag van Pase

Vra vir die kinders wie van hulle weet wat ‘n martelaar is? Ja, dit is iemand wat gemartel word omdat hy of sy glo. In die geskiedenis van die kerk was daar baie Christene wat gemartel is net omdat hulle in Jesus glo! Sommige van hulle is in ‘n arena gesit saam met leeus. ‘n Arena is amper iets soos ons rugbystadions. In die middel was daar ‘n oop gedeelte en rondom baie sitplekke vir die toeskouers. Die mense het dus gesit en kyk hoe die leeus die Christene verskeur. Dit is verskriklik wreed, nè?

Dink julle daar is vandag nog mense wat vir hulle geloof in Jesus gemartel word? Mens kan dit amper nie glo nie, maar daar is nog steeds martelare! Een van die plekke waar dit redelik onlangs nog gebeur het, was Soedan, in die noorde van Afrika. Die regering was onder die beheer van Moslems en hulle wou die Christene uitroei. Daar was ‘n lang burgeroorlog tussen die groepe – vir 22 jaar lank (van 1983 tot 2005). Twee en ‘n half miljoen mense is doodgemaak. Helfte van hulle was van die Episkopaalse kerk. Baie kerkleiers is uitgesonder en het ‘n marteldood gesterf. Ten spyte van hierdie wrede vervolging, het die Christendom verstommend gegroei. In 1983 was net 5% van die bevolking in die suide van Soedan Christene. Vandag is meer as 85% van die ses miljoen mense daar Christene.

Dit is waaroor vanoggend se preek ook gaan. Ons gaan bietjie gesels oor die verhaal van nog ‘n martelaar. Sy naam was Stefanus. Hy het in Jesus se voetspore gevolg en daarom is hy gestenig. Hulle het hom met klippe doodgegooi… (Verhaal oor Soedan aangehaal uit Ewald van Rensburg se boek: God seën Afrika, Lux Verbi 2009, bl 67-69.)

Die preekriglyn sluit aan by Paastyd. Ons is besig om na te dink oor die betekenis van Jesus se lewe, sterwe en opstanding uit die dood. Vandag ontmoet ons vir Stefanus, iemand wie se gedrag in die aangesig van die dood radikaal verander is deur die lewende Here Jesus Christus. Wat hoor ons vandag as ons hierdie gedeelte oordink? Die Leesrooster vir lidmate som die boodskap van hierdie gedeelte aangrypend op deur vir momente te onderskei:

Moment 1: Anders kyk

Stefanus sien ‘n ander realiteit raak. Dit is juis hoekom die mense hom wil stenig. Hy konformeer nie met die samelewing se tradisies en idees om beheer deur politici te verseker nie. Hy kies doelbewus om God te volg. Dit is veral duidelik in sy laaste woorde: “Here Jesus, ontvang my gees!” (v 59). Ten spyte van die mense se haat bid Stefanus vir hulle. Hy gebruik ‘n Joodse slaaptydgebed en bid: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” (v 60). Dit is ‘n sterk herinnering aan geloof in die ewige lewe. Hy sien die opgestane Heer!

Moment 2: Om vol te wees van die Heilige Gees

Stefanus word beskryf as iemand wat vol is van die Heilige Gees. So vol dat daar nie nog plek is vir iets anders nie. Dink jou dit in! Daar word ‘n parallel getrek met Jesus. Stefanus doen wat van hom verwag is, maar die mense het nie verstaan nie. Net soos met Jesus wou hulle hom dood hê. Hulle sien dat iets anders is, maar die konfrontasie met iemand wat lewe en die waarheid praat, bring die lelikste in hulle uit. Laat die Gees toe om jou te verander en te vorm om meer soos Jesus en minder van die eie ek te wees.

Moment 3: Onverklaarbaar

Die Afrikaanse spreekwoord lui: Die waarheid maak seer. Stefanus se opponente skreeu en bedek hul ore. Hulle is woedend. Hulle toon ‘n rou haat teenoor iemand wat hulle nie ken of verstaan nie. Dit sou sin maak as Stefanus so reageer, want dit is dan hy wat gestenig word, nie hulle nie! Die haat loop oor as hulle ‘n klip optel en hom doodgooi. Om Jesus te volg maak ons nie immuun teen seerkry nie. Om die regte ding te doen is nie sonder gevolge nie, maar ons kan nie anders as om op te tree volgens die Gees nie.

