Eksodus 33:12-23 – 22 Oktober

Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Deel met die kinders iets van die breër verhaal van Eksodus 33-34. Begin deur te vra wie soos hul ouers lyk – pa se neus, ma se oë, ens. (Hier is ‘n oulike video wat met die beginsel werk.) Vertel dan in jou eie woorde – so dramaties as wat jy kan – die gebeure van Eksodus 33:18-23. Verwys ook na Eksodus 34:29ev, wat vertel dat Moses se gesig geblink het nadat hy tyd by God spandeer het.  Hier is ‘n redelik uitgebreide idee van hoe jy die blinkende gesig kan uitbeeld. Maar jy kan dit eenvoudiger doen. Gebruik ‘n prent – soos die een – en kleur die gesig met glow-in-the-dark verf in. Gee na die familie-oomblik vir kinders afdrukke van die prent en as daar min kinders is, glow-in-the-dark “penne” om vir Moses ‘n gesig te teken. Anders kan hulle ‘n gewone gesig teken en inkleur. Op bladsy 144 hiervan is ‘n oulike prent wat jy sou kon gebruik tydens jou vertelling. Hier is ‘n oulike video as jy eerder dit wil gebruik om die storie te vertel. Die eerste video bo trek die vertelling deur na ons toe. Soos wat ons dalk pa se neus het, en Moses God se heerlikheid reflekteer, reflekteer ons iets van God se karakter wanneer ons tyd met God spandeer. Gee vir die kinders glow-stick hangers (necklaces), om die idee van ‘n gesig wat gloei tuis te bring.

In ons teks ontmoet God en mens mekaar in ‘n lewenskrisis. Ons kry wonderlike insig in die diepe geheimenis van God se betrokkenheid by ons, maar ook die diepe misterie wat God omhul. Hoewel ons God nooit kan deurgrond of kan ken nie, sien ons in die misterie van God tog God se liefdeshart vir die mens, vir ons. Ons teks is inderdaad geheimenisvol. Jy voel of jy iets daarvan verstaan, maar net sodra jy dit probeer verwoord dan voel dit of die betekenis jou ontglip. Die misterie wat die teks omring weerspieël iets van die misterie van die Een waarvan ons in die teks lees.  Ons kry ‘n prentjie van die wonderlike teenwoordigheid van God by sy mense – van sy goedheid en genade.  Tog lees ons nie net van God se teenwoordigheid nie, maar ook van sy verberging of afstandname.  Anders gestel: die teks skets vir ons ‘n beeld van ‘n God wat ‘n misterie is, maar weliswaar ‘n misterie wat sy liefdeshart ontbloot.

Laai af: WordPowerPoint

Matteus 22:1-14 – 15 Oktober

Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

‘n Eenvoudige opsie met kindertyd is om vir kinders te vertel dat die kerk God se fees of partytjie is waarheen hulle elkeen genooi is.  By hierdie partytjie sing ons, behoort aan groepe soos kategese, neem deel aan bedieninge, ens.  Gee vir die kinders partytjiehoede en, as jy dapper is, ballonne en papier fluitjies. Of gesels oor verjaarsdagpartytjies.  Vra wat hulle by sulke partytjies doen en wie hulle nooi.  Gesels dan oor die gastelys by die fees in die teks:  dit sluit almal in, goed of sleg. God nooi almal na die partytjie.   Jy kan ook verse 11-13 weer lees en verras reageer.  Erken dat dit nie klink soos God of Jesus nie.  Soms is dit nodig om iets te weet van die tyd waarin die Bybel geskryf is.  In Jesus se tyd sou die gasheer spesiale klere vir die gaste gee om by die troue te dra.  Iemand het dus vir hierdie ou klere aangebied, maar hy wou dit nie hê nie.  Hy het na die partytjie toe gekom, die regte kos geëet, maar geweier om die regte klere te dra.

Die preekriglyn sluit aan by die feit dat die atmosfeer gespanne is in ons teks. Die toneel is die laaste week van Jesus se bediening in Jerusalem. Dit is kort voor die viering van Paasfees. Vir meer as drie jaar het Hy op verskeie plekke en maniere verkondig dat Hy deur God gestuur is, nie net as profeet nie, maar as die Christus en selfs meer, as die Seun van God. Die Jode het ’n groot verwagting gehad dat die beloofde Messias sou kom om hulle te bevry. Dit is van kleintyd af by hulle ingeprent dat hulle deel van God se uitverkore volk was en dat Hy hulle na die spesiale feesmaal van die Messias uitgenooi het. Die meeste Jode neem nou sterk standpunt teen Jesus in. Die Joodse godsdienstige leiers verneem nie God se stem en God se aanraking in Jesus van Nasaret nie. Een van hul probleme met Jesus is juis dat sy bediening te oop is. Vir Jesus loop die pad na God deur die omhelsing van God se genade. Jesus is God se inisiatief om stukkende mense en gebrokenes op te tel. Teen hierdie agtergrond vertel Jesus die gelykenis van die uitnodiging na die bruilofsfees. ‘n Koning reël ‘n bruilofsfees vir sy seun, en nooi gaste. Die genooides wil nie kom nie. By ‘n herhaling van die uitnodiging raak van hulle aggressief en geweldadig. Dan word die uitnodiging na die straathoeke geneem, en aan slegtes en goeies gerig. Hulle kom wel, en maak die saal vol. Daar is egter ‘n indringer, met wie die koning afreken. Dit lui tot ‘n stelreël of spreuk waarmee die wyse waarop God se genade werk toegelig word.

