1 Korintiërs 1:18-31 – 2 Februarie

Vierde Sondag na Epifanie

Die fokusteks bied ‘n goeie geleentheid om ‘n doopherinnering te doen, wat ook tydens die Familie-oomblik kan plaasvind. Dit kan ingelei word deur ‘n besprekingsvraag waartydens gemeentelede vir mekaar kan vertel wat hulle weet van hulle eie doop ofonthou van hulle kinders se doop. Ons aangrypende teks beklemtoon dat dit nie uit eie verdienste (deur ons eie pogings tot ‘n onberispelike lewe) is dat ons redding ontvang nie, maar slegs deur die genade van God en die kruis van Christus. ‘n Onberispelike en regverdige lewe is dus nie iets om op te roem nie: Ons roem in die Here wat so ‘n lewe moontlik maak. Paulus verduidelik dat die oënskynlike dwaasheid van die kruis en swakheid van God enige wêreldse wysheid en mag troef. Volgens hom kan daar nie op die vermoëns van mense geroem word nie, maar slegs op wat God doen, in besonder deur Jesus Christus, die vernederde en gekruisigde Here. Hierdie boodskap wat spreek van die andersoortige wysheid en mag van God, vorm deel van Paulus se inleidende woorde aan die gemeente in Korinte, ‘n gemeente wat hy self help stig en ‘n noue band mee gehad het.

Laai af: WordPowerPoint

1 Korintiërs 1:10-18 – 26 Januarie

Derde Sondag ná Epifanie

Gesels oor die konsep van “verdeeldheid” deur te praat oor dinge wat saam hoort.  Deesdae kan TV’s nie werk sonder ‘n afstandbeheer nie.  Tandeborsel en tandepasta.  Ketel en deksel.  Kragdraad en kragprop. Of wat van ‘n kul-toertjie? Voorbeeld ingesluit. As jy ‘n storie wil vertel, kan jy gerus kyk na “When Pencil Met Eraser” op Kindle. Potlood teken prente, maar Uitveër vee oral uit en maak in die proses ‘n heel ander prent.  Wanneer Potlood blomme teken, maak Uitveër ‘n paadjie in die blomme.  Hulle hou aan stry, totdat Uitveër Potlood help verstaan dat hulle saam beter is.  Die preekriglyn begin met die verhaal van die gemeente van Korinte. Hulle was ‘n kopseer vir Paulus. Hulle is deur struweling en verdeeldheid gekenmerk. Oor die presiese aard van die Korintiese partyskappe is al baie geskryf. Ons weet egter steeds nie alles oor die destydse situasie nie. Miskien is dit ‘n bedekte seën. Op ‘n manier word ons deel van die destydse storie wanneer ons in ons tyd ook spanning in die kerk en gemeente beleef. Daar is immers altyd ‘n voorlopigheid in ons kerkwees. Ons is kerk in die tyd tussen die eerste en tweede koms van Koning Jesus. Die fokus van Paulus se beredenering moet egter in die oog bly, naamlik dat daar net een Christus is wat gekruisig is. Geen ander geestelike leiers in die verlede, hede of toekoms kan by Jesus Christus kersvashou nie. Ons eenheid lê in Hom.

Laai af: WordPowerPoint

1 Korintiërs 1:1-9 – 19 Januarie

Tweede Sondag ná Epifanie

Met Familietyd kan jy die beeld van ’n spieël gebruik waarin ’n mens na jouself kyk en ’n glas waardeur jy na ander mense kyk om iets uit te beeld van hoe God ons in konfliksituasies gebruik. Onthou ook dat Carolyn C Brown die opmerking maak dat dit waarskynlik die eerste generasie kinders is wat nie briewe ken nie. Doen dus moeite om vir kinders te verduidelik wat ’n brief is. Die preekriglyn begin met die vraag na wat ‘n arme predikant, apostel of gemeenteleier moet doen as hy of sy in ‘n gemeente die een ná die ander geraamte in die kas kry? Veg jy of vlug jy, of sit jy versteen sonder om te weet watter kant toe? Dit is wat met Paulus gebeur het. Hy het ongeveer 18 maande in Korinte gewerk. Hy het werklik moeite gedoen. Toe kom daar ontstellende nuus. Paulus ontvang berig van Chloë se mense dat daar groot probleme in die gemeente is. Wat doen Paulus om die verdeelheid aan te spreek? Sonder om uit selfverdediging beskuldigings uit te deel en mense links en regs te vervreem, begin hy deur die konflik en verdeeldheid terug te bring na identiteit – die gemeente se identiteit in Christus Jesus. Sonder om in ‘n verbale geveg die probleme een vir een aan die kaak te stel, begin Paulus deur die oplossing eers te verwoord. ‘n Gemeente moet oor haarself dink in die lig van hul verhouding met God die Vader deur Jesus Christus. Die identiteit in Christus vra van gelowiges om saam te werk.

