Genesis 29:15-28 – 30 Julie

Negende Sondag in Koninkrykstyd

Vertel gewoon die verhaal dramaties oor met Familietyd, met behulp van ‘n goeie Kinderbybel of ‘n video soos hierdie een. Of gebruik hierdie karaktersHier is ‘n inkleurprent. Die preekriglyn sluit aan by Jakob se verhaal in Haran by Laban en sy twee dogters, Lea en Ragel, wat in drie episodes verspreid oor twee hoofstukke vertel word.

Die aanloklikheid van selfsugtige en onregverdige gewin, is ‘n sterk tema in ons teks. Bekommernis oor of hunkering na materiële vooruitgang (in een of ander vorm) is ‘n noodsaaklike element om die motivering te verstaan van verskeie spelers in soveel van die Genesis-verhale. In Genesis 29 is Laban nie net bereid om Jakob te verneuk nie, maar dit lyk ook of hy geensins besorgd is oor die lot van sy dogters nie. Lea eindig as ongeliefde of gehaat (29:31). Ragel se huwelik sal vir ewig deur haar suster se teenwoordigheid geskend wees. ‘n Bitter wedywering sal tussen die twee ontwikkel, wat verhoudings in die volgende generasie sal beïnvloed. Dit alles, opgeoffer ter wille van selfsugtige gewin. Laban se optrede is ‘n duidelike getuienis van die sterk aantrekkingskrag van materiële vooruitgang tot nadeel van menslike verhoudings. Presies dieselfde sou van Jakob in Genesis 25 en 27 gesê kon word. Jakob het materiële vooruitgang bo verhoudings gestel en was bereid om bedrog te gebruik om sy sin te kry. Hier ly Jakob aan die hand van ‘n ander man wat identiese gedrag toon. Soos in Genesis 25 en 27 ly verskeie verhoudings daaronder. Wanneer Jakob na Laban kyk, sien hy homself

Die evangelie in die verhaal is God nietemin aan die werk is. God snoer dié familie tot ‘n magtige volk saam ten spyte van die onderlinge jaloesie en konflik.  Dit getuig van God se genade wat van bedrieërs bedienaars maak, en van vyande vriende. Nie dat dit ‘n eenvoudige proses was nie. Maar God se genade vir hierdie geloofsgemeenskap skep inderdaad ‘n toekoms nie net vir hulleself nie, maar vir die hele wêreld. Die verhaal wys ook hoe die uitmergelende stryd wat Jakob moes voer om sy merk in die lewe te maak nie net vir hom rykdom gebring het nie, maar veral sy karakter gebou het en van hom ‘n sterk mens en dienskneg van God gemaak het. Hierna sou dié stryd tot ‘n worsteling met God self oorgaan wat ‘n onuitwisbare vastigheid in sy verhouding met God gebring het.

Laai af: WordPowerPoint

Genesis 28:10-19a – 23 Julie

Agste Sondag in Koninkrykstyd

Carolyn Brown stel voor: 1) Vertel die gebeure van die vorige hoofstuk, waar Jakob sy broer Esau se seën op bedrieglike wyse ontvang, so dinamies moontlik. 2) Lees nou die fokusteks. 3) Maak dan iets van die gedenksteen/ herinneringsteken deur aan die kinders klippe uit te deel om iewers tuis in ‘n spesiale omgewing te plaas as ‘n terrein waar jy veral van die Here se teenwoordigheid bewus is. 4) Haar woorde… As worship homework give young worshipers (or all worshipers) small rocks to take with them this week.  Challenge them to place the stone somewhere where they feel they felt God close saying “God is in this place.”  (A garden shop is a good place to find such stones.)

Chuck Colson, wat saam met president Nixon deel was van die Watergate-skandaal, het gesê: “I found myself behind razor wire and the confine of a federal prison for several months for my part in Watergate … The real legacy of my life was my biggest failure – that I was an ex-convict. My greatest humiliation – being sent to prison – was the beginning of God’s greatest use of my life.”

Vandag handel ons teks oor iemand wat hom ook vasgeloop het. Dit gee vir ons ‘n goeie inleiding om oor die lewe van Jakob, die man wie se naam in Hebreeus “verdringer” beteken, na te dink. Hy vlug van die huis af nadat dinge daar vir hom skeefgeloop het. Eers het hy sy broer, Esau, bedrieg met die eersgeboortereg en toe het hy en sy ma saamgespan om die siek en blinde Isak te mislei sodat Jakob sy pa se seën kon ontvang. Hy vlug vir sy lewe van die suidelike stad Berseba af na die noordelike stad Haran. Op pad soontoe het Jakob die nag ‘n besonderse ontmoeting met God. Want, dit is in sulke oomblikke dat ons ons diepste behoefte besef en God kan deurbreek in ons lewe. Ons redding gaan eerstens oor wat God gedoen het, en tweedens oor ons antwoord op wat God gedoen het. Eers wanneer ons weet ons hoop rus in God se vrye genade, sal ons hoop ferm word en ons hart sekerheid hê. Dit is die les wat Jakob, die bedrieër, die onderkruiper moes leer. Hy was ‘n man wat gewoond was om deur knoeiery te kry wat hy wil hê. Hy moes leer om nie afhanklik te wees van die knoeiery van sy hart nie, maar afhanklik van God se vrye genade, sy uitverkore liefde en sy onpeilbare ontferming.