Vir die Jode was dit ondenkbaar dat die “mense van die straathoeke” by die bruilofsfees kon wees. Die Joodse leiers het gedink hulle weet wie by die Goddelike banket ingesluit sal word. Dit sou Jode wees wat volgens die Joodse verstaan reg lewe. Die Jode het gemeen hulle het God en God se bedoelinge volmaak uitgepluis. Hulle het gedink hulle weet wie God is en wie by God welkom sal wees. Hulle het ook geweet nie-Jode is nie welkom nie. Hulle was immers, soos 4 Esdras sê, minder werd as ‘n spoeg op die straathoek. Ons moet diep en selfondersoekende nadink oor ons eie onsluiting by die koninkryk van God. En ons moet diep nadink oor wie ons uitsluit, oor wie ons dink nie kwalifiseer nie. Want ons mag die skok van ons lewe kry. In die koninkryk van God kies mense nie wie in en uit is nie. Ons mede-banketgangers word aan ons geskenk. Hulle bestaan uit mense wat in ons oë goeies én slegtes is. Daarom pas dit ook dat ons eerder ‘n meer inklusiewe as ‘n eksklusiewe ingesteldheid handhaaf. En terwyl ons dikwels onder druk is, daagliks ons kruis saam met Jesus moet opneem, en onder verwerping en verhardheid ly, kan ons mekaar tog bemoedig met die vaste wete dat ons wat glo deur God by die ewige banket ingewag word. Dit is die bruilofsfees van die Lam.

Laai af: WordPowerPoint

Matteus 21:33-46 – 8 Oktober

Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

By Missio.org.za is daar ‘n paar oulike idees wat aansluit by Eksodus 20. Vandag se fokusteks is baie moeilik vir kinders. Jy kan daarby aansluit deur te fokus op vergifnis en tweede kanse. John Stevens leer hier vir ‘n mens hoe om ‘n stou te knoop en te knip, sodat dit na die tyd lyk asof die tou weer heel is. Hy gesels oor sonde en knoop die tou vir elke sonde. Dit breek die verhouding – knip die tou. Maar God herstel dit. Jy sal ‘n paar keer moet oefen, maar dis ‘n baie treffende beeld! Jy kan ook die gedagte van tweede kanse tuisbring deur vir ‘n paar vrywilligers ‘n baie moeilike taak te gee, soos bv om ‘n balletjie in ‘n koppie te gooi. Dan gee jy hulle ‘n paar kanse om te probeer. Skuif uiteindelik die beker nader om dit makliker te maak. Terwyl hulle probeer, kan julle gesels oor hoe ons verkeerd doen, maar God vir ons nog kanse gee. Of sluit aan by die hoeksteen. Speel iets soos Jenga en gesels oor hoe belangrik ‘n stewige fondament is. ‘n Mens kry deesdae groot Jenga-stelle, of maak ‘n stel met groot, gelyk houtblokke.  Hier is ‘n inkleurprent van ‘n wingerd.

Jesus vertel hierdie gelykenis in die laaste week van sy bediening voor sy kruisiging. Die konflik tussen Hom en die Joodse godsdienstige leiers bereik ‘n hoogtepunt in hierdie week. In hierdie situasie word die gelykenis eintlik ‘n profesie van Jesus se sterwe op aandrang van die Joodse leiers. Matteus 21:33-46 word simbolies soos volg verstaan:

  • Die grondbesitter/eienaar van die wingerd is God
  • Die wingerd is die nasie Israel
  • Die boere/huurders is die mense van Israel
  • Die slawe is die profete
  • Die seun is Jesus
  • Die ander huurders is heel moontlik die kerk.

Matteus beklemtoon nog meer as Lukas en Markus dat die bedreiging van die geloofsgemeenskap nie net van buite af kom nie, maar uiteindelik van binne af – die bedreiging kom van diegene van wie jy dit die minste verwag. Van mense wat leiding neem in die geloofsgemeenskap, maar op verraderlike manier hulle vergryp aan die voordele van die geloofsgemeenskap net vir eie gewin en dié vervolg wat die Here en sy woord ernstig neem – dws wat vrug wil dra en aan die Here self wil offer. Dit is egter ‘n versoeking om te dink die gelykenis gaan net oor ander mense – die leiers van destyds, of gemeenteleiers vandag wat ontrou aan die Here geraak het. Nee, die gelykenis gaan ook oor myself. Die vraag is ook of ek die gesag van die Here erken en leef soos Hy dit wil hê. Dit beklemtoon dat my deelname aan die gemeentelewe dikwels kan gaan oor my eie voordeel in plaas van oor die navolging van die Eienaar. Maar, die gelykenis skets nie net die bedreiginge nie. Dit skets ook die voorsiening van die Here wat die einste klip wat verwerp word, die belangrikste een in die wingerd maak. Die gevare wat leierskap baie keer vir die geloofsgemeenskap inhou, kan nie uiteindelik die krag van die hoeksteen, Jesus, troef nie. Elkeen wat Hom teenstaan, sal vermorsel word in die oordeel van God. En elkeen wat hulle aan Jesus onderwerp, sal vrug dra in sy koninkryk. Ek moet weet dat ek aan hierdie Eienaar behoort. Alles wat ek is en het. Daarom moet ek myself en elke terrein van my lewe, ook elke besitting waaroor ek beskik, konstant teruggee aan die Here en onder sy heerskappy plaas.

Laai af: WordPowerPoint