Laai af: WordPowerPoint

Handelinge 10:34-43 – 12 Januarie

Eerste Sondag ná Epifanie

Dit is die Sondag voordat die skool begin. Gesels met die kinders oor die jaar wat voorlê. Vertel die verhaal van Petrus en Kornelius. Petrus het nie gereed gevoel om te gaan waarheen God hom gestuur het nie, maar God het hom gehelp. Die Heilige Gees was nie net in Petrus aan die werk nie, maar ook reeds in Kornelius. Die Heilige Gees is ook reeds by die skool. Moedig die kinders aan om in alle mense, juis ook in mense van ander kulture en agtergronde, vir God raak te sien. Carolyn Brown stel voor dat die storie van “The Sneetches” vertel word (video). Ook Max Lucado se boek “As ek maar ‘n groen neus gehad het”, sal goed werk. Die preekriglyn begin met die verhaal van die twee oorlogskepe wat besig was met maneuvers in swaar weer. Die sig was besonder swak weens die mis en die kaptein het by die uitkykpos gebly om ‘n ogie te hou. Kort na skemer laat weet die wag aan die bakboord dat hy ‘n lig waarneem wat blykbaar stilstaan. Die kaptein besef dadelik dat die twee skepe op ‘n botsing afstuur en laat weet vir die seiner om die ander skip in kennis te stel dat hulle ‘n 20-grade aanpassing moet maak. Die boodskap kom terug: “Ek beveel jóú om 20 grade aan te pas.” Die kaptein laat nie op hom wag nie: “Dit is die kaptein wat praat. Verander rigting met 20 grade!” Die antwoord kom terug: “Dit is die tweedeklas-seeman wat hier praat. Dit is beter dat jy jou koers wysig met 20 grade.” Woedend laat die kaptein weet: “Ek is ‘n oorlogskip. Pas jou koers onmiddellik met 20 grade aan!” Die stem aan die ander kant antwoord: “Ek … is ‘n vuurtoring.” Op komiese wyse illustreer hierdie verhaaltjie van Stephen Covey dat omstandighede ons dikwels dwing om ‘n aanpassing in ons denke te maak, anders kan die werklikheid ons dalk duur te staan kom. Sommige noem hierdie tipe van aanpassings in ons lewens ‘n verskuiwing in paradigma. So ‘n paradigma-verskuiwing funksioneer soos ‘n nuwe lens waardeur alles nuut beskou word. Dit impliseer ook nuwe gedrag. Petrus se uitroep “Waarlik, ek begryp nou eers….” (vers 34) dui vir ons daarop dat daar by hom so ‘n paradigma-verskuiwing plaasgevind het. Dit was ‘n kragtige bekering.

Laai af: WordPowerPoint

Jesaja 60:1-6 – 5 Januarie

Epifaniefees

Dramatiseer die besoek van die sterrekykers ahv Matteus se weergawe soos in Die Nuwe Testament vir Kinders. Daar is ook ‘n inkleurprent is beskikbaar. Ons teks begin met ‘n kragtige opdrag in vers 1: “Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig!” Mens kan maar net raai hoe die Ou Testamentiese gelowiges van Jesaja se tyd hierdie woorde gehoor het. Sien, daar was nie juis lig in Jerusalem nie. Nie letterlik nie, maar veral nie figuurlike lig nie. Hierdie woorde kom in ‘n tyd toe dit maar donker gegaan het met Jerusalem. Die agtergrond is die verwoesting van Jerusalem en Juda tydens die ballingskap, dekades vantevore. Nou was die ballingskap verby, maar die heropbou van die verwoeste land het bitter stadig gevorder. Hoe is dit moontlik dat Jerusalem kan opstaan en haar lig laat skyn? Ons teks gee twee redes: Eerstens laat die Here se heerlike en magtige teenwoordigheid oor Jerusalem skyn. Ten spyte van hulle omstandighede is God by hulle en skyn die Here oor hulle! Tweedens staan hulle, helder verlig deur die Here se lig, helder uit in ‘n donker wêreld. Daar is duisternis oor die nasies, die nasies soek lig. Aangesien God se lig oor Israel skyn, sal die nasies na hulle toe stroom in daar lig te vind. Die boodskap van die hele Jesaja 60:1-6 is: “Die Here is getrou.” Hierdie boodskap is veral van belang vir mense wat ervaar dat hulle deur hulle omstandighede oorweldig word. Natuurlik faal ons baie as ligdraers. Dit is nie die einde nie.

