Romeine 8:6-11 – 26 Maart

Vyfde Sondag van Lydenstyd

Lees die teks uit ‘n kinder-vriendelike vertaling. Hoor by kinders wie van hulle weet wat “time out” is en hoe dit by hulle huise werk.  Dit is wanneer jy stout is en iets verkeerd gedoen het, en jy moet vir ‘n rukkie lank in die hoek gaan staan of op ‘n spesifieke stoel gaan sit.  (Jy kan dit selfs demonstreer met ‘n spesiale stoel.)  Dit is glad nie lekker nie.  Terwyl jy daar sit, moet jy dink aan jou verkeerde keuses en die gevolge daarvan.  (Noem ‘n paar voorbeelde.) Vandag se teksgedeelte sê dat die Gees van Jesus ons vrygemaak het van sonde en straf. Dit is soos om vrygelaat te word van “time out”.  Omdat ons vrygemaak is, maak ons beter keuses en probeer ons om minder sonde te doen.

Die preekriglyn sluit aan by die vraag “Who wants to live forever?” wat Freddy Mercury en die popgroep Queen in 1986 gevra het. Dié lied, geskryf deur Brian May, ‘n lid van die groep, het ‘n emosionele toneel in die rolprent Highlander begelei. Dit is interessant dat sowel gelowiges as ongelowiges positief op hierdie vraag antwoord. Die soeke na onsterflikheid is so oud soos die mens. Op fisieke vlak is enigiets van preparate tot terapie, meditasie tot lagterapie en modderbaddens op vreemde plekke algemeen vir dié op soek na die geheim van ‘n ewige bestaan op die ondermaanse.

Alhoewel die wêreld se pogings futiel is (die mens is soos die gras, vandag hier en more weg), weet ons as gelowiges dat daar wel ‘n geheim bestaan wat ewige lewe waarborg. Ongelukkig is daar onder gelowiges nie eenstemmigheid oor presies hóé hierdie geheim nagejaag moet word nie. Vir talle gaan dit oor strenger wettisisme terwyl ander ‘n meer vrye en bevryde lewe as geheim voorhou.

Vir mense wat beleef dat God hulle op grond van sy genade vrygemaak en boonop regverdig verklaar het, is daar egter die heerlike nuus van die Heilige Gees wat juis gegee is om gelowiges se oë gevestig te hou op Christus terwyl hulle vernuwe word. Soos daar ‘n skepping aan die begin was, is daar nou herskepping. Hierdie proses geskied buite ons om. Ons lewer nie ‘n bydrae om dit suksesvol te maak nie. Dit is egter ‘n proses wat ons ten diepste betrek. Soos medisyne wat in ‘n navorsingsomgewing buite ons betrokkenheid ontwikkel is, moet ons dit inneem om te baat daarby. ‘n Mediese voorskrif wat in die medisynekassie bly, het immers geen kans om te werk nie.

Laai af: Word – PowerPoint

Efesiërs 5:8-14 – 19 Maart

Vierde Sondag van Lydenstyd

Gesels oor die konsepte van lig en donker. Jy kan by die kinders hoor of hulle al donkerkamertjie gespeel het. Of, as jy dit veilig kan doen en dapper is, kan jy iemand behoorlik blinddoek en dan laat rondloop. Jy kan natuurlik ook aansluit by hoe donker dit is wanneer daar in die aand kragonderbrekings is. Gesels oor wat gebeur wanneer ons in die donker probeer leef. Laat almal aan die gesprek deelneem. Bv, ons stamp ons tone, ons loop in goed vas, ens. Wanneer ons dan ‘n flits aansit, voel ons veiliger en weet ons waar om te loop. Ons teks sê ons moet leef as kinders van die lig. Gesels dan oor werke van lig en werke van duisternis.

Die preekriglyn sluit aan by die groot konsternasie in politieke geledere toe mnr. André de Ruyter, uittrede hoofbestuurder by Eskom, in ‘n onderhoud met eNCA van die grootskaalse betrokkenheid van senior politici by korrupsie vertel het. De Ruyter is summier van sy pos, waaruit hy reeds bedank het, onthef – ‘n maand vroeër as waarop hy aanvanklik uit diens sou tree. De Ruyter is ook gedreig om ‘n klag by die polisie te gaan lê, anders sal hy vervolg word. Asof hy die polisiediens nie reeds ingelig het nie. Goedheid geregtigheid en waarheid – volgens ons teks die vrug van die lig – is nie oral ewe welkom nie. Dit is egter die lewensstyl wat pas by geloof en navolging van Jesus Christus. Maar kom ons gee ‘n tree terug en kyk eers na die inhoud van ons teks voor ons oor die boodskap nadink.

Laai af: Word – PowerPoint

Romeine 5:1-11 – 12 Maart

Derde Sondag van Lydenstyd

Met Familietyd pak stoele om ‘n tafel in die liturgiese ruimte. Sit water op die tafel neer. Nooi ‘n paar kinders om by die tafel te kom sit, maar los ‘n paar stoele oop. Skink vir die kinders water. Vra vir die kinders:

  • Is almal wat hier moet wees aan tafel?
  • Is die tafel so vol soos dit kan wees?
  • Hoe voel julle wat nie by die tafel kom sit het nie?

Lank het mense gedink net sommige mense is welkom by Jesus. Ons sien selfs vandag nog hoe mense maak asof party mense welkom is en nie ander nie. Maar God wil almal hier hê. Daar is genoeg plek vir almal by God. Dit is nie ons taak om te besluit wie welkom is en wie nie. Almal kan van Jesus se lewende water drink. Dit is nie regte water nie, maar die regte water wat ons drink, herinner ons dat Jesus vir almal is. Laat al die kinders nou op die stoele sit, al moet hulle stoele deel of op mekaar se skote sit. Beklemtoon dat almal by God welkom is en dit vra dat ons vir ander mense plek sal maak.

Die preekriglyn sluit aan by die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Die hartseer en woede waarmee hierdie stryd beskou word, bied ‘n eietydse beeld om Romeine 5:1-11 te belig. In die stryd tussen lande het ons tipies met vyandigheid tussen min of meer gelykes te doen. Die swaarkry, lyding en gevolge van die stryd is ‘n direkte resultaat van die vyandigheid tussen die partye. Hoeveel in ons eie kring kan nie getuig oor die vyandigheid tussen familie en vriende nie en die verskriklike gevolge daarvan? Die vyandigheid veroorsaak ook dat die toekoms donker en onseker word. Wie dink immers aan more as jy vandag moet oorleef? Waar daar vyandigheid is, is die hoop maar dun gesaai. Daar is eerder wanhoop en troosteloosheid. Hierdie is universeel van aard. Jy hoef maar net nuus te kyk waar die lot van vlugtelinge of oorlogslagoffers uitgebeeld word. Mense wat besorg is oor vandag dink nie verder nie; hulle kan nie! Die Romeinebrief verwys ook na die vroeëre vyandigheid tussen Skepper en skepsel, vanweë die sonde. Maar soos die evangelie in die brief ontvou, blyk dat daar nou vrede gekom het. Hierdie vrede het baie groot gevolge vir ons lewe as gelowiges wat danksy Christus se verlossingswerk met God versoen is. Dit gee ook vir ons ‘n vaste en seker toekoms.

Laai af: Word – PowerPoint