Esegiël 18:1-4, 25-32 – 1 Oktober
Agtiende Sondag in Koninkrykstyd
Die eerste Sondag in Oktober is Wêreldnagmaalsondag. Dit sal goed wees om as gemeente op hierdie Sondag saam met gemeentes oor die wêreld heen die nagmaal te vier. Carolyn C Brown gee ’n paar kindervriendelike idees om Wêreldnagmaalsondag te vier. Volg hierdie skakel daarvoor of vra ’n ouer en twee jongmense om die verhaal van die pa en die seuns op te voer. Dit sal nodig wees om vir die kinders die woord “wil” te verduidelik. Dit word op twee maniere in die teks gebruik: “Nee, ek wil nie” en: “Wie van die twee het die wil van hulle vader gedoen?” Gesels met die kinders oor wat God se wil is. Vir verdere idees en ’n oulike voorstel vir ’n kindervriendelike skuldbelydenis, gaan kyk gerus na “Worshiping with children”.
Die preekskets veronderstel dat die prediker die hele hoofstuk verreken, nie bloot die twee seleksies van die Leesroosterteks nie. Ons teks kom uit ‘n tyd vol woelinge en swaarkry in die geskiedenis van God se volk, die ballingskap. Dit kon die volk op twee maniere lamlê. Dit kon aan die een kant hulle fatalisties maak. Hulle pa’s en ma’s het drooggemaak, en nou is hulle in ballingskap sonder hoop en sonder uitkoms. Hulle dra die kollektiewe skuld van die verlede en sal as gevolg daarvan verlore gaan. Dit kon hulle egter aan die ander kant verlei om hulleself te verontskuldig, hulle ouers die skuld te gee, en nie self verantwoordelikheid te aanvaar nie. Hulle kon hulle eie aandeel aan die verlede en die persoonlike verantwoordelikheid vir hulle gedrag in die hede geringskat.
In beide gevalle kon hulle dus besluit om te doen wat hulle wil. Hulle sou kon lewe met die idee dat om God te dien en Hom te gehoorsaam, geen doel dien nie. Hulle sou kon reken gehoorsaamheid al dan nie gaan nie saak maak vir God nie. Hulle lot is in elk geval verseël en sal op niks uitloop nie. Doen dan liewer presies wat ‘n mens self wil, en vergeet van God en sy gebod.
Daarom moedig Esegiël hulle aan om aan die een kant met die hoop te lewe dat God regverdig en genadig is. Nie net behoort alle mense aan Hom nie (18:4). Dit is duidelik beslis nie God se wil dat mense sterf nie, selfs nie die goddelose nie. “My wil is dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” (18:23). Soos Petrus lank hierna sal sê: “Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9).
Aan die ander kant moedig hy hulle aan om persoonlik verantwoordelikheid te neem om volgens God se wil te lewe, reg te laat geskied en reg te doen (18:5). God seën dié wat met “‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees“, lewe (18:31), wat toelaat dat Hy hulle lewens beheer. En dít het nie net ‘n persoonlike uitkoms nie, maar ook een vir die geslagte, soos die woord in Eksodus 20:6 ons herinner: “Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.”
Só sluit Esegiël ook vir ons die toekoms oop. Dit is ómdat ons die hoop het dat God regverdig en genadig is, dat ons onsself aan Hom kan toewy en aan Hom gehoorsaam kan lewe. Só sê Paulus immers in Filippense 2: “12Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”