Laai af: WordPowerPoint

Jesaja 63:7-9 – 29 Desember

Sondag ná Kersfees

Gesels oor lysies.  Kinders is dalk nog te jonk om lysies te maak, maar dalk maak hulle ouers lysies:  inkopielysies, lyste van wat gedoen moet word.  Dalk het hulle vir Kersvader ‘n lys gemaak van geskenke wat hulle wil hê.  Baie mense maak aan die begin van die jaar ook ‘n lys van goed wat hulle in die nuwe jaar wil doen – ons noem dit “nuwejaarsvoornemens”.  Dalk kan julle jul eie lys van nuwejaarsvoornemens maak, met ‘n paar goed wat lidmate (of net die kinders) voorneem vir die jaar. Vandag se teks is ook ‘n lys, maar mooi geskryf soos ‘n gedig.  Jesaja maak ‘n lys van al die wonderlike goed wat God gedoen het:  Hy het gesê Israel is sy kinders;  God het hulle gered; God het hulle verlos, hulle opgetel en hulle gedra.  Hierdie goed, sê Jesaja, is goed waarvan hy vir ander wil vertel (“verkondig”).    Maak saam ‘n lys van die dinge wat God vir ons gedoen het. Dit gee ‘n goeie inleiding vir ‘n gesprek oor die effek van die ballingskap op die volk van God. Verskeie profete het hulle vooraf gewaarsku dat God se geduld opraak oor hulle sonde en onreg teenoor die medemens. Nou het dit ingesink. Die ballingskap was God se oordeel oor hulle sonde. Hulle het ekonomiese onreg gepleeg, hulself verryk en godsdiens gebruik as ‘n manier om God se guns te koop. Daarvoor het hulle aan die pen gery. God se straf het egter ook ‘n positiewe doel gehad. In hierdie ellende was God besig om hulle nuut te vorm en hulle nuut op te voed as sy kinders.

Laai af: WordPowerPoint

Lukas 2:8-20 – 25 Desember

Kersfees

Dramatiseer die fokusteks ahv Die Nuwe Testament vir Kinders en gebruik die ingeslote woordherkenning wat werk met 13 woorde in die teks wat in ‘n tabel weggesteek is. Die preekriglyn begin met die smagting na ‘n Kersfees sonder vrees. ‘n Kersfees net met genade en hoop. Dit is presies wat ons in die teks in Lukas hoor. Die rede? God se groot ommekeer van alles begin met Kersfees. God betuig aan elkeen wat hoor of lees dat omstandighede nie die deurslag vir die lewe gee nie, dat die lewe anders kan wees. Nee, dat dit inderdaad anders is! Die koms en die lewe en sterwe van die Messias bring nuwe perspektiewe. Dit sluit in die woorde van Lied 478. “vergesigte oop” vir die kerk van Jesus Christus. Die engelekoor sing ‘n loflied by sy geboorte. Saam met die lofsang, hoor ons ook ‘n smeekbede dat dinge nie hoef te bly soos dit tans is nie, dat dit inderdaad kan verander vir die een wat aan Jesus verbind word. Sonder verdienste, net met die goedheid van God … Dit gee hoop in ons “verwarde wêreld”. So, kyk en sien hoe God alles verander. ‘n Baba verander alles.