Laai af: WordPowerPoint

Genesis 25:19-34 – 16 Julie

Sewende Sondag in Koninkrykstyd

Vertel gewoon die verhaal van vandag se teks, dalk met behulp van ‘n mooi Kinderbybel. Hier is illustrasies wat jy kan gebruik terwyl jy die storie vertel. Hier is ‘n video van hul verhaal, of die video. Hier is lekker baie inkleurprente om van te kies. Isak se verhaal begin met twee belangrike mededelings wat die tafel dek vir die ontwikkeling van die res van sy verhaal. Die eerste mededeling is sy huwelik met Rebekka waarin spesifiek genoem word dat sy die suster van Laban die Arameër was. Die kort verwysing laat ‘n mens alreeds in afwagting van die verhaal van Jakob se stryd met Laban om ‘n billike hantering waarin Laban se gierigheid gekontrasteer word met God se genade in die lewe van Jakob. Die tweede mededeling is dat Rebekka kinderloos was wat Isak in beweging gebring het om die Here te vra vir ‘n kind vir Rebekka. Die profesie wat oor haar uitgespreek is van tienduisende kinders het nie gou tot vervulling gekom nie. Gelukkig was sy ook die vrou wat Isak regtig liefgehad het. Isak word met sy gebed vir haar ‘n Intersessor, net soos sy pa dit was, en hier spesifiek vir sy eie familie. Die feit dat dit amper in een sin vertel word dat sy gebed verhoor is, moet ons egter nie mislei dat dit vinnig gebeur het nie. Dit neem amper net so lank vir hom as vir Abraham om sy eerste kind uit die hand van die Here te ontvang, want die tweeling word eers twintig jaar later gebore. Isak se gebedskrag en liefde vir sy vrou staan duidelik uit as kenmerke van dié Godsman.

Die gebedsverhoring na twintig jaar beteken egter nie dat dit ‘n tydperk van maanskyn en rose ingelei het vir Isak en Rebekka nie. Inteendeel. Dit stel hulle bloot aan die enorme magspel wat van vóór die tweeling, Esau en Jakob, se geboorte al tussen die twee seuns geheers het. Die kinders het letterlik mekaar probeer “breek” in die baarmoeder! Rebekka is só raadop daarmee dat sy die Here raadpleeg oor die oorlog wat binne haar gevoer word. Die antwoord voorspel ‘n voortdurende stryd soos dit inderdaad tussen die Edomiete (Esau) en Israeliete (Jakob) van dié punt af geheers het. Dit het eeue later selfs ‘n poging tot ‘n Joodse volksmoord deur Haman, ‘n Edomiet, in die verhaal van Ester, ingesluit. Meesal het die skoen egter aan die ander voet gepas, want Israel het talle veldslae teen Edom gevoer en gewen.

Die krisisse en ellende waarin die aartsvader-familie beland, in hierdie geval Isak en Rebekka, Esau en Jakob, laat mens opnuut weer raaksien hoe groot God is. Ten spyte van menslike mislukking stu God se verlossingsplan voort. Sonder om self die sonde en ellende te veroorsaak, neem God ook die slegte in diens en bereik God se doel in die geskiedenis. Ook in ons tyd is daar meer as genoeg verhale van gewone mense wat buitengewone goeie dade in hierdie tye verrig. Mense sonder mag en status wat geroepe gevoel het om betrokke te raak en hulpverlening aan mense sonder heenkome te bring. God wat ten spyte van menslike foute en tekortkominge steeds mense (kerke, gelowiges en ongelowige mense uit alle kontekste) gebruik het om verligting aan noodlydendes te bring. Hierdie verhale dui aan dat God ons insluit by God se werke op aarde. God roep en bemagtig ons in ons gebroke konteks roep om kreatief ‘n verskil te maak. Gelowiges wat bid vir die koninkryk om te kom, is mense wat in gebrokenheid steeds vashou aan God wat met die aarde en al haar mense op pad is. Die beloftes is daar. Die opdragte ook. Gewone mense, onvolmaakte mense, mense soos ek en jy is deel van God se herskepping. Die goddelike uitnodiging is daar. Kom ons speel saam!

Laai af: WordPowerPoint