Moment 4: God is vir jou

Die Gees van God is by Stefanus, nie teen hom nie. Dikwels voel dit of God nie regtig aan ons kant is nie. Dinge gebeur wat nie moet nie. In ‘n oomblik waar ons absolute angs en paniek sou verstaan, ervaar Stefanus egter die glorie van God. Hy sien Jesus aan die regterkant van God staan. Die posisie dui die belangrike plek van Jesus aan, maar ook dat God die heerser is oor die heelal. Jesus staan, Hy sit nie, soos ons gewoonlik in die Evangelies lees nie. Dit dui op Jesus se gereedheid om Stefanus te verwelkom en om as sy advokaat op te tree.

Met ‘n teks soos hierdie op ons harte ingegraveer kan ons die lewe aanpak.

Laai af: Word – PowerPoint

Handelinge 2:42-47 – 30 April

Vierde Sondag van Pase

Carolyn Brown stel voor dat jy met die Skriflesing die gemeente vra om hul hande op te steek elke keer wat hulle ‘n aktiwiteit in die teks hoor. Stop dan telkens en gesels oor hoe dié aktiwiteit in jul gemeente gebeur. Sy stel ook voor dat jy aankondig dat vandag ‘n toets-dag is. Vra lidmate wie dink hulle kan Psalm 23 uit hulle kop uit opsê. Laat die gemeente dit dan sáám opsê. Een alleen mag sukkel, maar saam kan die gemeente dit maklik onthou. Dit sluit aan by die voordeel van die lewe as geloofsgemeenskap. ‘n Ander voorstel wat sy maak, is dat jy ‘n bak vol toegedraaide lekkernye (dalk Paaseiers) bring. Vertel dat jy die lekkernye op jou lessenaar kan sit en elke dag een eet. Raai hoe lank dit sal vat. Verbeel julle saam hoe lekker dit gaan wees. OF jy kan dit nou geniet, saam met die hele gemeente. Laat die kinders die lekkernye uitdeel. Terwyl almal saam smul, lees weer die Skrifgedeelte en gesels oor hoeveel meer pret dit is om die lekkernye saam te geniet.

Ons teks, Handelinge 2:42-47, vorm die hoogtepunt van ‘n aangrypende hoofstuk in die Bybel. Handelinge 2:1-41 vertel die verhaal van die Pinkster-gebeure in Jerusalem. Die Heilige Gees is uitgestort oor almal wat teenwoordig was, die dissipels het spontaan begin getuig oor Christus, die gawes van die Gees is deur mense van alle nasies ontvang en die mense het tot bekering gekom.  Die mense wat reageer op Petrus se getuienis en hulle tot die Here bekeer, vorm die fondasie van die eerste Christelike gemeenskap. Handelinge 2:42-47 getuig oor hierdie nuwe gemeenskap wat nie te lank gelede nie nog vreemdelinge vir mekaar was. Nou funksioneer hulle as ‘n geloofsgemeenskap in Christus deur die Heilige Gees. In hierdie kort skrywe deel Lukas hoe die gemeente gefunksioneer het nadat hulle met die Heilige Gees gevul is. Ons moet weer die nuus van die dag hoor om herinner te word dat ons ‘n unieke identiteit en rol het in die gemeenskap en land. Ons rol is om daagliks as geloofsgemeenskap saam te bid, saam oor Jesus se lewe en werk na te dink, saam te eet sodat ons kan fokus op Christus, sodat ons gefokus kan bly. Ons rol is nie om saam te kla nie, maar deur stil te raak, saam te bid en te eet, te onderskei wat Jesus van ons vra. Wat vra Christus van ons as gemeente in hierdie gemeenskap en hierdie land? Hoe vra Christus julle om om te gee vir mekaar en ander?

Laai af: Word – PowerPoint