Laai af: WordPowerPoint

Romeine 1:1-7 – 22 Desember

Vierde Sondag in Advent

Gesels in Familietyd saam oor waarvoor julle dink God julle geroep het. ‘n Lekker storie om hiermee saam te vertel, is “Carl and the meaning of life” deur Deborah Freedman.  Carl is ‘n erdwurm wat in die grond grawe en harde grond in sagte grond verander.  ‘n Veldmuis wonder eendag hoekom Carl doen wat hy doen en Carl begin vir verskillende diere vra wat sy doel is.  Hulle weet nie, maar hulle vertel vir hom hoekom hulle doen wat hulle doen.  Dan hoor Carl ‘n kewer roep.  Die kewer het niks om te eet nie, want hy kan nie in die harde grond grawe nie.  Carl besef sy doel is om die grond sag te maak en hy begin weer werk. Die preekriglyn begin met die onlangse versoeningsgesprek tussen die joernalis Max du Preez en oud-minister Adriaan Vlok. Max het aan die einde daarvan gesê: “Ek verstaan nie mooi wat dit alles beteken nie. Maar ek het geen twyfel nie dat Adriaan Vlok opreg en outentiek is. Wat hy doen en hoe hy nou lewe, is buitengewoon. Was daar maar meer Christene wat hul geloof met soveel oorgawe uitgelewe het.” Dit verskaf ‘n goeie inleiding om oor ons eie bydrae om draers van die goeie nuus te wees.

Laai af: WordPowerPoint

Woord en fees – Advent 2019 tot Koninkrykstyd 2020

Woord en fees is ʼn hulpmiddel vir die voorbereiding van eredienste en die ontwikkeling van preke. Dit volg die seisoene van die kerkjaar en maak gebruik van die teksrooster Revised Common Lectionary, Jaar C.

Die liturgiese voorstelle gee riglyne wat die gebruiker sal help om weeklikse eredienste makliker voor te berei. Woord en fees sluit aan by die seisoene van die kerkjaar. Vir elke seisoen is daar ʼn basisliturgie wat as raamwerk vir die hele seisoen dien.

Agter in die boek is daar liturgieë vir spesiale geleenthede, soos die doop, die nagmaal, begrafnisse en dankoffertyd.

Woord en fees kan gebruik word saam met die ander publikasie in die reeks, naamlik Leesrooster vir lidmate.
Bestel by Bybel-Media.

Laai hier die lys met fokustekste af: Fokustekste – 2019-2020 – Jaar A

Jakobus 5:7-10 – 15 Desember

Derde Sondag in Advent

Vir Familietyd kan jy aansluit by die feit dat dit vir die meeste mense sleg is om net te wag. Om in die kerk stil te sit tot die diens begin. Om by ‘n “stop en ry” te wag. Om by die skool in ‘n ry te staan. Eintlik, die meeste mense raak ongeduldig as hulle moet wag. Ons fokusteks vandag gaan oor wag. Kom ons lees dit in Die Nuwe Testament vir Kinders. Brei dan uit oor hoe moeilik dit is vir boere om te wag dat die reën kom. Duisende boere wag dat God dit laat reën. Maar daar is twee maniere van wag. Jy wag sonder dat jy verstaan hoekom. Of jy wag omdat jy weet daar gaan iets goeds gebeur. Wanneer mamma kolwyntjies maak en nog net die versiersuiker kort, dan vra sy jou om te wag totdat dit klaar is. Dán gee jy nie om om te wag nie. Want na die wag kom daar ’n beloning! Dit is wat ons teks ook sê. Jakobus sê dit is hoe ons moet wag op Jesus se wederkoms. Nie soos mense wat nie weet waarvoor ons wag nie, maar soos mense wat weet dat hulle vir iets spesiaals wag. Die Here sal ons kom haal, daarvan kan ons seker wees. Die preekskets begin met ‘n soortgelyke verhaal van die versoek van ‘n graad 1-seuntjie vir Kersvader. Hy skryf dat Kersvader hom moet help met ‘n boelie in die klas. Om dan die teks verder uit te lê vir almal van ons wat met boelies sukkel. Want daar is boelies van alle ouderdomme, aktief besig op alle lewensterreine. Om ons te bemoedig, gee Jakobus vir ons drie voorbeelde, drie soorte geduldige mense: landbouers, die profete van ouds en Job. Waarin lê ons diepste motivering om geduldig te wag en te volhard? Dáárin dat ons die Here se verskyning, teenwoordigheid, wederkoms, binnekort verwag. Ons weet die Here kom dan as Regter. Daarom neem ons die oordeel ook nie in ons eie hande nie.

Laai af: WordPowerPoint